Boer kyk hulpeloos toe terwyl skape vrek

Meer as 250 skape het weens die storm gevrek. (Foto: Verskaf)

Waarskuwing: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

“Ek kan die gevoel van hulpeloosheid aan niemand beskryf nie. Ek is bevrees die gru-toneel sal vir ewig in my kop afspeel.”

Só sê die jong Vrystaatse broer Heyns Theron wat Maandag meer as 250 vervangingsooie in ʼn kitshaelstorm verloor het. Die skape se wol, wat pas afgeskeer is, het boonop ook tydens die storm natgereën en die boerdery het honderde duisende rand se skade gely.

Theron boer saam met sy pa en broer, Danie sr. en Danie jr., op ʼn plaas tussen Kroonstad en Heuningspruit. Hulle is Dinsdag onkant gevang toe daar om 14:30 byna 100 mm se reën met hael in net 15 minute op hul plaas geval het.

“Ons het die reën sien kom, maar het glad nie enige hael verwag nie. Toe dit eindelik begin hael, was daar niks wat ons kon doen nie,” sê Theron.

“Ek het by die skape probeer uitkom, maar dit het so kwaai gehael ek kon nie ʼn voet buite sit nie.”

Hy sê die skape is net ʼn week vantevore geskeer, wat hulle erg blootgestel het. Boonop was daar geen bome of voldoende beskutting beskikbaar nie omdat byna die helfte van die plaas sowat drie maande gelede deur ʼn wegholbrand verwoes is.

Gevolglik het die meeste van die skape verkluim, terwyl ander deur die hael doodgeslaan is.

“Dit is hartseer wanneer dit waarvoor jy jou lewe lank werk in 15 minute uitgewis word.”

ʼn Aantal plaaswerkers het later die dag gehelp om die 253 skape in massagrafte te begrawe.

“Die skape is so hard [deur die hael] getref dat hulle merke op hul lywe gehad het. Die diere was ook vir onder meer bloutong en slenkdalkoors gespuit en was elk geval nog nie geskik vir menslike gebruik nie,” sê hy.

“Nietemin was dit ʼn harde slag omdat ons nie net die skape verloor het nie, maar ook hul wol wat in die stoor gepak was en hewige reënskade opgedoen het.”

Die pa-en-seuns-boerdery het nagenoeg R150 000 se skade opgedoen toe die wol beskadig is en die skape wat gevrek het, is meer as ʼn halfmiljoen rand werd.

Nietemin bly Theron positief.

“Gelukkig het ons nog 50% van die kudde wat elders gewei het, oor.

“Ons sal nou weer van voor af begin om ons kudde op te bou. Die ramme sal so middel‑November by die ooie gesit word om hopelik die kudde se getalle weer te laat groei.”

Die gemeenskap het intussen ook byeengekom en dié boerdery in sy oomblik van nood bygestaan.

“Die hoop wat ek in die mensdom verloor het, het ek binne ʼn dag terug gekry,” sê hy.

“Ons het reeds hulp in die vorm van voer en so aan gekry, maar elke oproep en boodskap wat sê ‘ons bid vir julle’ het ons net soveel gehelp soos die fisieke donasies.”

Vrystaat Landbou (VL) het intussen gesê die organisasie sal boere wat skape weens die reën- en haelstorms verloor het, uit hul hulpfonds bystaan.

  • Diegene wat ʼn bydrae wil maak, kan VL se webblad vir die bankbesonderhede besoek en “skaapsterftes” as verwysing gebruik of Pierre van Eden, voorsitter van die boerevereniging in die omgewing, by 083 692 9716 kontak.
  • Skakel Heyns Theron by 082 707 8408 om direk ʼn bydrae aan dié boerdery te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Di ·

Sjoe ek kan myself net indink hoe hartverskeurend dit moet wees! Moet nooit moed verloor nie, daar sal altyd ‘n uitweg op julle pad kom. Bid, glo en vertrou is al wat mens kan doen in hierdie moeilike omstandighede. My gebede is dat mense hulle harte en beursies wyd sal oopmaak vir julle.

Papsak ·

Oe my hart is so seer oor dit ek eet glad nie skaspvleis nie ek lief hulle te veel maar sterkte daar vir hulle met verlies van daai skape

Ou Baardbek ·

My vriend Heyns, en jou familie, ……….. net ons boere kan regtig begryp waardeur julle gaan!! Daarmee sê ek nie dat ander mense nie met ons kan identifiseer nie, maar die werklik persoonlik wroegings kan ander mense nie ten volle ervaar of beleef nie! Net so kan die gevoel wat ‘n mens ervaar wanneer ‘n uitgehongerde dier in jou oë kyk en smeek vir iets om te eet, nie “oorvertel” word nie; jy moet dit self ervaar!

Shakespeare ·

HOEKOM tref ” moeder natuur ” altyd die weerlooste mense ?

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Pretoria-Oos kan vanaf 01 April tot 17 Oktober swartryp kry.
My oorlede vader was sy hele lewe ‘n skaapboer in die Oos-Vrystaat en Noord-Natal. En hy het die standpunt streng gehandhaaf om nooit sy skape voor 15 Desember te skeer nie. Selfs dan kan geskeerde skape vrek indien die reën langdurig is en gepaard gaan met koue. Om met Merino skape te boer is nie kinderspeletjies nie.

Al my meegevoel met en bede vir Heyns Theron se opset.

Willi ·

Boere kla gedurig oor die droogte, brande, peste en plae, maar as die natuur oorneem dan word daar weer gekla oor die skade van oorstromings , hael, brande ens. Waneer kom die klaag liedere nou tot ‘n einde?. Dit is die natuur Finish en klaar!!! Leef daarmee saam of moet nie boer nie, dis ‘n risiko soos enigiets anders in die lewe of neem assuransie uit vir bedryfs verliese of gebeurlikhede.

Chantel ·

Dis so hartseer, een van ons streek se boere. Ons bid vir julle

minnie muis ·

sterkte….. en dan will die joker en sy terroriste meen hul sal kan boer…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.