
DP van Huyssteen. Foto: Facebook
DP van Huyssteen, ʼn 42-jarige boer van die plaas Kalkput naby Viljoenskroon in die Vrystaat, is dood nadat hy Maandagmiddag ʼn brand op sy plaas probeer blus het.
Van Huyssteen en sy werkers was Maandagmiddag omstreeks 16:30 besig om mielies te stroop toe ʼn brand in die landery uitgebreek het.
Konst. Peter Kareli, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag die voorval aan Maroela Media bevestig. “Die man het sy buurman gebel en hulp ontbied om die brand te blus,” het hy gesê. “Die buurman het met ʼn waterkar na die plaas gery om te help om die brand te blus.”
Van Huyssteen het in die landery ineengestort en sy buurman het hom na ʼn hospitaal gejaag. Hy is op pad oorlede. “Hy is vermoedelik weens rookinaseming dood, maar ʼn nadoodse ondersoek word gedoen om dit te bevestig. Die moontlikheid bestaan ook dat hy ʼn hartaanval gehad het,” het Kareli bygevoeg.
Die Viljoenskroon-polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.
Van Huyssteen word Vrydag om 10:00 uit die Afrikaanse Protestantse Kerk in Viljoenskroon begrawe.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Dis hartseer, die dood vra nie hoe oud is jy nie, en tog, 42 is nog baie jonk.
Ek wonder waarom het die brand ontstaan.
Innige simpatie aan elke persoon wat ‘n rol in sy lewe gespeel het.