Boereverneukery: Boere ‘ingedoen’ met hulpverligtingspakket

(Foto: Maroela Media)

Boere wat koopbewyse ingevolge die departement van landbou se hulpverligtingsprogram ontvang het, kla dat hulle veel meer moet opdok vir spesifieke produkte. Boonop word hulle oënskynlik voorgesê oor waar om dié produkte te koop.

ʼn Bestaansboer van Limpopo wat ʼn koopbewys van R8 300 ingevolge die program gekry het, het vandeesweek aan Maroela Media gesê hy moes boonop naastenby 25% van dié koopbewys afstaan aan die sogenaamde agent wat die koopbewys aan hom voorsien het.

Nadat hy aansoek gedoen het vir die hulppakket, het amptenare sy plaas besoek en ondersoek ingestel en hy is daarna goedgekeur om ʼn koopbewys te ontvang.

Die boer, wat nie sy naam genoem wil hê nie, boer al die afgelope 20 jaar in die Polokwane-omgewing met beeste en bokke. Hy sê hy benodig veral items soos spuite, maar word nou voorgesê oor waarvoor hy sy koopbewys moet aanwend.

Die verskaffer wat hy moet gebruik, is ook bitter ver van sy plaas af.

Om die kroon te span, sê dié boer, is die pryse op die lys van produkte waaruit hy kan kies, heelwat hoër as wat hy gewoonlik by byvoorbeeld die plaaslike koöperasie sou betaal.

(Foto: Maroela Media)

Hy het dié pryslyste verskaf en Maroela Media het ʼn informele vergelyking van sommige van die pryse op die lys met dié van ander diensverskaffers gedoen.

Volgens die pryslys vra die voorgeskrewe diensverskaffer byvoorbeeld R221 vir 40 kg-melassemeel, terwyl ander verskaffers se pryse tussen R135 en R155 vir dieselfde produk wissel. Die voorgeskrewe diensverskaffer se prys vir 200 g-Karbadust is R112, terwyl ʼn ander verskaffer R90 vra.

Die verskaffer se prys vir Terramycin, ʼn breëspektrumantibiotikum wat gereeld by veral veeboerdery gebruik word, is R509 vir 110 ml. Ander verspreiders se pryse wissel tussen R110 en R300 vir ʼn soortgelyke produk. Die prys vir ʼn 5 liter-breëspektrumontsmettingsmiddel soos Virukill kos R825 ingevolge die pryslys, terwyl ʼn ander winkel R589 hiervoor vra.

Die voorgeskrewe verskaffer kan ʼn dagoud-kuiken teen R13 verskaf, terwyl ander produsente se pryse op R6,00 begin.

“Die middelman is besig om geld te maak. Ons wil gaan koop waar ons gewoonlik die beste pryse kry en ons wil dié produkte koop wat ons benodig.”

ʼn Oos-Kaapse bestaansboer, wat ook gevra het om anoniem te bly, sê sy is ook na ʼn voorgeskrewe verskaffer verwys. Die vrou, wat in die Port Elizabeth-omgewing ʼn bestaansboerdery bedryf en onder andere haar eie saadbank opgebou het, sê sy was agterdogtig oor die verskaffer omdat sy perseel oënskynlik in ʼn woongebied was.

“Hoe kan dit ʼn verskaffer wees?” vra sy.

Die DA sê dit is tyd vir die minister om die departement van landbou reg te ruk. (Foto: Maroela Media)

In haar geval het die sogenaamde agent gesê sy moet produkte op ʼn lys kies en dit dan by ʼn verskaffer op Uitenhage gaan oplaai. Sy sê sy het nog glad nie van dié plek gehoor nie.

“Ek wil self na ʼn winkel toe gaan en kies wat ek benodig. Ek verstaan glad nie hierdie proses nie,” sê sy.

Die vrou het ʼn koopbewys van R2 600 ontvang en sê sy het by die departement navraag gedoen oor die proses omdat sy bang is sy word ingedoen. Sy het nog geen terugvoer op haar navrae gekry nie.

Noko Masipa, ʼn DA-lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, het intussen ʼn beroep op die minister, Thoko Didiza, gedoen om ʼn onafhanklike oudit van die noodleniging-koopbewysprogram te doen.

Masipa sê daar was talle klagtes oor beweerde ongerymdhede en selfs moontlike bedrog.

“Volgens dié klagtes het verskeie mense dokumente vervals en voorgegee om boere te wees wat hulp benodig en só toegang tot noodfinansiering gekry. Hierdie kamma-boere probeer nou glo die hulp-koopbewyse aan ware boere – wat desperaat hulp nodig het – verkoop.”

Masipa sê die ondersoek moet ook bepaal of enige van die departement se amptenare by beweerde ongerymdhede betrokke is.

“Die wanbestuur en verrotting wat [Didiza se] departement teister, en wat ongetwyfeld bygedra het om hierdie vals eise moontlik te maak, moet gestuit word. Enige betrokke amptenare moet ook aanspreeklik gehou word,” sê hy.

Masipa sê sukkelende kleinboere sit nou hande in die hare.

“Hulle kan nie hulle produksie-insette bekom nie, omdat die stelsel wat oënskynlik ontwerp is om hulle te help, geïnfiltreer is deur misdadigers en die departement nie lyk of hy enigiets doen om dit te stuit nie.”

Hy sê die departement se onvermoë om boere se inkomste te beskerm plaas die land se voedselsekerheid in die gedrang en mag nie langer voortduur nie.

“Dit is tyd vir die minister om haarself en die departement aanspreeklik vir hul mislukkings te hou.”

Die departement van landbou het nog nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Baardman ·

Wanneer gaan die massas besef dat die regering geensins iets voel vir hulle eie mense nie. Dit gaan alles om hulle eie sakke vol te stop. Maar kom stemdag, word die kruisie maar weer agter die ANC se naam getrek

Tienie ·

Ja Swaer.

Dit is nou wat gebeur as “sekeres” in poste aangestel word sonder die nodige kwalifikasies.

Al wat die ANC kan ruk is die lands burgers se sakke maar om hulself reg te ruk, hulle sal dit nie doen nie want dan is daar minder vir hulself.

My gedagtes dwaal deesdae baie terug na wat van ons eie mense ons teen gewaarsku het.

“Hulle” kan nou maar netnie regkom nie…..

Miskruier ·

Die dag as daar miljoene hongeres staan en wag vir kos, moet hul terug dink aan die tyd.

Willem ·

So word daar gegee met die eenhand en meer terug gevat met die anderhand

Jaco ·

As wit boere nou ingedoen word, kan ek dit nog verstaan, want dan is dit maar net deel van die alewige “straf” vir apartheid. MAAR hier word ‘n opkomende boer, van DIESELFDE ras as die anti-wit ANC-regering ingedoen. Hoe dan nou? Wat dan nou van Black Lives Matter en human rights en ubuntu?

jzjz05 ·

Die nuwe Apartheid in volle swang. Maar party keer gee hulle ook nie om om hul broers aantevat nie net so lank hul hul eie sakke kan vul.

LANA is ELANè ·

So tipies, iemand maak seker weer agteraf geld hieruit.
Weereens tenderbedrog se tentakels strek wyd!

Mariana ·

Daar is geen keer, die skelm, korrupte spul verneuk tot hul eie mense wat iets vir hulself probeer doen. Hoe verstaan mens dit. Die ANC gee regtig niks om vir sy eie mense nie. Die wat hom aan bewind hou, maar daai einste our people sal weer presies op dieselfde plek daai kruisie gaan trek en dan verder aansukkel. Voel jammer vir daai opkomende boere.

Yvonne ·

Is daar nou waarlik nerens n plek wat nie besmet is met korrupsie nie…dit is om van naar te word

Mieke ·

Die ANC kan homself net nie help nie… korrupsie is ingeëts in sy hele wese.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.