Boewe loop hulle vas teen boere, polisie

Foto ter illustrasie. (Foto: Netcare 911/Twitter)

Sewe mans wat Woensdag ʼn transitovoertuig in Limpopo van kontant en gewere beroof het, het sleg tweede gekom toe hulle hul vasloop teen die polisie en plaaswag in die omgewing.

Vier van die verdagtes is gevolglik doodgeskiet en nog drie gewond. Laasgenoemde is deur die polisie in hegtenis geneem. Dié voorval word nou voorgehou as bewys van wat bereik kan word wanneer die polisie en gemeenskap saamwerk.

Die verdagtes het Woensdag omstreeks 16:00 ʼn transitovoertuig van G4S, asook die begeleidingsvoertuig tussen Hoedspruit en Tzaneen in ʼn lokval gelei. Volgens die polisie het die boewe in drie voertuie, naamlik ʼn Toyota Fortuner, ʼn Ford Focus en ʼn Toyota Hilux, gery.

“Die verdagtes het na wat verneem word op die begeleidingsvoertuig geskiet totdat dit stilgehou het. Hulle het toe die bestuurder en sy span van hul amptelike vuurwapens gestroop en op hulle geskiet. Die bestuurder is gevolglik dood,” het lt.kol. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, Saterdag gesê.

Die verdagtes het daarna die transitovoertuig agternagesit en daarop geskiet totdat dié voertuig ook tot stilstand gekom het. Die bestuurder en sy span is uit die voertuig gedwing en ook van hul wapens gestroop voordat hulle by die nabygeleë bosse ingejaag is.

Die rowers het springstof gebruik om toegang tot die geld te kry en is toe vort met ʼn onbekende bedrag kontant. Dit is toe dat die Hoedspruit-plaaswag geaktiveer is.

“Die plaaswag het die verdagtes se voertuig gesien ry in die rigting van Hoedspruit en hindernisse in die pad geplaas om die voertuig tot stilstand te dwing,” sê Maluleke.

Die verdagtes het op die plaaswaglede begin skiet en die boere het uit selfverdediging teruggeskiet. Vier verdagtes is gedood en drie beseer. Die polisie het een van die verdagtes op die plek in hegtenis geneem, maar die ander twee kon daarin slaag om in die bosse te verdwyn.

“Die twee gewonde verdagtes is Donderdagoggend met behulp van die plaaswag se honde en helikopter agternagesit en in ʼn taxi op pad na Acornhoek opgespoor. Hulle het die gesteelde kontant by hulle gehad.”

Die drie verdagtes is tans onder polisiebewaking in die hospitaal en sal “binnekort” in die hof verskyn. Die Valke het op die kontant en wapens beslag gelê.

Die polisie soek egter nog na ʼn onbekende aantal verdagtes.

Die Hoedspruit-plaaswag het Saterdag in ʼn verklaring gesê hulle het ʼn baie goeie verhouding met polisie in die omgewing én verskeie spesialiseenhede van die polisie en werk goed saam met wetstoepassingsowerhede.

“Ons is slegs daar om hulle te ondersteun en te versterk.” Hulle het gerugte ontken dat polisielede van die toneel weggehardloop het en sê die polisie was daar “van begin tot einde”.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by Action Society, sê hierdie geval wys hoe belangrik gemeenskapsveiligheidstrukture is om misdaad in Suid-Afrika te bekamp.

“Die ideaal is dat die gemeenskap, polisie en privaat sektor met mekaar saamwerk. In hierdie geval was privaat hulpbronne van sleutelbelang om die misdadigers voor te keer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.