Bok-ellende op Mount Smart

’n Skitterende Richie Mo’unga op pad na die Springbok-doellyn. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Ná die opwinding van verlede naweek se goeie vertoning teen die Wallabies op Loftus Versfeld, het die All Blacks die Springbokke sopas met ʼn harde slag terug aarde toe gebring.

Die tuisspan het die wedstryd met 35 – 20 op die Mount Smart-stadion beklink om nóg ʼn rugbywedstryd in Auckland te wen; ʼn stad waar hulle laas in 1994 aan die verloorkant was.

ʼn Skitterende openingsalvo het die grondslag vir hul uiteindelike oorwinning gelê.

Richie Mo’unga het die toutjies vanuit sy losskakel-posisie getrek, Shannon Frizell het vir Willie le Roux op pad na die doellyn gestoomroller en die Springbokke het met hul swak spel by die afbreekpunte as’t ware balbesit op ʼn skinkbord weggegee.

Binne ʼn oogwink het die All Blacks ʼn voorsprong van 17 – 0 geniet; hulle het meer fases as Eskom opgebou, hulle het die luggevegte loshande gewen en die arme Suid-Afrikaners het beslis aan bomskok gely.

Dit was eers met die toetrede van Malcolm Marx en RG Snyman in die tweede helfte dat die vlam van hoop weer so ʼn bietjie vir die Springbokke begin flikker het.

Die Bomb Squad-spelers het vir ʼn welkome adrenalien-inspuiting by die afbreekpunte en op die aanval gesorg en Marx is welverdiend met die besoekers se eerste drie van die kragmeting beloon.

Cheslin Kolbe duik oor vir sy drie. (Foto: Michael Bradley/AFP)

ʼn Rukkie later het ʼn goeie Le Roux-aangee ʼn vlieënde Cheslin Kolbe langs die kantlyn weggestuur en skielik kon die besoekers weer saamgesels op die telbord.

Maar enige praatjies van ʼn moontlike terugvegpoging is vinnig deur Will Jordan en Mo’unga se drieë kortgeknip.

Kwagga Smith se gryp-en-laat-wiel-drie het darem vir oulaas vir ʼn Bok-glimlag of twee gesorg, maar toe was dit reeds te laat.

Mathieu Raynal het ook lekker met sy fluitjie saamgepraat, terwyl daar in die eerste helfte beslis is dat Kolbe se driedrukpoging ongeldig was.

Kan ʼn mens die rede vir die loesing voor hul deur lê?

Nee.

Die All Blacks het hierdie wedstryd reeds in die eerste helfte in die sakkie gehad.

  • Puntemakers:

All Blacks: Drieë: Aaron Smith, Shannon Frizell, Will Jordan en Richie Mo’unga. Doelskoppe: Mo’unga (3). Strafskoppe: Mo’unga (3).

Springbokke: Drieë: Malcolm Marx, Cheslin Kolbe en Kwagga Smith. Doelskop: Kolbe. Strafskop: Faf de Klerk.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.