Borgtog vir agt blouligbeamptes

Van links: Shadrack Kojoana, Johannes Matome Mampuru, Pomso Joseph Mofokeng, Harmans Madumetja Ramokhonami, Phineas Molefo Boshielo, Churchill Mpakamaseni Mkhize, Lesibana Aggrie Rambau en Moses Fhatuwani Tshidada (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die agt geskorste polisiebeamptes wat daarvan beskuldig word dat hulle motoriste op die N1-hoofweg in Fourways aangerand het terwyl hulle die adjunkpresident vervoer het, se borgtogaansoeke is Dinsdag in die landdroshof in Randburg, Johannesburg, goedgekeur.

Shadrack Kojoana, Johannes Matome Mampuru, Pomso Joseph Mofokeng, Harmans Madumetja Ramokhonami, Phineas Molefo Boshielo, Churchill Mpakamaseni Mkhize, Lesibana Aggrie Rambau en Moses Fhatuwani Tshidada is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.

Volgens landdros Hleziphi Mkhasibe word die beskuldigdes op borgtog vrygelaat op voorwaarde dat hulle nie kontak met enige van die staatsgetuies op enige wyse mag hê nie. Hulle mag ook nie deur middel van iemand anders kontak met dié getuies maak nie.

Beskuldigde vier Harmans Madumetja Ramokhonami (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Beskuldigde sewe Lesibana Aggrie Rambau het ten tyde van die aanrandingsvoorval in die motor bly sit (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Mkhasibe het ook beslis dat die beskuldigdes nie met die staat se ondersoeke op enige wyse mag inmeng nie.

Die saak is tot 27 September uitgestel en indien enige beskuldigde versuim om vir enige hofverskyning op te daag, sal ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik word.

“Dit sal nie in die belang van geregtigheid wees om die beskuldigdes in aanhouding te hou nie,” het Mkhasibe aangevoer.

Volgens Mkhasibe is al agt beskuldigdes se woonadresse geverifieer en is daar geen bewyse dat hulle die verhoor sal ontduik of vlug nie.

“Die beskuldigdes het bande hier in Gauteng en het ook hul paspoorte aan hul werkgewer oorhandig.”

Die landdros het verder gesê dat daar geen bewyse is  nie dat die beskuldigdes die funksie van die kriminele stelsel in gevaar sal stel of die publieke orde of sekuriteit sal ontwrig wanneer hulle op borgtog vrygelaat word.

“Dit is in hierdie stadium duidelik dat die beskuldigdes ook nie weet wie die klaers is nie en daar is geen bewyse dat hulle die getuies sal intimideer nie.”

Van links: Shadrack Kojoana, Johannes Matome Mampuru, Pomso Joseph Mofokeng, Harmans Madumetja Ramokhonami, Phineas Molefo Boshielo, Churchill Mpakamaseni Mkhize, Lesibana Aggrie Rambau en Moses Fhatuwani Tshidada (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die agt beskuldigdes se borgtogaansoekverrigtinge het reeds verlede Maandag begin, met die staat wat uit die staanspoor gesê het dat hy dit teenstaan.

Adv. Elize le Roux het aangevoer die borgtogaansoek moet teengestaan word vir die veiligheid van die lid van die publiek wat ʼn video van die voorval op sosialemediaplatforms gedeel het. Dié lid het volgens die staat doodsdreigemente ontvang. Le Roux het aangevoer dat die lid van die publiek se gesin in gevaar gestel sal word indien die beskuldigdes op borgtog vrygelaat word.

Die verdediging het egter ontken dat die beskuldigdes verantwoordelik is vir die dreigement en sê die staat bespiegel oor die bron daarvan en het geen klinkklare bewyse nie. Mkhasibe het Dinsdag met dié stelling van die verdediging saamgestem.

Volgens Mkhasibe is die saak té haastig en voortydig op die hofrol geplaas, met die staat wat nie deeglike ondersoekwerk gedoen het nie.

“Die staat het ʼn swak saak teen die beskuldigdes en het nie daarin geslaag om te bewys dat dit in die belang van geregtigheid sal wees dat die beskuldigdes nie op borgtog vrygelaat moet word nie,” het die landdros gesê.

“Die staat het in die hof erken dat hy nog nie die selfoon opgespoor het wat gebruik is om die dreigementsboodskap na die lid van die publiek te stuur nie. Hy het ook nog nie eens die lid van die publiek wat die video geneem het, geïdentifiseer nie en daar is ook nog nie duidelikheid of hierdie persoon wel in die hof sal getuig nie.

“Die staat het ook aangedui dat hy nie ʼn identiteitsparade gaan hou nie (sodat die beskuldigdes geïdentifiseer word). Ek glo die staat het ʼn goeie rede hiervoor.”

Van links: Shadrack Kojoana, Johannes Matome Mampuru, Pomso Joseph Mofokeng, Harmans Madumetja Ramokhonami, Phineas Molefo Boshielo, Churchill Mpakamaseni Mkhize, Lesibana Aggrie Rambau en Moses Fhatuwani Tshidada (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die beskuldigdes staan tereg op altesaam 12 aanklagte wat insluit die rig van ʼn vuurwapen, roekelose en nalatige bestuur, kwaadwillige saakbeskadiging, aanranding met die doel om ernstig te beseer, dwarsboming van die gereg en die dreigement van aanranding.

Die klagtes spruit uit ʼn aanranding wat op 2 Julie op die N1-hoofweg in Fourways plaasgevind het en op video vasgevang en versprei is.

Daar kan in die video van die voorval gesien word hoe beamptes van die polisie se BBP-beskermingsdienste drie insittendes uit ʼn Volkswagen Polo langs die snelweg pluk voordat dié mans herhaaldelik geskop word. Die polisiebeamptes spring dan terug in hul BMW’s en jaag weg.

Die agt beskuldigdes en ander het Mashatile daardie dag na sy huis in Midrand begelei. Die drie slagoffers is weermaglede, maar hulle was nie aan diens ten tyde van die voorval nie.

ʼn Beëdigde verklaring van Kojoana is Maandag in die hof voorgelees waarin hy sê dat hulle verantwoordelikheid was om “Nommer Twee” (Mashatile) te beskerm en die situasie in bedwang te bring.

Volgens Kojoana het die weermaglede in die Polo in die motorstoet probeer indruk en verskeie kere van die linker- na die regterbaan gewissel. Die motor het glo teen ʼn hoë spoed gery.

Die beamptes het die voertuig onsuksesvol tot in die linkerbaan probeer dwing, sê Kojoana.

Volgens die beskuldigde het hulle omtrent 40 minute ná die voorval by Mashatile se huis aangekom en die voorval onmiddellik aan die relevante persoon in beheer aangemeld.

Lees meer oor die saak hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johan ·

Hoekom kruip die manne agter maskers weg?Te geelgat om hul gesigte te wys?Toe nie so braaf nie,kruip agter die unifom en blou ligte weg!

piet ·

Is hulle nou te bang om hulle gesiggies te wys? Foeitog, was braaf met baie buddies en met wapens teen min teenstand. So terloops – is daai mechanic nog aan die weghardloop wie sy vrou/girl friend so aangerand het by sy werksplek?

Emily ·

Hier gaan niks van kom nie, kyk maar uit en julle sal sien, Nog kriminele wat gaan wegkom.

Juanita ·

Almal vra hoekom kruip hulle weg agter maskers. Dit is mos wat boewe doen. In die geval is hulle net agterstevoor. Geen masker toe die misdaad gepleeg is nie maar nou lyk hulle so in die hof.

ES ·

Maar wat van die doodsdreigemente wat die persone ontvang het wat die video van die aanranding op sosiale media gedeel het? Dit gaan tog te lekker.

Oosieoos ·

Baie swak besluit gaan nou die getuies intimideer verseker. Skandelik hoe misdadigers beskerm word

HPJ ·

As oud Polisieman en Speurder van 40 jaar diens kan ek nou vir jou se die Staat het n probleem met identifikasie Hier is geen formele uitkenning parade gehou nie Daarby is dit nie duidelik dat die video goed genoeg is vir gesig identifikasie nie So as die beskuldigdes on algehele ontkennig verweer het gaan die staat sukkel om hulle binne die beprkings van die Strafproses wet op die toneel te plaas Of fit met opset is of nalatig is kan ek nie se nie Maar dat fie Verdedig beter lyk as die staat is n feit

Roek ·

Stem 100% saam met jou !!was ook daar en baie lank in die howe gewerk !!!

Albie ·

As die agbare no 2 in n voertuig by die aanval was,en niks daaraan gedoen het nie,keur hy dit mos goed en is ook net so skuldig aan aanranding!

SjN ·

Kla die wegkruipers/bangbroeke ook sommer aan omdat hul nie te voet op n snelweg mag loop nie.

Philip ·

Nommer twee het dan gese dat hy nie teenwoordig was kort na die misdaad gepleeg is nie of het sy spindokters met n ander strategie na vore gekom.

Plaaskind ·

Hoekom word dit toe gelaat dat hul gesigte weg gesteek mag word vir die publiek, wys dat ons sien hoe lyk die terroriste….

Niklaas ·

Vreesloos was hul daar op die teerpad. Nou skielik is die manne erg beskeie en skaam . Waarom wil hul nou nie daai dapper gesigte wys nie.

JohanR ·

Waar in die wereld in enige ander hof sal beskuldiges ooit hulle gesigte soe mag bedek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.