BP staak lugvaartbedrywighede in SA

OR Tambo Internasionale Lughawe (Foto: ANA/verskaf)

Die Britse brandstofreus BP het besluit om al sy lugvaartaktiwiteite en -bedrywighede in Suid-Afrika op te skort, insluitend die verskaffing van brandstof aan vliegtuie by plaaslike en internasionale lughawens in die land.

Die presiese rede vir BP se besluit is nie bekend nie, maar die DA bespiegel nou dat Suid-Afrika se noue politieke bande met Rusland moontlik die oorsaak kan wees.

Hamlet Morule, hoof van kommunikasie en buitelandse sake by BP Suider-Afrika, het Donderdag aan Maroela Media gesê die maatskappy se besluit is “as gevolg van Air BP se huidige globale sakestrategie” geneem. Wat presies hierdie strategie behels, is nie bekend nie.

“BP kan bevestig dat die maatskappy sy kliënte in kennis gestel het van sy besluit om op 31 Maart vanjaar lugvaartbrandstofaktiwiteite by die lughawens in Oos-Londen en George te staak. BP het reeds op 31 Januarie sy dienste aan die Kaapstad Internasionale Lughawe onttrek.

“BP Suider-Afrika het verder ’n besluit geneem om bedrywighede by die OR Tambo Internasionale Lughawe te staak, en sal net tot 1 Mei vanjaar by die bestuur van hierdie lughawe betrokke wees. Ons lugvaartaktiwiteite by die King Shaka Internasionale Lughawe sal ook op 30 April vanjaar gestaak word.”

Morule sê BP bly in hierdie oorgangstyd daartoe verbind om met alle belanghebbendes saam te werk om te verseker dat kliënte en die land nie nadelig geraak word as ʼn direkte gevolg van BP se uittrede uit Suid-Afrika se lugvaartbedryf nie.

 Bande met Rusland dalk oorsaak 

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor energie, pak die skuld vir BP se besluit op die ANC se “verdoemende ondersteuning van Rusland se toenemende aanslag op Oekraïne”, asook die regerende party se weiering om die Russiese weermag se “blatante vertrapping van menseregte” te veroordeel. 

“Air BP se uittrede kan die begin wees van ʼn uitgebreide beleggingsonttrekking uit Suid-Afrika deur Europese ondernemings, wat een van ons grootste handelsvennote is.”

Mileham verwys ook na ʼn voorval verlede jaar waar twee Russiese vliegtuie nie brandstof van groot internasionale brandstofverskaffers by OR Tambo en die Kaapstad Internasionale Lughawe kon kry nie. Die betrokke brandstofverskaffers moes voldoen aan die sanksies wat hul tuislande teen Rusland te midde van die oorlog in Oekraïne ingestel het.

“Om hierdie dilemma in die toekoms te vermy, het sommige verskaffers soos Air BP gekies om met hul voete te stem deur Suid-Afrikaanse lughawens heeltemal te verlaat. As die ANC-regering voortgaan met sy pro-Rusland-standpunt, sal meer verskaffers in Air BP se voetspore volg,” sê Mileham.

Hy sê die ANC het gekies om Rusland en sy president, Wladimir Poetin, te beskerm, eerder as die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Die ANC-regering het egter nie net geweier om sy standpunt oor Rusland te hersien nie, maar boonop sy Russiese vriende, deur die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), verseker dat Suid-Afrika ʼn nuwe brandstofplan sal aanvaar om ʼn scenario te hanteer waar ‘’n gesanksioneerde vriend van die Suid-Afrikaanse regering diens en brandstof benodig’.”

Mileham beskryf Acsa se besluit om Westerse sanksies teen Rusland te omseil, deur die verskaffing van brandstof oor te neem en daardie verantwoordelikheid aan PetroSA uit te kontrakteer, as “ondeurdag”. Hy sê dit kan uitgebreide gevolge vir Suid-Afrika se lugvaartbedryf hê, aangesien nie Acsa of PetroSA die kundigheid het om sulke bedrywighede op skaal uit te voer nie.

“Nadat vier van die vyf vliegtuigbrandstofraffinaderye in die land gesluit het, het Suid-Afrika aangewese geraak op ingevoerde brandstof vir vliegtuie. “Die belangrike vraag wat gevra moet word, is of Acsa en PetroSA dié komplekse internasionale brandstofverskaffingskettings sal kan bestuur ten einde ’n bestendige voorsiening van vliegtuigbrandstof aan Suid-Afrikaanse lughawens te verseker.

“Met die brandstofvoorsieningsuitdagings wat onlangs by OR Tambo en die Kaapstad Internasionale Lughawe aangemeld is, kan ’n vertrouenskrisis binnekort oor ons lughawenetwerk ontstaan, ​​met rampspoedige gevolge vir die ekonomie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.