Brand op Tafelberg versprei

(Foto: SANParks – Table Mountain National Park, Facebook)

Bykomende brandbestryders en ’n helikopter is ontplooi om te help om ’n brand wat Vrydagaand op Tafelberg uitgebreek het te blus.

Die brand was teen 12:45 nog nie in bedwang gebring nie en het verder versprei.

Volgens Philip Prins, brandbestuurder van die Tafelberg Nasionale Park, het die brand Vrydag omstreeks 20:00 aan die Kasteelpoort-kant in Fonteinkloof uitgebreek.

Die brand het teen Saterdagoggend teen die steil hange van die berg, langs die westelike gedeelte van die boonste kabelkarstasie, versprei.

(Foto: SANParks – Table Mountain National Park, Facebook)

Hierdie gedeelte is onbereikbaar vir grondspanne.

“Brandbestrydingspanne van die Tafelberg Nasionale Park en die Stad Kaap se brand-en-reddingsdienste werk al heeldag onverpoos om verspreiding van die brand te keer, waar dit moontlik is,” sê Prins.

“’n Totaal van 30 brandbestryders van NCC Wildfires is op die toneel, met meer grondspanne op pad.”

Working on Fire (WOF) is ook Saterdagoggend gekontak om ’n helikopter te ontplooi, wat voortdurend saam met die grondspanne werk. Brandbeheerpogings word ook voortgesit totdat die brand in bedwang gebring is.

Die Tafelberg-kabelkar het sy dienste opgeskort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.