Brandbestryder in stasie oorval, beroof

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Phillip Bruwer)

Die Wes-Kaapse polisie ondersoek ’n saak van sakeroof nadat ʼn rower Dinsdag in die vroeë oggendure by ʼn brandweerstasie in Kaapstad ingebreek en ʼn brandbestryder beroof het.

JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het gesê ʼn man het omstreeks 01:30 toegang tot die Belhar-brandweerstasie deur ʼn badkamervenster op die tweede verdieping verkry waarna hy ʼn brandbestryder gekonfronteer het.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die verdagte het die brandbestryder met ’n mes gedreig en toe van ʼn selfoon en halsnoer beroof. Die slagoffer is met skoenveters vasgebind.

Volgens Smith het die verdagte daarna probeer om toegang tot ʼn ander brandbestryder se kamer te verkry, maar dié deur is egter deur ander brandbestryders toegehou waarna die verdagte uit ʼn venster op die tweede verdieping gespring het.

Die brandbestryders het die man agterna gesit waarna hy oor ʼn muur gespring en laat spaander het.

“Die [rower] was gelukkig om te kon ontsnap sonder om in hegtenis geneem te word. Hy het gevlug deur van ʼn tweede verdieping te spring en op die grond te val, net toe die brandbestryders hom wou aankeer en in hegtenis neem,” het Smith gesê.

Niemand is in die voorval beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

Miskien kan die man opleiding verskaf oor hoe om te spring sonder om seer te kry …aan die brandweer

Pieter du plessis ·

Hoekom die brandweer stasie as hulle minder teenstand by die polisie stasie sou kry?

MW ·

Breek ‘n brand gisteroggend teen 5h30 op my dorp uit, ou woonstel gebou. Tussen ons sekuriteitswag en ‘n paar buitelandse kafee eienaars het hulle hande gevat dat die mense kon afspring, onder andere ‘n baba en kinders. Brandweer, 3 blokke weg, neem langer as halfuur om op te daag en het blykbaar nie idee gehad hoe om die waterslange te gebruik nie. ‘n Blanke wat verby ry moes uitspring en hulle touwys maak? By ander geval het ‘n huis afgebrand en die een vroulike bestryder glo geweier om in te gaan aangesien haar nylon sou vlam vat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.