Brandbestryders spook deurnag teen Kaapse brand

Brandbestryders spook om die vlamme in die omgewing van Jonkershoek te blus. (Foto: Stellenbosch Munisipaliteit/Twitter)

’n Veldbrand wat vyf dae gelede in die Franschhoekvallei ontstaan ​​het, het intussen deur Jonkershoek en al langs die bergpieke tot in die omgewing van Blaauwklippen in Stellenbosch versprei.

Dít ondanks ʼn bemanning van 236 brandbestryders en 24 brandweervoertuie se pogings om die vlamme te blus. Twee brandbestryders het reeds beserings opgedoen en word in die hospitaal behandel.

Jo-Anne Otto, woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, sê brandbestryders het deurnag gespook om die vlamme te blus. ʼn Nuwe span het intussen die brandbestryders afgelos.

Die brand word in dié stadium deur ʼn kombinasie van digte plantegroei en sterk wind gedryf. Om sake te vererger, sal die kwik Saterdag tot in die 30’s styg met ʼn sterk bries wat na verwagting later vandag sal toeneem.

Brandbestryders spook om die vlamme in die omgewing van Jonkershoek te blus. (Foto: Stellenbosch Munisipaliteit/Twitter)

Volgens Otto is geen sterftes of skade aan eiendom in dié stadium aangemeld nie. Enkele inwoners van ʼn informele nedersetting is wel na ʼn gemeenskapsaal in Cloetesville verskuif.

“Dit was nie ʼn ontruiming nie, maar eerder ʼn besluit in die beste belang van die inwoners se veiligheid. Die digte rook en as wat weens die brand ontstaan, is vir baie mense problematies.”

Sou die toestande dit vandag toelaat, sal lughulpbronne ingespan word om die sporadiese brandlyn in die hoër pieke te blus. Die digte rook en sterk wind maak dit egter gevaarlik om te vlieg, sê Otto.

Die veldbrand is aanvanklik Sondag in die Overberg aangemeld waarna dit Maandag laatmiddag die pieke van die Banhoekberg buite Franschhoek bereik het. Die brand het later na die omgewing van die Bergrivierdam versprei.

Die brand is Donderdag weg van die R45 en landerye herlei en was omtrent 68% in bedwang toe die windrigting verander en hoë temperature die brand oor die bergpiek en na die digbewoonde Jonkershoekvallei gedryf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.