Die polisie in Oos-Londen in die Oos-Kaap ondersoek ʼn saak van brandstigting en sakeroof ná ʼn winkel in die Oriental Plaza Maandagoggend afgebrand het.
AO Hazel Mqala, woordvoerder van die polisie, het gesê die brand het Maandag om 02:50 by Bamjees Cash & Carry uitgebreek.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die oorsaak van die brand is ook nog nie bekend nie.
Volgens Mqala word die skade op sowat R3,5 miljoen beraam.
Die brandweer kon volgens Mqala betyds ingryp en die brand in bedwang bring voor dit na ander winkels in die winkelsentrum kon versprei.
Volgens die eienaar van die winkel word dié perseel net vir stoorgeriewe vir meestal elektroniese ware gebruik. Brandbestryders het volgens Mqala van die winkel se eiendom bo-op die dak van die gebou aangetref.
Niemand is tydens die voorval beseer nie.