Brandstigting van watervragmotor word ondersoek

(Foto verskaf deur die SAPD)

Die polisie in die Oos-Kaap stel ondersoek in ná ʼn watervragmotor in Uitenhage aan die brand gesteek is.

Volgens sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, het die bestuurder van die vragmotor gesê hy het Maandagoggend omstreeks 08:30 op die R334 (ook bekend as Rocklandsweg) gery toe hy ʼn versperring in die pad opgemerk het. Buitebande, wat aan die brand gesteek is, het die pad versper.

“Terwyl hy stilhou om ʼn U-draai te maak, het tien persone, gewapen met gevaarlike wapens, hom en sy assistent uit die vragmotor gedwing,” het Nkohli verduidelik. “Die groep het na bewering die vragmotor in die pad gelos, maar dit aan die brand gesteek. Die twee slagoffers was op pad na Port Elizabeth en het geryloop terug na hul maatskappy se kantoor in Uitenhage.”

In hierdie stadium is ʼn motief vir die aanval nog nie bekend nie. “Die aanvallers het glo gesigmaskers gedra en is onbekend. Enigiemand met inligting word versoek om lt.kol. Tabitha Peter te kontak by 082 319 9200. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adam ·

Dit behoort maklik te wees om brandstigting te verhoed. Rook is nou verbode so verban sigaretaanstekers en vuurhoutjies. Dit is immers nou oorbodig en stokkies vryf behoort mense boonop stresverligting te bied.

Anel ·

Nou natuurlik gaan hulle nie uitgeken word nie! Ek het gewonder wanneer dit so gaan begin. Dink net hoe gaan plekke van volgende week geroof word want almal dra mos nou masker . Waar jy nie masker mag gedra het in bank nie, wat nou! Sit hoed op of dra hoody, masker, handskoene en jy is reg om te roof. Niemand gaan weet wie dit wss nie, veral nie ras nie. O, ek sien groot moeilikheid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.