Brandstof: Só raak Saoedi-aanval pryse

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Activ-Michoko, Pixabay)

Die brandstofprys sal na verwagting in Oktober styg weens vandeesmaand se hommeltuig-aanvalle op Saoedi-Arabië se olieraffinaderye.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het Vrydag gesê hoewel oliepryse reeds in die eerste twee weke van September gestyg het, het die uitwerking van die aanvalle ’n verdere skerp styging tot gevolg gehad.

Die prys van 95-oktaan-petrol sal na verwagting met 19c per liter styg. Diesel sal na verwagting met 25c per liter verhoog en paraffien met 24c.

Die AA verwag dat 93-oktaan-petrol egter met 4c per liter sal daal.

“Die brandstofprys in Suid-Afrika het binne drie dae ná die aanval met soveel as R1 ʼn liter gespring voordat dit weer effens gedaal het. Dit het van ’n algemeen stabiele prysstruktuur na ’n negatiewe prysstruktuur verander,” sê die AA.

Luidens die verklaring het die rand vir die grootste deel van September redelik sterk teenoor die Amerikaanse dollar vertoon. Dít help om die impak van die verhoogde olieprys in ’n mate af te weer.

“Sonder die rand se prestasie sou ons na prysstygings van meer as 40c per liter vir sommige brandstowwe gekyk het.”

Die AA het sy bekommernis uitgespreek dat soortgelyke aanvalle nageboots kan word, wat tot nóg skokke in brandstofpryse kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannetjie ·

Dit is mos nou nonsens…hoekom 3 dae na die aanval….dit wat by die stoorplekke in RSA was..kan mos nie nou duurder wees nie…hier vrot iets weer

Arrie ·

Amerika is nou die grootste produsent van olie in die wêreld. Waarom steun ons net op Saudi olie. In elk geval bestaan Sasol dan nie meer in SA nie. Lyk my die olie bedryf is die grootste klug in die sake wêreld.

Loeis ·

Dis als geld politiek. Ons kan ook olie uit Iran invoer, maar sal dan met die VSA met sanksies geslaan word. Hierdie is vir geen goeie rede nie, want Iran het hom by die kern ooreenkoms gehou.

Werklik ·

Werklik! Vir my lyk dit meer of die rand Elke jaar swakker word. Bevoorbeeld erens in 2009 het ons nog ongeveer R70-R75 vir 10 dollar betaal. En nou is 10 dollar ongeveer R150. Rand nou binne 10 jaar dubbel geval. En in 2004 was n liter petrol 4rnd n liter. Het iemand in suid afrika fisies boek gehou om saam met my te stem want dis net wat ek nog Kan onthou.

Ray ·

Stem saam en onthou. Maar dis verfrissend om ñ ander verskoning te hoor as die wisselkoers. Verskonings in elke geval altyd flou. Onthou ons is oppad Desember vakansie toe. Baie $$$$$$$ in die vooruitsig

m.d.r. ·

Dalk probeer hulle die aandag aftrek van hulle belaglike belastings op brandstof.
Hoe meer ‘n liter brandstof kos, hoe groter word die inkomste uit die die 15% btw.
Nou praat ons nie eens van al die verskuilde belastings nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.