Video: Breë bors van trots toe The Palace 30 jaar vier

Pule Mokonopi, een van die vloerbestuurders by Palace of the Lost City by Sun City, by ‘n boek waarin onder meer Elton John geteken het. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Toe Pule Mokonopi in 1992 as twintigjarige by Palace of the Lost City by Sun City as sekuriteitswag begin werk het, het hy in sy wildste drome nie kon dink dat hy 30 jaar later as vloerbestuurder deel van die hotel se verjaarsdagvieringe sou wees nie.

“Toe hulle vanoggend daardie verjaarsdagkoek hier instoot, het dit gevoel asof ons my eie verjaarsdag vier,” vertel Pule aan Maroela Media.

Pule, ’n statige man wat deur ’n ring getrek kan word, is deur ’n enkelma grootgemaak. Daar was nie geld vir verder studeer nie.

’n Loopbaan in gasvryheid het egter baie aanloklik gelyk en hy het nie twee keer gedink voordat hy 30 jaar gelede by die personeelkorps van The Palace aangesluit het nie.

Pule se loopbaan het begin toe dié wêreldbekende hotel sy deure geopen het. Vandag, drie dekades later, is hy nie een oomblik spyt nie. Deur die jare heen het hy bekendes soos Madonna, Elton John, Michael Jackson, Kenny Rogers en die rockgroep Queen bedien.

Pule is vertroud met harde werk. Hy het as sekuriteitswag begin en toegewyd gewerk daaraan om as werknemer te groei. Deur die jare heen het hy as kelner by verskillende restaurante gewerk en kwalifikasies in onder meer gasvryheid en menslike hulpbronbestuur gekry.

“Ek het nie gedink dat ek soveel sou leer soos wat ek het nie,” vertel Pule.

“Ek het geleer hoe om ’n bottel sjampanje reg oop te maak, ’n bottel wyn reg oop te maak. Ek het geleer aan watter kant dis ʼn mens op en aan watter kant ʼn mens die eetgerei wegneem. Al hierdie goed wat mens altyd net op die televisie gesien het,” skerts hy.

Pule is trots daarop om vandag die nuwe generasie op te lei net soos wat hy deur die jare opgelei is.

“Dit is vir my ʼn voorreg om aan diens te wees tydens die hotel se groot makietie vir sy 30ste verjaarsdag.”

Brett Hoppé, bestuurder van Sun City. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Dié mylpaal is Saterdagaand met heerlike kos, vermaak en ’n asemrowende vuurwerkvertoning gevier.

Gaste het in die Olifantbinnehof, waar Shawu, die hotel se manjifieke olifant,  ʼn oog hou, byeengekom om die geleentheid te vier.

Brett Hoppé, bestuurder van Sun City, sê hy onthou toe hy by The Palace begin werk het, was al die bestuurders van ander lande afkomstig.

“Ek is vandag trots om te sê dat hierdie hele hotel vandag deur Suid-Afrikaners bestuur word.”

’n Nuwe, moderne bladsy vir die hotel wat al vir 30 jaar op luuksheid en gasvryheid toegespits is.

Die hotel spog ook met ’n splinternuwe spa, opgeknapte kamers en spoggerige nuwe uniforms vir die personeel.

“The Palace of the Lost City is wêreldwyd bekend as ’n luukse bestemming,” sê Hoppé.

Anthony Leeming, uitvoerende hoof van Sun International. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Anthony Leeming, uitvoerende hoof van Sun International, het die hotel as ’n “skouspelagtige bestemming” beskryf.

“Hierdie is net die gebou. Dit is ons mense, van die sjefs tot die kelners, wat hierdie plek so fantasties maak.”

Maroela Media het besoek aan The Palace afgelê. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tredoux ·

*Gaaap* ekskuus, ek bedoel, *Is dit nie fantasties nie*…zzzzzz

Annelize ·

Net jammer dat dit so onbekostigbaar is om soontoe te gaan.

Harley Davidson ·

Die meeste mense wat ek ken gaan nie eers na sun city as hulle vry kaartjies het nie ,dit was great in die vroeë tagtigs maar vandag nee wat .

Jaco ·

Sien CR is nou afgegradeer na vloerbestuurder. Tong in die kies.
Of is Pule nou opgegradeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.