Brics + vyf: Nuwe lande nou amptelik lid

Weens ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming moes Russiese pres. Wladimir Poetin verlede jaar se beraad aanlyn bywoon. (Foto: Mikhail Klimentyev/AFP)

Die Brics-blok van lande – voorheen bestaande uit Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika – het nou amptelik nog vyf nuwe lidlande in sy geledere verwelkom ná die lidmaatskap van Ethiopië, Iran, Saoedi-Arabië, Egipte en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) amptelik op 1 Januarie ingeskop het.

Die oorspronklike groep het na afloop van verlede jaar se Brics-beraad in Johannesburg uitnodigings aan dié lande, sowel as aan Argentinië, gerig om deel van die groep te word.

Argentynse president Javier Milei het egter verlede week briewe aan die Brics-leiers gestuur om die land se besluit – dat hy die uitnodiging van die hand wys – te formaliseer. Briewe wat Milei onderteken het, lui dat Argentynse lidmaatskap van Brics “nie in hierdie stadium as gepas beskou word nie”, berig AFP.

Milei het in Desember die land se leisels oorgeneem en tydens die verkiesingsveldtog onderneem dat Argentinië nie by Brics gaan aansluit nie. Sy briewe lui dat sy buitelandse beleid op velerlei vlakke verskil van dié van die vorige regering en dat sommige besluite wat die vorige administrasie geneem het, hersien gaan word.

Tydens sy verkiesingsveldtog het Milei ook gesê “ons geopolitieke belyning is met die VSA en Israel. Ons gaan nie die bondgenoot van kommuniste wees nie.”

Ondanks beloftes dat hy bande met groot handelsvennote China en Brasilië gaan verbreek, het Milei, nadat hy die amp opgeneem het, ʼn veel meer versoenende rigting ingeslaan.

Argentinië se besluit is in sommige kringe as ʼn terugslag bestempel, met Deutsche Welle (DW) wat berig dat die nuwelinge ʼn noemenswaardige risiko van konflik met hulle saambring. Egipte en Ethiopië baklei oor water uit die Nylrivier, en Saoedi-Arabië en Iran is al dekades lank in ʼn stryd om oorheersing in die Persiese Golf gewikkel, berig die webblad.

Rusland is nou voorsitter van Brics en Russiese pres. Wladimir Poetin het Maandag luidens die Indiese Business Standard gesê die nuwe lande het as “volle nuwe lede aangesluit, ʼn sterk aanduiding van die groeiende gesag van die vereniging en die rol daarvan in internasionale betrekkinge”.

Poetin sê Brics lok ʼn groeiende getal ondersteuners en eendersdenkende lande wat die onderliggende beginsels van soewereine gelykheid, openheid, konsensus en aspirasies om ʼn multipolêre internasionale orde en billike globale finansiële en handelstelsel te vorm, ondersteun.

Die groep het in 2006 tot stand gekom en het aanvanklik uit Brasilië, Rusland, Indië en China bestaan. Dit is tot Brics hernoem nadat Suid-Afrika in September 2010 ʼn lidland geword het.

Brics verteenwoordig nagenoeg ʼn kwart van die wêreldbevolking en was oor die afgelope paar jaar ʼn groot aandrywer van ekonomiese groei.

Poetin het volgens die Kremlin gesê die land sal, as voorsitter van die blok, voorkeur gee aan die bevordering van samewerking op die gebied van wetenskap, hoë tegnologie, gesondheidsorg, omgewingsbeskerming, kultuur en sport.

Die volgende Brics-beraad word in Oktober vanjaar in Kazan, Rusland, aangebied. Poetin het die Johannesburg-beraad verlede jaar aanlyn bygewoon nadat die Internasionale Strafhof ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming weens beweerde oorlogsmisdade uitgereik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Schalk ·

Die bricks lande is alles wat tans fout is in die wereld. Hoe is die ou spreekwoord? “Aan jou vriende sal jy geken word”.

Hans ·

Argentinië is gegrond op Jode om ekonomie te dryf vanaf WO2, met Nazi vlugtelinge uit Duitsland. Daar was ook baie staatsgedrewe moorde deur vorige Argentynse diktators.

Manie ·

Met al die olieryke lande nou deel van Brics, kan petrol en diesel pryse mos halveer of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.