Britse verbod op jagtrofee bekommer SA taksidermiste

Pieter Swart, ʼn taksidermis en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Taksidermie en Leerlooiery-vereniging. (Foto: Guillem Sartorio / AFP)

Suid-Afrikaanse taksidermiste is uiters bekommerd oor wat die gevolge van ʼn verbod op die invoer van jagtrofeë na Brittanje vir die bedryf in die geheel kan inhou.

Pieter Swart, ʼn taksidermis en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Taksidermie‑ en Leerlooiery-vereniging (Satta), sê die wetgewing kan werksverliese by top‑ internasionale jagbestemmings in Suider-Afrika beteken.

Die wetgewing kan ook die weg vir soortgelyke wetgewing in ander lande baan.

“Ons is baie bekommerd,” sê Swart by sy werkswinkel op Rayton. Die skedel van ’n sebra rus op sy lessenaar. “Die wet kan ʼn domino-uitwerking skep.”

Die Britse wetgewing, wat die invoer van jagtrofees van onder meer leeus, renosters en olifante na Brittanje verban en daarop gemik is om bedreigde diere te help beskerm, is in Maart deur Britse wetgewers goedgekeur.

Soortgelyke wetsontwerpe word tans in Italië, België en Spanje oorweeg.

“Dit is beslis die begin van ʼn houdingsverandering onder [Europese] lande,” sê Matthew Schurch, ’n wildkenner verbonde aan die dierewelsynsgroep Humane Society International.

Kritici sê om wilde diere vir ontspanningsdoeleindes te skiet is wreed, verkwistend en stoot bedreigde spesies nader aan uitwissing.

Baie gemeenskappe en staatsamptenare oor Suider-Afrika is egter gekant teen die verbod en voer aan dat die jag van ʼn klein aantal uitgesoekte diere broodnodige inkomste genereer om bewaringspogings te bevorder en plaaslike gemeenskappe te ondersteun.

Pieter Swart, ʼn taksidermis en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Taksidermie en Leerlooiery-vereniging. (Foto: Guillem Sartorio / AFP)

Luidens ’n 2018-studie dra trofeejag jaarliks meer as $340 miljoen (sowat R6,4 miljard) by tot die Suid-Afrikaanse ekonomie en die bedryf ondersteun 17 000 werksgeleenthede.

Jagters neem ook dikwels dele van die diere as trofeë huis toe. Dié dele word dan verwerk deur taksidermie-ondernemings wat op hul beurt weer sowat 6 000 mense in Suid-Afrika in diens het, sê Swart.

“Jag en uitskot is een van die prosesse om die diere te bestuur. En om ʼn vel soos hierdie te mors … en dit net te laat vergaan is nie kostedoeltreffend nie,” sê Swart terwyl hy wys na ʼn sebraborsbeeld teen die muur.

Dit kos meer as R130 000 om ’n renoster op te stop en meer as R25 000 vir die opstop van ’n jagluiperd.

“As hulle hierdie werk gaan verbied … gaan ek nie my gesin kan voed nie,” sê Elias Pedzisai (45), ʼn werknemer by Swart se Afrikan Tanning & Taxidermy-maatskappy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Piet ·

En hoekom sal ‘n ander land se wetgewing jou ondersteuning so geniet?

Manie ·

Indien die jagbedryf ineenstort, sal ons kleinkinders wild net in dieretuine kan besigtig. Ons weet almal dat dit nie volhoubaar is nie, want wild plant nie voort in dieretuine nie.

Piet ·

“Luidens ’n 2018-studie dra trofeejag jaarliks meer as $340 miljoen (sowat R6,4 miljard) by tot die Suid-Afrikaanse ekonomie en die bedryf ondersteun 17 000 werksgeleenthede.”

Hoeveel hiervan word deur die engelse, italianers, belge en spanjaarde ingebring? Die Engelse se bydrae is beslis weglaatbaar min.

Nellene ·

Om enige lewende wese te skiet vir die blote plesier daarvan is nie moreel aanvaarbaar nie. Ek ondersteun die wetgewing.

Luckykat ·

Al die mense wat die totale verbanning van jag ondersteuen verstaan nie lekker hoe die wereld werk nie. Als moet ongelukkig vir sy plek in die samelewing betaal op n manier, anders gaan niemand omgee daarvoor nie. As niemand omgee oor daai diere nie, het dit dan geen mark waarde nie, en verdwyn net eenvoudig. Niemand gaan al die wild oppas uit die goedheid van hul hart nie.

Ellie3 ·

Mense is onkundig en diere se getalle moet beheer word. Die Kruger Wildtuin sit met ‘n erge probleem met olifante wat te veel raak. Ons het self wild op ons plaas en na ‘n erge droogte moet ons uitskiet want anders gaan heelwat diere n lelike dood sterf. Aangesien diere in beperkte spasies aangehou word, is jag absoluut noodsaaklik en is baie minder wreed as wat diere vrek weens ‘n voedsel tekort!

Nellene ·

Dit is reg. Dit gaan oor die plesier wat daaruit geput word en dan trots en vermakerig die trofee uit te stal. Dit is wat teen baie mense se grein gaan.

Lillian ·

As jou tjommies in die wildjag bedryf nie so skelm is nie, sou hierdie verbod nie nodig gewees het nie.

Alexander ·

Ek is seker jy sal jou gesin nog kan voer ten spyte van die verbod, jy gaan net nie daai nuwe Fortuner kan koop, so moet nou nie kom oordryf nie hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.