Brittanje, nog lande sluit hul grense vir SA

Foto: Ben Stansall/AFP

Brittanje het beperkings ingestel op reise vanuit Suid-Afrika weens die verspreiding van ’n nuwe Covid-19-variant.

Matt Hancock, Britse minister van gesondheid, het gesê die beperkings, wat onmiddellik van toepassing is, is ingestel na die ontdekking van twee gevalle van die nuwe variant in Brittanje.

“Hierdie nuwe variant is baie kommerwekkend, want dit is reeds meer oordraagbaar, en dit lyk asof dit verder gemuteer het as die nuwe variant wat in die Verenigde Koninkryk ontdek is,” het Hancock gesê.

Alle individue in die Verenigde Koninkryk wat die variant van Suid-Afrika opgedoen het, is in kwarantyn geplaas, asook hul noue kontakte.

Benewens die reisbeperkings, het Hancock gesê die regering versoek ook dat almal wat in noue kontak was met iemand wat die afgelope twee weke in Suid-Afrika was, om te isoleer.

Talle lande het reeds vlugte van Suid-Afrika af opgeskort. Duitsland het alle vlugte van Brittanje en Suid-Afrika tot 6 Januarie opgeskort. Switserland het ook die vlugte opgeskort en enige reisigers wat reeds van Brittanje of Suid-Afrika in die land aangekom het, is beveel om in kwarantyn te gaan.

Turkye, Israel en Mauritius verbied ook reisigers van Suid-Afrika, terwyl El Salvador gesê het dat enige reisigers wat die afgelope 30 dae in Brittanje of Suid-Afrika was, nie toegelaat sal word om die land binne te kom nie. Dit is ook die geval in Panama en Paraguay.

Reisigers van Brittanje en Suid-Afrika word weer in Nederland toegelaat, maar moet ’n negatiewe PCR-toetsuitslag kan verskaf en dan vir 10 dae selfisoleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.