Britte maak harte oop vir SA hond wat huis soek

Dingo (voor) en sy maat Roo. Dingo benodig ‘n meer permanente tuiste in Engeland. (Foto: Andries Heyns)

Dingo is wat jy kan bestempel as ʼn effense wêreldreisiger en het bes moontlik al meer stempels in sy paspoort as die meeste gewone sterflinge, maar nou benodig dié Suid-Afrikaans gebore brak ʼn meer permanente tuiste in Engeland.

Britte – én oud-Suid-Afrikaners in Engeland – het hul harte en huise vir hom oopgemaak.

Dingo en sy maat, Roo, behoort aan Andries Heyns, ʼn Suid-Afrikaner wat reeds geruime tyd vir Dokters Sonder Grense werk. Heyns het Roo sewe jaar gelede by Fisantekraal-dierewelsyn aangeneem. Hy het dadelik besluit Roo kort ʼn maat en het van skuiling na skuiling gery tot hy op Dingo by die Helderberg-dierewelsynvereniging afgekom het. “Ek het dadelik geweet hy is my hond,” sê Heyns.

Hy en sy twee nuwe familielede het uit hul huis getrek en op ʼn plaas gaan woon waar hulle heerlik buite kon baljaar. Die span is later na Pretoria, waar hulle op ʼn perdeplaas gewoon het en het intussen onder meer na Helsinki in Finland en Alabama in die VSA gereis. Tans is hulle woonagtig in Londen.

Dingo het reeds die wêreld vol gereis. (Foto: Andries Heyns)

Heyns vertrek binnekort na Madagaskar waar Dokters Sonder Grens ʼn noodlenigingsoperasie in ʼn droogtegeteisterde gebied het en die honde moes spesifieke toetse ondergaan voor hulle toegelaat sou word om die Verenigde Koninkryk te verlaat.

Tydens een van dié toetse is vasgestel dat Dingo Brucella canis onder lede het. Dit is ʼn aansteeklike siekte wat in die VK geweldig streng beheer word, en die owerhede wil nie toelaat dat ʼn hond wat dit onder lede het, die land verlaat nie. Dingo hou geen wesenlike gevaar vir enige ander honde of mense in nie, maar sy swerfjare is waarskynlik noodgedwonge agter die rug.

Heyns was plategeslaan deur die diagnose. Dingo het intussen ʼn tweede toets ondergaan om die diagnose te bevestig, maar Heyns moes sedertdien plan maak om vir sy geliefde Dingo ʼn meer permanente tuiste in Engeland te vind sou die uitslag dieselfde bly.

ʼn Vriendin in Londen het sy aangrypende boodskap oor ʼn soektog na ʼn nuwe tuiste vir Dingo op Facebook gedeel – dit is intussen meer as 2 200 keer gedeel – en Heyns sê hy kon sedertdien nie voorbly om boodskappe te beantwoord van diereliefhebbers wat wou help nie.

“Dit is fantasties, maar so ʼn bietjie oorweldigend. Daar is soveel mense wat aangebied het om Dingo in te neem en ek wil vir almal so baie dankie sê.”

Hy wil Dingo vir geen oomblik agterlaat nie, sê Heyns, maar moet nou besluit wat die beste vir sy hond sal wees. Hy het aangebied om kos en veeartskoste vir die res van Dingo se lewe te betaal, solank hy verseker weet dat die hond “geliefd, versorg, warm, veilig en gelukkig” is.

“Dit is my passie om soveel mense as moontlik te help. Ek hoop nou ek kan een mens vind wat vir my en Dingo sal help,” het sy boodskap gelui.

Almal wil help

Dingo op een van sy vele ekskursies. (Foto: Andries Heyns)

Van regoor Engeland het aanbiedinge die afgelope paar dae ingestroom. “Ek het lanklaas in my lewe weer soveel Afrikaans gepraat,” skerts Heyns oor die talle Suid-Afrikaners in Engeland wat ook aangebied het om te help.

Terwyl hy gesels, kom nóg boodskappe.

Hy het voorlopig op ʼn Britse vrou in die noorde van die land besluit waar Dingo en Roo vir eers sal woon. “Ek het geweet sy is die regte mens. Sy klink perfek en ek dink sy sal vir Dingo baie gelukkig maak as hy daar bly.”

Die vrou het onder meer ʼn kampeerwa waarmee sy Dingo – en Roo wat vir eers tydelik by haar sal woon – op uitstappies wil neem en bly in ʼn omgewing met heerlike buiteluggebiede. Heyns sal ook enige tyd kan gaan kuier.

“Ek het nou baie goeie opsies. As die honde hier bly, weet ek hulle sal gelukkig wees en as hulle verder saam met my kan reis, sal dit wonderlik wees.

“Ek het die honde vantevore oral saam met my geneem. Dit is egter stresvol, want ek weet nooit waar die volgende ramp gaan wees of waar Dokters Sonder Grense my gaan benodig nie.

“Ek moet besluit wat die beste pad vir hulle vorentoe is.

“Ek weet nou daar is verskriklik baie mense wat omgee. Ongelooflik baie. Ek het nou ʼn hele netwerk!”

Heyns sê al kry hy dit reg om Dingo nou saam te neem wanneer hy die VK verlaat, is daar geen waarborg dat hy nie dalk in die toekoms in ʼn vreemde land weens die Brucella canis-diagnose ʼn veel erger lot kan oorkom nie.

“As hulle ʼn wonderlike lewe in die VK kan hê by iemand wat stabiel is, moet ek dit oorweeg. My lewe is rof en ek moet besluit wat die beste vir die honde is.”

Noudat hy weet Dingo en Roo het minstens ʼn veilige hawe wanneer hy later vandeesmaand na Madagaskar vertrek, sê Heyns hy kan met ʼn meer geruste hart die situasie mooi deurdink.

“Ek het tyd om te besluit of dit beter vir die honde is om by iemand anders te woon. Hulle is al sewe jaar oud, dalk raak hulle te oud vir hierdie malhuis, maar ek wil hulle nie laat gaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Dierbaar en so hartseer, maar ek glo hy sal op die regte tuiste vir sy 4 potige kinders besluit en dat hul baie gelukkig sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.