Buurman kastreer glo man se hond

Die windhond wat met ‘n mes kastreer is, het mooi herstel (Foto: Verskaf)

ʼn Man het by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein se deur aangeklop nadat sy buurman sy windhond op ʼn hoewe digby Dewetsdorp in die Vrystaat met ʼn mes gekastreer het. Die windhondreun het nou ná amper ʼn week goed herstel en is gereed om aangeneem te word.

Luidens ʼn verklaring wat die DBV Maandag uitgereik het, het die eienaar van die hond verlede naweek bloed by sy geliefde vierpotige se agterlyf opgemerk. Hy het na sy buurman, wat langs hom op dieselfde plot bly, gegaan en gevra of hy weet wat met sy hond gebeur het.

Die buurman het sonder om te aarsel erken dat hy die hond met ʼn mes gekastreer het omdat die hond hom “lastig” geval het.

Die eienaar van die hond het aan die DBV gesê hy vermoed sy hond se bek was toegedruk terwyl sy buurman hom gekastreer het, aangesien hy geen tjankgeluid of ander geluide gehoor het nie.

“Ek weet nie of die man my hond spesifiek haat en of hy net nie ʼn hart en liefde vir diere het nie. Ek weet nie wat my hond aan hom gedoen het nie. Dit is skokkend. Nadat ek gesien het hoe my hond bloei, het ek self briesend geword,” het die eienaar van die hond aan die DBV gesê.

Met die DBV-inspekteurs se aankoms by die man se huis het hulle die hond op die grond aangetref. Die hond het steeds gebloei. Hy het reeds baie bloed verloor.

Met die DBV-inspekteurs se aankoms by die man se huis het hulle die hond op die grond aangetref (Foto: SPCA Bloemfontein via Facebook)

Tebogo Maswanganye, ʼn inspekteur by die DBV, sê hy kon sien die hond is bang, verward en het baie pyn.

“Dit is onaanvaarbaar en wreed. Sulke dade kan nie geregverdig word nie. Dit is gemeen dat enige lewende wese sulke pyn moet verduur. Geregtigheid moet ter wille van hierdie hulpelose vierpotige geskied,” het Maswanganye gesê.

Die DBV het die hond na die veearts geneem vir mediese behandeling. Hy moes ʼn operasie ondergaan om sy wond toe te werk.

Die DBV het gister in ʼn verklaring gesê die hond het die nodige mediese behandeling ontvang. “Hy is ook nou beskikbaar vir aanneming, aangesien sy vorige eienaar bang is die hond kom weer iets oor,” sê Reinet Meyer, senior inspekteur van die DBV.

“Kyk net hoe mooi is hierdie outjie nou. Hy het weer ʼn huppel in sy stap en is gereed om na ʼn pragtige, liefdevolle huis te gaan. Dankie aan elkeen wat ons gehelp het met sy operasie. Dankie vir die skenking van sy warm baadjie en wollerige kombers. Ons waardeer dit opreg,” lui die verklaring.

ʼn Saak van dieremishandeling is teen die buurman aanhangig gemaak. Hy gaan eersdaags in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rudolph ·

Interesant dat ‘diereliefhebbers’ beswaard voel oor die hond se pynlike kastrasie maar gee glad nie om dat dit en nog baie erger daagliks aan jong varkies gedoen word. Ons wil mos spek hê so hoekom sal ons, ons bekommer oor die vark?

koos10 ·

Vreemd dat hy dadelik na sy buurman is? Het sy buurman dalk al met hom gaan praat oor die hond, of het die hond al daar lastig geval?
Ek praat dit nie reg nie, maar elke diere eienaar het ‘n verantwoordelikheid ook, en een daarvan is sterelisalasie.

Ansie ·

Ek stem saam, maar ongelukkig is sterilisasie van diere nie verpligtend nie en kan daar nie teen die eienaar opgetree word nie.

Ansie ·

Sulke wreedheid is laakbaar en die buurman verdien om goed gestraf te word.

twaalfboor ·

Janee JJB…..ek het die “windhond” ook so bekyk. Dalk bedoel hulle hy is NOU ñ windhond na die kastrasie. Nie te min, die arme dier moes erge trauma deur gegaan het.

Misky ·

Alweer Bloemfontein/Vrystaat. Groot fout daar met diere eienaars of Bfn DBV is net enigste een wat nog rapporteer en aan media bekend stel. Skandelik en hoe slaap daai man saans????

Spyker ·

Ek gaan beslis my nie naby daai buurman se huis of eiendom begeefnie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.