Candy Benson op die herstelpad ná Covid-stryd

Candy Benson. (Foto: Verskaf)

Die blondekop sangeres Candy Benson (30), wat sedert Julie vanjaar ʼn gesondheidstryd voer nadat sy met Covid-19 gediagnoseer is, blyk uiteindelik op die herstelpad te wees.

Cindy Benson, Candy se ma, vertel aan Maroela Media dat Candy onlangs by dr. Emmanuel Taban, ʼn bekende pulmonoloog in Midstream, aangeklop het vir raad oor die blywende skade wat haar longe opgedoen het weens haar stryd teen Covid-19-verwante longontsteking.

Volgens Cindy het Taban vir Candy en haar gesin “goeie nuus” gegee. “Sy gaan vir die volgende twee maande met sterk dosisse kortisoon en steroïdes behandel word om die gat wat in haar long agter haar hart gevorm het, te behandel. Haar longkapasiteit is tans op net 40%, maar dr. Taban glo ons sal dit ook met die kortisoon- en steroïede behandeling kan opstoot.”

Candy gebruik nou ook net een soort antibiotikum en is sedert Saterdag ook nie meer aan ʼn suurstofmasjien gekoppel nie.

“Dr. Taban wou gehad het Candy moet haar oefeninge begin doen sonder haar suurstofmasjien, wat ons baie senuweeagtig gemaak het. Aan die begin het dit sukkel-sukkel gegaan en kon sy skaars vyf treë loop voordat sy doodmoeg was, maar sy het gister 1,5 km gestap en hoewel haar suurstofvlakke effens gedaal het, het dit blitsvinnig weer tot 90% opgegaan.

“Ons kan net die Here hiervoor bedank,” sê Cindy.

Candy Benson en haar ma, Cindy. (Foto: Facebook/Candy Benson)

ʼn Gedenkdiens vir Candy se pa en Cindy se man, Marc Benson, is op Saterdag 23 Oktober gehou. Hy het op 19 Julie vanjaar, tien dae nadat Candy in die Netcare Olivedale-hospitaal in Johannesburg opgeneem is, aan Covid-19 gesterf.

“Dit was ʼn ongelooflike emosionele dag en almal wat die diens bygewoon het, het gesê hulle kan nie glo watter verskriklike reis ons as familie moes deurmaak nie. Die pastoor het ook daar en dan besluit om vir Candy te salf, en van daardie dag af gaan haar gesondheid net van krag tot krag,” sê Cindy.

Candy, wat kort voordat sy in die hospitaal beland het ʼn nuwe enkelsnit getiteld “7 dae in die somer” uitgereik het, sal glo volgens Taban binnekort haar sangloopbaan kan hervat.

“Dr. Taban het benadruk dat Candy se geval en die feit dat sy nog leef, ʼn wonderwerk is, en hy glo dat sy nog wonderwerke deur haar sangloopbaan gaan verrig.”

Candy se verloofde, die musikant Dylan Emslie, wat tans deel vorm van die groep Jan Jan Jan as Mooi Jan, het nie ʼn oomblik Candy se sy verlaat nie, sê Cindy trots.

“Daar was tye dat ek bang was hy sal as jong man die hasepad kies en hol vir die berge, want dit was ʼn baie moeilike tyd wat ons moes deurmaak. Maar hy het nie – hy het gekies om by Candy te staan en sy bly steeds die belangrikste persoon in sy lewe. Wanneer hy vir vertonings reis, kom hy so te sê dadelik weer terug  huis toe om by haar te wees.

Candy Benson en Dylan Emslie het verloof geraak tydens die verfilming van haar musiekvideo vir ‘7 dae in die somer’. (Foto: Facebook/Candy Benson)

“Hy sukkel steeds om te slaap en verwerk ook nog steeds die trauma wat ons die afgelope paar maande moes deurmaak, maar ons as gesin bid elke aand saam en dan bid ek ook vir hom vir sterkte.”

Cindy sê Candy moes onder meer weer van voor af leer loop aangesien haar spiere ingegee het omdat sy soveel tyd in ʼn siekbed deurgebring het en sy het ook baie van haar lang, blonde hare verloor.

“Candy sê net die Here het haar lewe gespaar en haar hare kan weer groei. Ons is ongelooflik dankbaar as familie vir wat die Here vir Candy gedoen het en ons is nét so dankbaar vir die mense wêreldwyd wat vir Candy gebid het. Dit is vir my ʼn bewys dat Christene steeds kan saam staan en daar kan wees vir mekaar.”

Cindy het ʼn beroep op die publiek gedoen om steeds aan te hou bid vir haar gesin. “Die stryd is nog nie gewonne nie, maar vir eens kan ons sê ons het goeie nuus. Ons is uiters dankbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Zacahara ·

Voorwaar goeie nuus. Baie sterkte & spoedige beterskap vir die finale pad na genesing. Shalom.

Perdeby ·

So was ek ook maar met Covid 19 ” gediagnoseer” middel Junie en het ook maar gesukkel met my longe vir ‘n paar maande.

Annelize ·

Ja ek ook, die 7de September, maar dankbaar my een long het nie ‘n gat ingeval nie, en moes ek ook nie van voor af leer loop nie, en dit wil my voorkom jy het ook nie hierdie dinge oorgekom nie. Bere dus maar jou naels, en wees dankbaar dat jy nog lewe, duisende ander was niee so gelukkig soos ons nie.

Casper ·

Candy,ek glo onwrikbaar dat God die geneesheer is en die dokters net die instrumente in sy hande is..Sterkte op jou pad na herstel.

Kiewiet ·

Dit is sulke wonderlike nuus Candy ek is so verheug ek is mal oor jou stem en so bly dat jy een van die dae weer lekker gaan sing????????vasbyt deurdruk my pop..

Mariaan ·

Dankie Maroela vir die update..al gewonder hoe gaan dit met haar…so bly vir beterskap…sterkte vir julle almal vorentoe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.