Carl Niehaus bedank as ANC-lid

Carl Niehaus (Foto: Twitter)

Carl Niehaus het sy ANC-lidmaatskap met onmiddellike inwerkingtreding opgeskort nadat hy vroeër die maand uit die party geskors is.

Niehaus het vroeër die maand na sy skorsing onmiddellik met ʼn appèlproses begin teen sy “onwettige skorsing” deur die ANC se nasionale tugkomitee. Hy het sy regsverteenwoordiger egter nou opdrag gegee om sy appèl terug te trek.

“Die ANC is dood en kan nie meer gered word nie,” het Niehaus in ʼn verklaring oor sy bedanking gesê. Hy doen ook ʼn beroep op ander ANC-lede om uit die party te bedank.

“Wat nou van kritieke belang is vir ons almal wat steeds glo in die ideale van die volle bevryding (veral van wit kapitalistiese ekonomiese onderdrukking) van swart – en spesifiek Afrikane – Suid-Afrikaners, is om dringend betrokke te raak en te konsulteer oor hoe ons voort kan gaan om ʼn toegewyde beweging te bou om die ideale na te streef en te implementeer.”

Niehaus, woordvoerder van die nou ontbinde Umkhonto weSizwe- militêre veteranevereniging (MKMVA) en ʼn stoere bondgenoot van oudpres. Jacob Zuma, het die afgelope ruk meestal manalleen buite die Nasrec-konferensiesentrum betoog dat pres. Cyril Ramaphosa die trekpas kry.

Sy skorsing volg nadat die ANC se nasionale dissiplinêre komitee Niehaus skuldig bevind het op aanklagte van wangedrag deurdat hy die party se naam in oneer gebring het. Die stappe teen hom het gevolg op sy vurige verdediging van Zuma nadat die Konstitusionele Hof die oudpresident aan minagting van die hof skuldig bevind het.

Zuma is ses maande tronkstraf hiervoor opgelê.

Niehaus het destyds onder meer aangevoer die hofuitspraak maak ook ʼn bespotting van die gereg en dat wetgewing selektief gebruik word om politieke en faksiegevegte te beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.