‘Cele noem my ʼn wat?’ – Cameron

Bheki Cele, polisieminister, tydens sy destydse tirade teenoor teenmisdaad-aktivis en DA-lid, Ian Cameron. (Foto: Skermskoot uit eNCA-video)

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdagaand tydens ʼn politieke debat in Hanover Park in Kaapstad weer teen Ian Cameron, teenmisdaad-aktivis en DA-lid, uitgevaar. Dié keer is Cameron nie aangesê om te “shut up” nie, maar het die minister hom as “nie te skerp nie” uitgekryt en ʼn “afro-man” genoem.

Dit is egter nie duidelik wat die polisieminister hiermee bedoel het nie. Sy woordvoerder, Lirandzu Themba, het ook nog nie op Maroela Media se navraag in dié verband gereageer nie.

Bheki Cele, polisieminister, tydens die debatsgesprek Dinsdagaand in Hanover Park. (Foto: Skermskoot van uitsending)

Die debat – wat deur eNCA se JJ Tabane vir die program Power to Truth aangebied is – het onder meer op misdaad in Suid-Afrika gefokus en na stede gekyk waar misdaad die hoogste is. Cele was een van sewe mense, onder wie ander politici, op dié paneel.

Cameron, wat hom al jare lank beywer vir ʼn veiliger Suid-Afrika en die polisieminister se kop al menigmaal geëis het, was nie ʼn lid van die paneel nie, maar het ʼn kort spreekbeurt gekry. Sekondes was egter al wat nodig was om Cele klaarblyklik weer verkeerd op te vryf.

Cameron het Cele onder meer uitgevra oor swak ondersoekwerk, die hoë moordsyfer in die land en ʼn lae vervolgingskoers kort nadat die minister gespog het oor die polisie se vordering om misdaad te stuit – insluitend die bekamping van bendegeweld.

Cameron het al die vergadering verlaat toe Cele hom [weer op kamera] “nie te slim nie” en ʼn “afro-man” genoem het.

Cele se jongste uitbarsting kom nadat hy destyds by ʼn imbizo in die Wes-Kaap met ʼn swaaiende vinger vir Cameron geskreeu het om te “shut up”. Tydens dié voorval het Cameron Cele gepols oor die polisie se versuim om die plaaslike gemeenskap teen misdadigers te beskerm. ʼn Woedende Cele het uitgevaar, Cameron beveel om te sit en stil te bly – met die onderonsie wat verfilm en daarna wyd versprei is.

Die parlement het Cele vroeër opdrag gegee om Cameron om verskoning vir die “shut up”-voorval te vra, wat volgens Cameron nooit gebeur het nie.

“Ek soek in elk geval nie sy verskoning nie. Hy moet jammer sê aan al die ouers wie se kinders vermoor is,” het hy Woensdag aan Maroela Media gesê.

Cameron stel egter nie belang om in nog ʼn bekgeveg met Cele betrokke te raak nie.

“Vir my gaan dit nie oor Cele nie. Dit gaan oor die bekamping van misdaad. Cele sal my nooit stilmaak nie. Hy moet verantwoording doen vir die moorde wat elke dag in Suid-Afrika gepleeg word.

“Ek het al met baie oplossings en voorstelle vorendag gekom. Cele stel nie belang in oplossings nie. Hy is net bang iemand noem hom nie generaal nie.”

Bheki Cele, polisieminister, was een van sewe mense wat Dinsdagaand aan ‘n debatsgesprek in Hanover Park deelgeneem het. (Foto: Skermskoot van uitsending)

Cameron sê Cele het Dinsdagaand oor 188 000 inhegtenisnemings gespog, terwyl agt uit elke 10 moorde onopgelos bly en 87 moorde elke dag gepleeg word.

“As jy met moord wil wegkom, doen dit in Suid-Afrika.”

Hy sê voorts hy hoop dat wanneer Cele sy oë toemaak, hy die gesigte van al die slagoffers sien wat hy in die steek gelaat het.

Hy meen Cele het die polisie vernietig en wil nie hê dat die polisiediens funksioneel moet wees nie omdat die ANC dan nie “sal kan steel soos hulle tans doen nie”.

Die polisie het nog nie op Maroela Media se navraag oor die jongste voorval gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Kokerboom ·

Gee die kader gas Ian. Hy is ‘n verleentheid vir ons land!

hpven ·

Cele, Cameron is duisend keer skerper as jy en doen ook duisend keer meer as jy vir Suid Afrika se mense!

TRP ·

Ian is nie op sy mond geval, mal daaroor. Cele kompeteer seker vir ‘n posisie as hoof nar in die sirkus.

Ore ·

En Cele is die toonbeeld van ‘n intellektuele reus? Lekker lag ek nou. Pleks “shut up” hy en doen sy werk en probeer ook minder op TV te wees

Stofbakkies ·

Cele jy is een van die wat so aangaan oor geweld teenoor vroue en kinders, maar jou sogenaamde polisie beamptes neem meer as uur om hulle gesigte te gaan wys by ‘n huis waar die pa dreig om die ma van sy kinders voor hulle te vermoor EN dan draai hulle by die voordeur om!!!

Ronél ·

@Vinny, wonder ek ook. Cameron se hare lyk maar plat vir my???

Misky ·

En Cele dink seker hy is skerp…… Ha-ha-ha-ha, lanklaas so lekker gelag. Lekker Ian, hy slaan sy eie naam met `n plank en jy hoef nie eens iets te doen nie.

BELINDA ·

Cele die ander kleur “Freddy Kruger” – Nightmare on Elm Street… Jy maak ‘n gek van jouself!

Catherina ·

Certain people are the laughing stock of the world but they don’t understand this!

Republikein in die Wes Kaap ·

Cameron kan onder Cele invlieg in die parlement. Cele kan hom nie dan uitjaag, stilmaak of beledig nie.

Papsak ·

Dankie Ian gee hom gas wys hom hy nie werd om hoof van polisie genoem te word nie hy moet sy woorde begin tel regtig hy gee niks om vir hierdie land se misdaad of moord nie maar skel kan hy goed doen gee gas !!!!!!?

skurweberg ·

Hy mag seker nie “Afri-man” se nie, anders gee hy erkenning aan Afriforum-man. So dis miskien net ‘n nuwe en verdraaide of gekamofleurde Akroniem.

Pieter ·

Toemaar Cameron, jy kan darem ‘n normale sin vorm. Selfs hoe hy Bright se, klink nie te bright nie. En Cele ken jou glad nie, al beweer hy so!

Manie ·

‘n Skerp politikus is juis iemand wat hom nie deur uitlokking of opmerkings van stryk laat bring nie, maar wat koel en kalm wag vir die regte oomblik om sy sê te sê. Ek glo nie Cele val in hierdie kategorie nie.

Emmer ·

Die BALK (of dalk BERG) in die een oog sien die splinter in ‘n ander…. want Hoedjie is mos ‘n genious….lol

Bolandse Nooi ·

☺☺☺☺☺☺☺☺☺ Mens kan net lag. Ou Cele weet nie eens wat ‘n “afro” is nie … hy skeer dan sy kop kaal a-là-“Kodak” van die 1980’s.

Cassie Carstens ·

Cele is loshande die swakste polisie minister wat ons nog gehad het. Groot mond. Ian Cameron sal ploeg met hom. Cele is net te arrogant en gedra hom nie soos ‘n minister nie. Vat hom Ian.

OU SAAR ·

Vee die vloer met hom Ian.
Dagvaar hom tot by oom Daantjie in die kallerhok.
Wonder wat sou gebeur het as rolle omgeruil was?
Dan het Ian seker met sy “afro-bas” in die tronk gesit…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.