Charlene October se eksman lewenslank in tronk na moord 

Charlene October (49) is ʼn jaar gelede in haar huis in die Wes-Kaap vermoor terwyl haar maand oue kleindogter by haar was. (Foto: Verskaf)

ʼn Oudpolisiekaptein en ma van vier se eksman en ʼn medebeskuldigde is in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis vir haar moord.

Charlene October (49) is op 12 Julie verlede jaar in haar huis in Elim naby Bredasdorp vermoor. Ashley October is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op sy eksvrou, terwyl Tashwill van der Rheede tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is nadat hulle aan moord met voorbedagte rade skuldig bevind is.

Ashley en Charlene was geskei en het twee kinders gehad. Die hof het gehoor dat Ashley al sedert 2011 gepoog het om huurmoordenaars te kry om Charlene te vermoor sodat hy toegang tot haar lewenspolis kon kry. Hulle is eers in 2015 geskei.

Ashley het glo in Julie 2012 vir Reagan Zietsman, een van sy werknemers, tussen R30 000 en R40 000 beloof om Charlene te vermoor. Zietsman het by Charlene se huis ingebreek en agter ʼn bank weggekruip. Hy het Charlene gevind waar sy saam met een van haar kinders geslaap het. Zietsman kon egter nie daarmee voortgaan nie. Nadat hy sy ouers daarvan vertel het, het Zietsman en sy pa na Charlene se huis gegaan om haar in te lig van haar man se planne waarna sy ʼn hofbevel teen hom verkry het.

Ashley en Van der Rheede het die aand van 11 Julie 2021 by Charlene se huis ingebreek. Sy is aangerand waarna sy met ʼn tou verwurg is. Sy is opgehang sodat dit moes lyk asof sy haar eie lewe geneem het.

Ethan Telemachus (25), Charlene se oudste seun uit ʼn vorige huwelik, het die volgende dag op sy ma se liggaam afgekom toe hy sy een maand oue baba, Zarah, wou oplaai. Sy het die vorige aand by Charlene oorgeslaap.

Van der Rheede is sowat twee weke ná Charlene se dood in hegtenis geneem en Ashley in November nadat die polisie bewyse gevind het wat hom met die moord verbind.

‘Dis ʼn onbeskryflike seer’

“Dis ʼn seer wat jy vir niemand kan beskryf nie. Daar is geen handleiding nie,” het Alexa Jooste, Charlene se suster, vroeër vanjaar aan Maroela Media gesê.

ʼn Jaar ná October se moord is die seer vir haar geliefdes nog rou – daar is soveel mylpale wat October nie saam met haar familie kan deel nie. Sy sou boonop vanjaar haar 50ste verjaardag gevier het.

Jooste sê hulle sal waarskynlik nooit antwoorde hê oor waarom haar suster se lewe kortgeknip is nie.

“Wat ons wel weet, is dat sy dit nie verdien het nie. Hierdie kinders verdien nie om sonder die liefde van hul ma en ouma groot te word nie. My 72-jarige ma moes nóóit haar dogter begrawe het nie.”

Hulle sal egter altyd vasklou aan die mooi herinneringe aan October. Dis veral haar humorsin en aansteeklike lag wat hulle sal bybly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wondermaarnet ·

Die doodstraf is al wat moordenaars 2 maal sal laat dink voor hulle moor.

JohanEtz ·

Doodstraf in verkeerde hande. ….met ons skewe regstelsel…eish….

Danie ·

As die doodstraf teruggebring word sal daar geen misdadigers oorbly om ons lewens hel te maak.Daar sal ook nie werk vir die lomp regstelsel meer wees nie.Ek dink misdaad is werkskepping vir die regering.

Swerwer ·

Baie sterkte aan die familie van Charlene. Dit is afgryslik en die doodstraf behoort onmiddelik ingestel te word.

Niklaas ·

Dit klink na regverdige straf , mits dit nie sommer met amnestie of vroee parool versag word nie. Dan is dit ‘n minder gepaste straf vir hierdie deeglik beplande moord.

Windhond ·

Doodstraf – met keuse van parool na die vonnis voltrek is

Althes ·

My hart gaan uit na haar familie. Mag hy vrot in die tronk en nooit weer die vars lug van ñ gewone lewe inasem nie

Pietertjie ·

Hy behoort so oor ses jaar in aanmerking te kom vir parool.

Miena ·

Ek lees hier van die kommentare en doodstraf spring uit elke 2e ene op. Mense – solank as wat ons die MRK het en die Grondwet nie verander word nie – sal ons nie die doodstraf weer in SA sien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.