City Power verloor reeds miljoene – en al meer klim van netwerk af

(Foto: Facebook / City Power)

Die Johannesburgse kragverskaffer City Power het reeds ʼn groot finansiële knou weens die nasionale kragkrisis in die land gekry, terwyl talle van sy betalende klante van die netwerk afklim en eerder in alternatiewe opwekkingshulpbronne soos sonkragpanele belê.

Isaac Mangena, woordvoerder by City Power, sê die verskaffer verloor nie net van sy inkomste wanneer die ligte afgaan nie, maar moet ook meer geld aan byvoorbeeld instandhouding of die vervanging van infrastruktuur bestee.

City Power se kragstasies loop gereeld onder vandalisme en diefstal deur, veral wanneer beurtkrag ingestel word.

“Tussen 1 Julie 2021 en 11 November 2022 het City Power altesame 122 dae se beurtkrag gehad, met 2 175 voorvalle van diefstal en vandalisme wat gewoonlik gedurende beurtkrag plaasvind.”

City Power sê hy het oor die afgelope jaar reeds R200 miljoen aan 390 mini-substasies bestee weens dié misdadigheid. “Ons verloor gemiddeld twee mini-substasies per dag.

“Dit is nie die werk van amateurmisdadigers nie, maar van toegewyde en gewapende sindikate met baie hulpbronne.”

Tussen Julie 2021 en 30 Junie 2022 het City Power 386 GWh verloor – wat op ʼn verlies van R284 miljoen neerkom.

Verder het die maatskappy in dié tyd R155 miljoen aan oortydbetaling bestee weens beurtkrag, en R35 miljoen aan versekering. Dit dui op ʼn algehele verlies van R474 miljoen.

“Ons verloor ook klante en inkomste weens mense wat van die netwerk afklim en in alternatiewe energiebronne soos sonpanele en batterystelsels belê.”

City Power sê die maatskappy sal nou weer aan die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, skryf om te vra dat die polisie meer hulpbronne beskikbaar stel om “die aanval op Johannesburg te stuit”.

“Ons het verlede jaar ʼn soortgelyke gesprek met die polisie se bestuur gehad. Dit het tot ʼn afname in diefstal en die beskadiging van kritieke infrastruktuur gelei.”

City Power se plan

City Power sê hy sal ondanks die voortslepende krisis deurdruk en sy eie volhoubare energiestrategie in werking stel.

Met dié strategie wil die verskaffer energiegelykheid bevorder – wat beteken dat meer mense toegang tot krag sal hê; energie-onafhanklikheid – wat beteken dat die verskaffer minder op Eskom staatmaak, asook verhoogde energiesekerheid en energieverskaffing.

City Power is ook besig met ʼn projek om krag van onafhanklike verskaffers op kort en lang termyn te bekom.

“Ons doel is om ʼn bykomende 500 MW se elektrisiteit te bekom.”

Die verskaffer het ook ʼn plan van R401 miljoen opgestel oor hoe die krisis in die kort tot mediumtermyn getakel kan word om beurtkrag tot op fase 3 vermy.

Dit is egter nie geld wat die stad reeds het nie, en hy sal verskeie stappe doen om finansiering te probeer bekom, onder meer uit die private sektor.

Die plan

  • Met R20 miljoen wil City Power twee bestaande oopsiklus-gasturbinestasies in gebruik neem. Dit sal ook beteken dat die verskaffer diesel moet aankoop en gebruik.
  • Teen R85 miljoen wil City Power ʼn herleidingstelsel instel, wat toestelle wat baie krag gebruik afsonderlik kan reguleer, onder meer geisers en swembadmotors. Dit kan glo nog 80 MW se kapasiteit bespaar wanneer dit nodig is.
  • Teen R175 miljoen wil City Power slimmeters en kommunikasiestelsels bekom en versprei wat die verskaffer sal help om die hoeveelheid krag wat aan huishoudings versprei word, te beperk. Dit sal genoeg krag vir noodsaaklike toestelle laat. Dit sal ʼn verdere 322 MW bespaar.
  • R120 miljoen is verder nodig om City Power se energiebestuurstelsel op te gradeer, wat die verskaffer in staat sal stel om die doeltreffendheid van sy transmissiestelsel beter te moniteer, beheer en optimaliseer.

Sou City Power dié geld bekom, sal hy die plan glo binne ses maande kan uitvoer aangesien baie van die infrastruktuur reeds in plek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Wat ‘n wonderlike ANC land! Waar kan ek nou gaan NEE stem?

Prikkie ·

Al die betalende verbruikers gaan mettertyd, die wat dit kan bekostig, afklim. Julle is gedoem tot ondergang, en wie moet ons bedank?

Pietertjie ·

Ek wonder of dié sindikate ook met Luthuli Huis verbind kan word

Nie Verbaas ·

Moenie kla nie. Jy het vir ANC gestem en die misdaad en krag probleem is daar as gevolg van n hopelose en korrupte regering, kaders, regstelsel, polisiemag en natuurlik vol hoed leë kop Cele. Dis maar swaar wanneer kaders nie dink aan nagevolge van hulle aksies nie. Stoom voort, it’s your time to eat nê?

Willem Wikkelspies ·

Hoor ek reg? Kla die stad omdat die mense ‘afklim van die netwerk’ en hulle nou ook inkomste verloor ..
In die wyse woorde van Andre Swiegers ‘.. Jammer om te hoor .. ‘ :-D

LANA is ELANè ·

Als volgens plan vd WEF, die hele kragkrisis is ñ klug om mense te forseer in ñ NWO.

Nico ·

Hoekom word Soweto se miljaard rand se skuld afgeskryf nou wil julle kom kla en kerm omdat julle begin geld verloor.

annie ·

Sou City Power die geld bekom… Die ANC het ons suur bekom. Hoe lyk dit met ‘n korrelbedatoomkragplannetjie onder die wyse leiding van AfriForum se fisici? Iewers ‘n veldjie by a school wat ooplê? Die Forum s a l s e l f die onkruid uitskoffel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.