Covid-19: Londenaars snel gestrande SA’ners te hulp

Jandré van Wyk en sy mede-Suid-Afrikaners wat Donderdag op die lughawe in Heathrow, Londen gestrand was. (Foto: Verskaf)

Sowat 150 Suid-Afrikaners wat gisteraand (Donderdag) op Heathrow Internasionale Lughawe in Londen gestrand geraak het, wag tevergeefs op hulp van die Suid-Afrikaanse regering om na hul vaderland te kan terugkeer. Ook in talle ander lande sit Suid-Afrikaanse burgers gestrand.

“Asseblief, as iemand ons kan help om terug te kom in SA, sal dit fantasties wees,” pleit Jandré van Wyk (19), ʼn Suid-Afrikaanse jongman wat biochemie aan die Colorado Mesa-universiteit in Texas studeer en wat deel van die gestrande Suid-Afrikaanse groep in Londen is. “Ons wil net so gou moontlik terugkom in ons land en by ons families.”

Dié Suid-Afrikaners en ook ʼn paar mense van ander Afrikalande was van reg oor die wêreld op pad terug na Suid-Afrika, en sou op die laaste vlug wees wat gisteraand om 18:10 vanaf Heathrow na Suid-Afrika sou vertrek.

Van Wyk sê toe die tyd van afsondering in Suid-Afrika Sondag aangekondig is, het hy dadelik begin reisreëlings tref om betyds tuis te wees. “Ek moes vanaf Grand Junction-lughawe in Colorado na Dallas, Texas, vlieg, en van daar na Londen om ʼn aansluitingsvlug Suid-Afrika toe te kry. Ek sou gisteraand met die laaste British Airways-vlug huis toe gevlieg het, en is deurgaans verseker dat ons wel in SA sou kon land. Op Heathrow aangekom, is ons egter ingelig dat OR Tambo reeds gesluit is en dat ons vlug gekanselleer is.”

Nie die lugredery of die Suid-Afrikaanse ambassade was Jandré en sy medereisigers tot dusver van enige hulp nie. British Airways en American Airlines sê dis die Suid-Afrikaanse regering se verantwoordelikheid om sy burgers by die huis te kry, maar van die SA ambassade in Londen was daar nog geen hulp nie. “Ek het self die Suid-Afrikaanse ambassade gekontak, maar geen hulp gekry nie. Ek is uiters teleurgesteld in hoe Suid-Afrikaners hul burgers in die buiteland hanteer,” sê hy.

“Ons het nie warm klere nie”

Carlanette van der Merwe,een van die gestrande Suid-Afrikaners in Londen. (Foto: Verskaf)

Die 27-jarige Carlanette van der Merwe is ook een van die Suid-Afrikaners wat tans in Londen gestrand is. Sy het op ʼn Carnival-passasierskip gewerk toe die korona-pandemie wêreldwyd uitbreek.

“Die oomblik toe die virus begin hand-uit ruk, het die passasierskip anker gegooi. Passasiers is van die skip verwyder, maar die personeel moes aanbly om na die skip om te sien,” vertel haar ma, Elri Schoonbee. “As gevolg van die afsondering het Carlanette toenemend onveilig begin voel. Met ʼn groot gesukkel kon sy die skip verlaat, en ons het vir haar ʼn kaartjie gekoop om terug te keer huis toe. Sy moes drie dae reis van New Orleans in Boston tot in Londen, maar ons is deurlopend verseker dat sy steeds huis toe sal kan vlieg. En toe, net ʼn paar uur voor hulle vlug uit Londen sou opstyg, word sy in kennis gestel dat OR Tambo-lughawe gesluit en hul vlug gekanselleer is.”

“Dis baie koud hier. Die meeste van ons het geen warm klere ingepak nie omdat ons van warm plekke af kom,” het Carlanette aan Maroela Media vertel. “Die meeste van ons het ook nie geld om nou lank in Londen te oorleef nie en is afhanklik van hulp van ons werkgewers en plaaslike mense.”

Vir die groep Suid-Afrikaners was die nagmerrie nog lank nie verby nie.

“Doeane het vir ons visums vir drie maande se verblyf in Engeland uitgereik, en die lughawe het ons as’t ware uitgegooi en gesê ons mag nie langer daar bly nie,” vertel Schoonbee. “British Airways het eenvoudig gesê dis ook nie hulle verantwoordelikheid om verder na die Suid-Afrikaners om te sien nie.”

Ook Bianca Koen, ʼn student wat in die VSA gaan tennis speel het, moes inderhaas terugkeer SA toe, maar moes gisteraand op Heathrow die realiteit in die oë kyk dat sy nie huis toe sal kan gaan nie.

Bianca Koen, een van die Suid-Afrikaners wat gestrand is in Londen. (Foto: Verskaf)

“Ek het van Fort Smith in Arkansas na Fort Worth Dallas gevlieg, en van daar na Londen. Op Heathrow het ek deur al die sekerheidsklarings gegaan, en toe ek uiteindelik op die bord kyk om te sien watter hek ek moet gebruik, sien ek my vlug is gekanselleer. British Airways het my bloot ingelig dat my vlug gekanselleer is, en dat niemand Suid-Afrika meer mag binnegaan nie.”

Londenaars maak hul huise oop

Te midde van die traumatiese gebeure het Afrikaanssprekendes én Britte in Londen hul harte en huise vir die groep gestrande Suid-Afrikaners oopgemaak.

“Daar was ongelooflik baie ondersteuning uit die gemeenskap in Londen, onder andere Afrikaanssprekendes wat daar woon,” vertel sy. “Afrikaanse kerke het onder meer ingespring en gehelp. Mense het kospakkies aangery, want alle restaurante is natuurlik gesluit. Dit is mooi om te sien hoe mense in hierdie krisis vir mekaar omgee.”

Uiteindelik het al die Suid-Afrikaners gisteraand slaapplek gekry by gesinne wat hulp aangebied het. Ene Hayley, ʼn inwoner van Londen, werk onverpoos om seker te maak dat elkeen in die groep ʼn veilige slaapplek het en het by navraag aan Maroela Media gesê sy laat geen steen onaangeroer om seker te maak almal is veilig en versorg nie. Een gesin het vir twintig mense tydelike blyplek gegee. Carlanette se werkgewer, Park West Galery, het laat gisternag vir hulle blyplek in ʼn bed-en-ontbyt gekry waar hulle tot Maandag kan bly, terwyl Jandré en Bianca saam met nog twee gestrandes, Shultz Ncube van Zimbabwe en Ilze de Kock (ook van SA), blyplek gekry het by die Britse McCormick-gesin wat hulle oor die vier jongmense ontferm het.

“Die familie sal ons veilig hou en huisvesting gee tot ons nuus van die Suid-Afrikaanse regering kry oor wanneer ons huis toe mag kom,” sê Jandré.

“Dis ongelooflik om te sien hoe Afrikaanssprekendes en Britte betrokke is en help om planne te maak om ons almal te akkommodeer,” sê Carlanette. “Daar is sprake van ʼn kerk en woonstelle met matrasse waar ons sal kan bly, en mense het vir ons kos gebring.”

Volgens Carlanette is hulle almal op ʼn WhatsApp-groep sodat hulle in aanraking met mekaar kan bly en seker kan maak almal is veilig. “Daar is honderde boodskappe wat op die groep heen en weer vlieg soos almal skarrel om tydelik blyplek te kry,” sê sy.

‘n Groep Suid-Afrikaners by ‘n Britse gesin wat ingestem het om hulle in te neem tot hulle ‘n vlug terug huistoe kry. (Foto: Verskaf)

Schoonbee sê uit pres. Ramaphosa se aankondiging oor die isolasietydperk Sondagaand het hulle verstaan Suid-Afrikaners in die buiteland sou steeds so gou moontlik kon terugkeer na SA. “Ons het vir ons dogter ʼn kaartjie van R30 000 gekoop om haar veilig tuis te kry. Ander families soos ons het ook enorme uitgawes aangegaan om inderhaas reisreëlings te tref. Nou is ons geliefdes gestrand in Londen, met bitter min kontant tot hulle beskikking omdat hulle en ons reeds soveel moes bestee aan addisionele vlugte, én die rand-pond-wisselkoers wat dit vir hulle peperduur maak om daar te oorleef.

“Die afgelope week was hel,” vertel sy. “Ons is gedreineer. Vandat Carlanette begin terugreis het, het ons nie geweet of sy iewers gestop en in kwarantyn geplaas gaan word nie. Toe ons gister hoor haar vlug is gekanselleer, was ons in sak en as. Ek het nie ʼn oog toegemaak nie, tot ek gisteraand gehoor het sy is veilig in iemand se huis. Hierdie week wil ek nooit in my lewe oor hê nie.”

Suid-Afrikaners gestrand in ander lande

Intussen het talle Suid-Afrikaners wat in ander plekke reg oor die wêreld gestrand is, met soortgelyke nagmerrie-verhale vorendag gekom. Volgens ʼn boodskap wat van ʼn betroubare bron ontvang is, is vier Suid-Afrikaanse paartjies gestrand in die Maldives terwyl hul kinders in Suid-Afrika by familie en vriende tuisgaan. Dié gesinne probeer glo reeds sedert Maandag om ʼn vlug terug na Suid-Afrika te kry, maar sonder sukses. ʼn Ander groep Suid-Afrikaners is ná ʼn reis op die Costa Luminosa-passasierskip nou gestrand in ʼn hotel in Italië, waar hulle in kwarantyn geplaas is. Die hotel is gesluit as gevolg van die korona-uitbreking en daar is ʼn tekort aan kos, sanitêre ware, mediese versorging en ander basiese benodighede. Nog ʼn Suid-Afrikaner wat vroeër vandeesweek van Amsterdam na Kaapstad sou vlieg, het sy vlug misgeloop toe dit vervroeg is. Alle verdere vlugte uit Amsterdam is gekanselleer. ʼn Ander groep van vier Suid-Afrikaners se vlug wat Maandag 20 Maart uit Lissabon in Portugal sou vertrek, is weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie gekanselleer, wat hulle in Lissabon gestrand gelaat het. In al dié gevalle het die plaaslike Suid-Afrikaanse ambassades weinig tot geen hulp aangebied nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AlWeerSo ·

Wees bly julle het die hulp daar nodig gekry, hier in Suid Afrika is dit elke ou vir homself, dankie Britte!

Anel ·

En ek julle verseker as die ” our people” was, sou die ambassades uit hulle pad gegaan het om te help.

lollapot ·

Sterkte aan Al ons gestrande mense. . . En dankie aan elkeen wat hande en Harte oopmaak om hulle the versorg!

Yvonne ·

Dit klink die wat in die ambassade sit is totaal onbevoeg om sake te hanteer

Jaco ·

Wil julle REGTIG terugkom na ‘n land met:
-Beurtkrag
-Vuil swak staatshospitale
-min of geen munisipale dienslewering
-Lae onderwysstandaarde waar leerders onderwysers mag aanrand
-Regstellende aksie en BEE wat beteken julle wonderlike grade beteken niks. Net die “regte” velkleur gee jou werk
-Aanrandings
-Verkragtings
-Moorde
-Plaasaanvalle
-Plaasmoorde
Bly eerder NET waar julle is. Selfs ‘n shelter for the homeless in Londen of New York is beter as Suid-Afrika

Fedup ·

Britte is altyd begulpsaam. Ek kan dit glad nie sê van die agteraf goed in suid afrika. Wat ń skande. Thank you for taking care of those who are not your responsibility.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.