Covid-19-pasiënt praat oor koue nag in ambulans

Friedrika Matthee in die ambulans. (Foto: Verskaf)

“Ek het nog nooit so unwanted gevoel nie.”

Só vertel Friedrika Matthee (29) van Worcester in die Wes-Kaap wat Vrydagaand ure in ʼn koue ambulans deurgebring het nadat sy van ’n kwarantynfasiliteit na ’n isolasiefasiliteit in Johannesburg oorgeplaas moes word. Dit nadat sy positief getoets het vir die nuwe koronavirus. Die betrokke isolasiefasiliteit het egter nie plek vir haar en nog ’n Covid-19-pasiënt gehad nie en die kwarantynfasiliteit het volstrek geweier om hulle weer toe te laat.

Die twee pasiënte is toe aan die genade van die ambulanspersoneel oorgelaat wat inderhaas probeer planne beraam het om ’n heenkome vir hulle te vind.

Matthee vertel aan Maroela Media sy het op 9 Junie na Suid-Afrika vanuit die buiteland teruggekeer waar sy op skepe gewerk het. Sy is in kwarantyn in Kempton Park geplaas, waar sy verlede Maandag in die vroeë oggendure ’n boodskap van die laboratorium ontvang het dat sy positief getoets het vir Covid-19. Sy toon in dié stadium geen simptome van die virus nie.

Volgens Matthee is daar toe aan haar gesê dat dié betrokke fasiliteit ’n kwarantynfasiliteit is en dat sy na ’n isolasiefasiliteit moet gaan. Sy is egter nie ingelig of sy self vir haar plek by dié fasiliteit moet bespreek en teen wanneer sy die kwarantynfasiliteit moet verlaat nie.

Sy het toe deur iemand anders ’n bespreking gemaak, maar steeds nie geweet wanneer sy daar kon inboek nie.

“Toe kondig hulle Vrydagaand omtrent 21:30 af dat almal wat na ’n private isolasiefasiliteit gaan, na die voorportaal moet kom,” sê sy.

Volgens Matthee was hulle vier pasiënte wat met hul bagasie in ’n ambulans na die isolasiefasiliteit vervoer moes word. Daar gekom is daar egter aan hulle gesê dat hulle slegs twee van die pasiënte se besprekings ontvang het en dat daar dus nie plek vir haar en ʼn ander pasiënt was nie.

Die pasiënte se bagasie in die ambulans. (Foto: Verskaf)

“Ek het eers nie veel daarvan gedink nie. Ek het aangeneem ons sou net teruggaan na die kwarantynfasiliteit. Ek het toe die verpleegster [by die kwarantynfasiliteit] gebel en sy het gevra om met een van die ambulanspersoneel te praat. Daar word toe aan haar gesê dat ons nie mág teruggaan nie, omdat ons nie die kwarantynfasiliteit se verantwoordelikheid is nie. Maar wie se verantwoordelikheid is ons dan?” wil Matthee nou weet.

Sy vertel dat die ambulanspersoneel toe na ’n ander isolasiefasiliteit gery het wat ook nie plek gehad het nie. “Ons het vrek koud gekry. Die ambulans se lugversorger het nie gewerk nie en daar was geen komberse nie. [Die ambulanspersoneel] het ná 00:00 besluit om ons maar na hul werkplek te neem waar die ambulanse oornag parkeer word.”

Volgens Matthee het sy en die ander pasiënt hiér darem in ’n ambulans met ’n werkende lugversorger geklim terwyl die ambulanspersoneel en hulle kollegas ’n plan probeer beraam het. Om sake te vererger was Matthee se selfoonbattery in dié stadium pap en kon sy nie meer met haar ouers in die Kaap kommunikeer nie.

Friedrika Matthee (Foto: Verskaf)

Volgens Matthee het sy haarself reeds daarop voorberei om in die ambulans te slaap toe hulle ná 01:00 eindelik ’n oproep op die ander pasiënt se foon ontvang om hulle in kennis te stel dat hulle mag teruggaan na die oorspronklike kwarantynfasiliteit – nét vir die nag.

Sy vertel dat sy begin huil het toe sy eindelik in die vroeë oggendure in haar ou kamer in die kwarantynfasiliteit ingestap het. Sy was in dié stadium steeds onseker waar sy die volgende dag moes heen. “Niemand is veronderstel om ooit in hul lewe so te voel nie,” sê sy.

Volgens Matthee het sy verskeie oproepe die volgende dag gemaak om vir haar ’n heenkome te probeer reël, waarna sy omstreeks 15:00 ’n oproep ontvang het dat haar vervoer vir haar wag om haar na ’n isolasiefasiliteit te neem.

Dit is in dié staatsfasiliteit waar sy intussen in isolasie bly. “Die stort is warm en die kos is lekker, maar ek is al van Maart op skepe alleen in ’n kamer. Dit was al klaar so traumaties om tot in Suid-Afrika te kom, positief te toets vir die virus en nou dít.

“Ek wil nooit in hierdie land bly nie. Wat gaan word van die land? Ander lande sorg vir hulle mense,” sê sy.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pierreli ·

Friedrika Matthee, jy is wit, dis die probleem. Die beste is om jouself te isoleer by jou eie huis. Bly weg van ‘n hospitaal. Daar word jy deel van die statistieke…

Luister ·

Ai tog! Lees tog net die stuk deur. Hoe moet sy by haar huis kom in die Wes-Kaap terwyl sy soos ‘n gevangene behandel word in Gauteng?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.