Covid-19 plaas staatsdiensonderhandelinge op ys

Argieffoto (Foto: USA-Reiseblogger, Pixabay)

Die onderhandelings oor salarisse vir die staatsdiens het ’n dooiepunt bereik wat waarskynlik eers na die huidige afsonderingstydperk opgelos gaan kan word.

Só het vakbondbronne by navraag aan Maroela Media gesê.

Die onderhandelings is die haak waaraan die nasionale begroting vanjaar hang, want sonder die besparing van R37 miljard deur die inkorting van die staatsdiens se salarisrekening is die begroting wat die minister van finansies, Tito Mboweni, in Februarie aangekondig het, onuitvoerbaar.

Die staat het aanvanklik ’n verhoging van 0% vir vanjaar aangebied toe salarisonderhandelings verlede maand begin het. Dit is eenparig en dadelik deur die staatsdiensvakbonde verwerp omdat die vakbonde die staat gebonde ag aan ’n skriftelike driejaar-ooreenkoms wat die staat as werkgewer onderteken het en nou eers in sy finale jaar van uitvoering is.

Die staat het vervolgens aangevoer die land is nie tans in ’n fiskale posisie om aan die ooreenkoms te voldoen nie. Die vakbonde het egter uitgewys dat landdroste, regters en werknemers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wel vanjaar ’n salarisverhoging van 4,1% uit die staatskas ontvang het.

Daarna het die staat ’n aanbod van ʼn 4,4%-verhoging gemaak, maar die vakbonde het uitgewys dit is misleidend. Volgens die vakbonde geld dié aanbod slegs vir vlakke 1 tot 7 in die staatsdiens en 3% van die 4,4% is ’n eenmalige enkelbedrag, wat beteken dit is glad nie ’n salarisverhoging nie, want daar is geen kumulatiewe effek nie.

Die meeste vakbonde het daarna as volgende stap voorgestaan dat ’n verklarende bevel om die skriftelike ooreenkoms van krag te maak, bloot van die arbeidshof verkry word, wat as ’n maklike wen gesien is.

Die Covid-19-pandemie en die onverwagse las wat dit op die staatsfinansies plaas het, het egter nou die denke by sommige vakbonde verander.

Dit raak al hoe duideliker dat die nasionale begroting waarskynlik heropgestel gaan moet word, met die staat in ’n veel swakker possie as tevore.

Dit laat sommige vakbonde se fokus nou skuif na die behoud van werkgeleenthede eerder as die bedinging van salarisverhogings.

Na wat verstaan word, is die onsekerheid oor die toestand van staatsfinansies dus die rede vir die huidige dooiepunt, en word enige vordering met salarisonderhandelinge voor die opheffing van die algehele afsonderingsperiode onwaarskynlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Burgermeester ·

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek gun almal ‘n salarisverhoging. Dit het niks met my uit te maak of jy dit verdien of nie, ons almal wil Kersgeskenke koop. Maar … mense moet nie ‘n gegewe perd in die bek ruk nie. Wees bly jy het ‘n werk en dat jy nog ‘n salaris kan trek. Daar is ondernemings waar die werkers se salarisse gesny is, net sodat almal hul werk kan behou. Maar ongelukkig is dit bo sommige mense se begrip dat jy kort-termyn opofferings moet maak ten bate van ander mense. Vra ek nou heeltemal te veel van my medemens?

Rodger17 ·

Staatsamptenare is reeds oorbetaal waarom baklei vir meer geld as hul steeds minder werk doen?Daar is amptenare wat hul geld verdien maar die massas is daar slegs vir die geld en byvoordele.Dit is nie nou die tyd om te wil staak vir hoër salarisse nie.Daar is eenvoudig nie geld nie,wát verstaan hulle nie?Ten minste het hul n inkomste.Asb staatsamptenare stop jul vraatsigheid en wees tevrede met wat jul het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.