Covid-19: SA skarrel vir mediese toerusting

(Foto: Vincent Thian/AP)

Suid-Afrika sal vinnig lesse uit die Covid-19-pandemie moet leer om voortaan ʼn herhaling van die huidige geskarrel te voorkom.

Só het prof. Alex van den Heever, ʼn gesondheidsekonoom verbonde aan Wits se Skool vir Regeerkunde, Maandag gewaarsku terwyl die land spook om genoeg persoonlike beskermingstoerusting, toetsstelle en nou ook ventilators in die hande te kry.

Volgens voorspellings sal Suid-Afrika maandeliks sowat 120 000 ventilators nodig hê indien meer as die helfte van Suid-Afrikaners siek word, maar hospitale het tans net 6 000 tot hul beskikking.

Dr. Angelique Coetzee, nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het selfs voor die afsonderingstydperk gewaarsku teen ʼn “katastrofiese ramp” as die getal Covid-19-pasiënte beduidend styg. Volgens Coetzee het Suid-Afrika nie genoeg mediese geriewe en voorraad om massas pasiënte te behandel nie.

Dr. Sibongiseni Dhlomo, hoof van die parlementêre komitee vir gesondheid, het verlede week ook sy kommer uitgespreek oor die tekort aan beskermende kleredrag vir gesondheidswerkers in openbare hospitale.

(Foto: Brian Inganga/AP)

Die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) het hom intussen tot die arbeidshof gewend om die regering te dwing om gesondheidswerkers van voldoende beskermende toerusting te voorsien.

Die saak word na verwagting Dinsdag aangehoor.

Beter voorbereiding

Van den Heever sê Suid-Afrika moet begin voorberei om voortaan beter op soortgelyke uitbrekings te reageer. “Ons was glad nie voorbereid nie. Ons het te stadig begin om ons toetskapasiteit te verhoog en [die regering] was te selfversekerd dat die virus deur normale sifting by grensposte in bedwang gebring kon word.

“Ons het nie genoeg voorraad [van persoonlike beskermingstoerusting, toetsstelle en ventilators] opgebou nie en ons het nie inligting of stelsels gereed gehad nie,” het Van den Heever gesê.

Hy meen die regering het reg opgetree deur aanvanklik ʼn stelsel van sosiale distansiëring en toe ʼn staat van algehele afsondering in werking te stel, maar “die res van die voorkomingsprogram was nie reeds ingestel nie en Suid-Afrika gaan dit moet regkry”.

(Foto: ANI)

Tekort aan ventilators

Van den Heever sê omdat die virus die respiratoriese stelsel aanval, is ventilators nou een van die items wat regerings wêreldwyd spook om in die hande te kry. Hospitaalbeddens in hoë- en intensiewesorgeenhede is gewoonlik die enigstes met ventilators.

Sou daar dus skielik ʼn beduidende toename in pasiënte wees wat dié asemhalingstoestelle benodig, is die gesondheidsorgstelsel in die moeilikheid.

Van den Heever sê volgens sy navorsing het Suid-Afrika nagenoeg 2 200 hoësorg- en intensiewesorgbeddens in staatshospitale en naastenby 4 000 in die private sektor. Die meeste van die beddens word egter deurlopend gebruik. Sou alle nienoodsaaklike operasies opgeskort word, kan dit ekstra ventilators vir Covid-19-pasiënte beskikbaar stel.

Philip van Staden, die VF Plus-woordvoerder oor gesondheid, sê die tekort aan beskermende toerusting vir medici moet ʼn prioriteit vir die minister van gesondheid wees. Indien hulle nie behoorlik beskerm word nie, staar ʼn selfs groter krisis Suid-Afrika in die gesig.

(Foto: Brian Inganga/AP)

“Die openbare gesondheidsektor het oor die jare onderbelê in die vervaardiging en aankoop van kritieke mediese toerusting. Die vraag na ventilators is reeds besig om die aanbod te oorskry en daarom sal daar in ʼn stadium gekyk moet word na metodes om voorkeur te gee aan pasiënte wat dit die meeste benodig,” sê Van Staden.

Hy sê volgens aanduidings gaan meer as 60% van Suid-Afrika se 60 miljoen mense die een of ander tyd Covid-19 opdoen. Dit is sowat 36 miljoen mense.

“Hiervan gaan sowat 4% ventilasie benodig, dus sowat 1,44 miljoen mense. Eweredig versprei oor ʼn jaar beteken dit sowat 120 000 mense per maand. Dit is dus duidelik dat die krisis waarin Suid-Afrika en die wêreld inbeweeg nou kritiek raak.”

News24 het vroeër berig die South African Emergency Ventilator Project (SAEVP), ʼn niewinsgewende maatskappy onder leiding van sakeman Justin Corbett, het intussen met ʼn projek begin om ʼn ou, meganiese ventilator in Suid-Afrika te laat herleef in ʼn poging om die tekort plaaslik aan te vul.

Die SAEVP beoog om die Nuffield 200 met die hulp van die Britse vervaardiger Penlon in Suid-Afrika te produseer. Die ventilator is heeltemal meganies, het geen elektroniese komponente nie, is draagbaar en benodig nie elektrisiteit nie.

Die Suid-Afrikaanse wapenvervaardiger Denel het ook aangekondig hy gaan sy hulpbronne en kundigheid inspan om op tuisbodem ventilators te ontwerp en te vervaardig, het African News Agency berig.

Suster Nomusa Mthethwa ondersoek inwoners vir Covid-19 in Umlazi, suid van Durban. (Foto: Zanele Zulu/ANA)

Danie du Toit, uitvoerende groephoof van Denel, het gesê ingenieurs werk reeds aan Projek Sabela wat in samewerking met ander staatsinstellings, navorsers en maatskappye wat in mediese tegnologie spesialiseer, aangepak word. Die projek is nog in ʼn beginstadium. “Ons is vol vertroue dat die plaaslike inisiatief gaan help om die groot nood vir ventilators in staats- en private hospitale te verlig,” het Du Toit gesê.

Denel oorweeg ook ander projekte om bestaande tegnologie te gebruik om in die stryd teen die pandemie te help. Dit sluit in die moontlike omskakeling van mynbestande voertuie in ambulanse.

Van den Heever sê dit is kritiek noodsaaklik dat Suid-Afrika ʼn voorraad ventilators, persoonlike beskermingstoerusting en ander toetsbenodigdhede opbou. Hy sê dit is ook belangrik dat daar nie volkome op ander lande vir die vervaardiging daarvan staatgemaak word nie.

Motorvervaardigers kan in ʼn krisis byvoorbeeld na die produksie van ventilators oorskakel.

“Eerstens moet ons die plaaslike kapasiteit hê om die voorraad te produseer en tweedens moet ons ʼn voorraad daarvan opbou.”

Volgens Van den Heever koop die VSA tans byvoorbeeld bykans alle reagente vir Covid-19-toetse aan. Dié land sukkel ook self met ʼn tekort aan ventilators. Einde verlede maand is berig die VSA benodig binne die volgende twee weke minstens 30 000 ventilators om in die vraag daarna te voldoen.

Van den Heever sê in ʼn krisistyd kyk “elke land na homself” en vanuit ʼn strategiese oogpunt is dit dus beter as ʼn land sy eie toerusting kan produseer.

‘n Voertuig van die Durbanse metropolisie versper ‘n pad in Chatsworth, Durban, waar iemand positief vir Covid-19 getoets het. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Afsondering kan nie volgehou word nie

Van den Heever sê die Suid-Afrikaanse regering het die staat van algehele afsondering vroeër as lande soos Italië en die VSA in werking gestel. Dié strategie kan moontlik vrugte afwerp om die verspreiding van die virus te stuit.

“Ons kan egter nie die afsonderingstydperk onbepaald volhou nie. Ons benodig ʼn voorkomingstrategie wat nié gegrond is op ʼn staat van algehele afsondering nie.”

Dít beteken daar moet veel meer mense vir Covid-19 getoets word en diegene wat moontlik die virus opgedoen het, moet vroeër eerder as later nagespoor word. “As ons dit volhou, gaan ons dalk nie al die beddens in intensiewesorgeenhede benodig nie.”

Hy waarsku tot dusver het die toetse egter groot gedeeltes van die bevolking uitgesluit. Daar word ook steeds te min mense vir die virus getoets. “Ons het nie ʼn idee van die omvang van die epidemie nie, want ons weet nie of almal opgespoor word nie.”

Van den Heever voorspel dat die regering dié maand beduidend meer toetse gaan doen.

“Die strategie moet werk. Indien nie, gaan die ekonomiese gevolge verwoestend wees.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

koos10 ·

Na aanleiding van wat ek gelees het oor die ventilators wat die F1 spanne ontwerp het, het ek gewonder of die masjiene was mense gebruik vir slaapaknee moontlik ook kan werk. Ek weet dat die masjien nie ‘n pyp het om in jou liggaam te gaan nie, maar die masjien forseer ook lug in die longe in?

Kobus ·

Almal prys die regering en veral die president,maar hier is ‘n bewys dat hulle net vir die pawiljoen speel.Mens sou dink dat die voorsiening van beskermende drag prioriteit sou wees,maar dit blyk eerder die geval te wees met perskonferensies.Ek stem saam met die mediese mense,vat hulle hof toe.

Marius ·

Verbeel ek my of het die minister van gesondheid op n stadium gese SA is reg indien die virus SA sou beryk ? Ek vra maar net . Hoe dit ook al nou lyk was hulle als behalwe reg vir die virus . Dit laat mens baie wonder of hulle ooit weet waarmee hulle besig is ???? Dit is mense se lewens en die land se ekonomie , nie een of ander speletjie nie om hulle te laat goed lyk nie . Als behalwe .

Chantel ·

Watter ander land was / is reg vir dit. Ventilators is wêreldwyd ‘n probleem so ook PPE.

Gerhard ·

Goed en wel, maar dan moet die onbevoegde spul nie voorgee hulle kan alles beheer nie.

Gerhard ·

Ons mini-ster van gesondheid het dan nie baie lank gelede nie, vol bravade verklaar dat Suid Afrika reg en gereed is vir hierdie Corona virus…weereens n bewys hoe onbevoeg hierdie spul is. Die Vader behoed ons…

koos10 ·

Sonder om lelik te wees, maar wat het die negatiewe kommetaar gehelp?
As julle nou beter voel is dit reg, maar daar is GEEN oplossing gebied nie.
My ma het my geleer dat as jy niks goed kan sê nie, dan bly jy stil.
O ja, die tekorte is wêreld wyd, nie net in SA nie. Almal in die wêreld sit saam in dieselfde bootjie, en negatiewiteit gaan net die bootjie sink. Ek sit nou eerder in SA met ‘n regering wat iets probeer, as in USA met ‘n president wat alles ontken.

LD ·

“South Africa is ready for the Coronavirus”……. – Says a country that was almost wiped-out by Polony!

Dorry ·

Mense, gaan lees bietjie die oorsee se nuus. Hulle sukkel ook so met beskermde kleredrag, tekort aan ventilators ens. En gaan kyk bietjie waarheen is die wêreld (Suid-Afrika ingesluit) se beskermde kleredrag na uitgevoer.

Boortor ·

Hulle was net so min reg vir die virus as al die ander lande. Wat my die vieste in maak is dat hulle “die ons is reg” leuen uitbasuin van alle moontlike platforms af. En die mense glo dit nog steeds! Almal het voor die krisis geweet van die ventilator storie. Die ander eerste wereld lande sukkel om dit in die hande te kry. En ons? Nee wat! Ons bou sommer 20 000 van die goed in n motor fabriek per dag. Ons is mos reg vir die gogga, dan nie? Van die ekonomie bly ek eerder stil. Hartseer storie, die ekonomie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.