Covid-19: Tekort aan mediese voorraad kan ‘katastrofies’ wees

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Dit sal in ʼn “katastrofiese ramp” ontaard as Suid-Afrika in dieselfde situasie as Italië beland en al hoe meer gevalle van die nuwe koronavirus aanmeld. Dít bloot omdat Suid-Afrika nié genoeg mediese geriewe en voorraad het om massas pasiënte te behandel nie.

Só sê dr. Anqelique Coetzee, nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), aan Maroela Media. Coetzee verwag dat Suid-Afrika binne die volgende week nié net ʼn skerp styging in die aantal bevestigde gevalle gaan beleef nie, maar ook sy eerste sterfte(s) gaan aanmeld. “Dít is ʼn gegewe,” meen Coetzee.

Suid-Afrika het Maandag ʼn styging van 46% in bevestigde gevalle sedert die naweek aangemeld. Die getal bevestigde gevalle staan nou op 402.

Volgens Siviwe Gwarube, die DA se skaduminister vir gesondheid, is oor die 800 hospitaalbeddens en 161 hoësorgbeddens oor die hele openbare en private sektor beskikbaar gestel vir die behandeling van Covid-19-pasiënte in Suid-Afrika.

Volgens Coetzee is dit nie naastenby genoeg nie, veral wat hoësorgbeddens betref, sou ʼn groot aantal mense meteens ernstig siek begin word. Dit geld vir mediese voorraad soos ventilators, maskers, handskoene en ook gesondheidswerkers, verduidelik sy.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Nomagugu Simelane-Zulu, die KwaZulu-Natalse LUR vir gesondheid, het Maandag gesê verskeie privaat gesondheidsdienste het ingestem om hospitaalbeddens gratis aan te bied indien massas pasiënte in dié provinsie met Covid-19 in staatshospitale opgeneem word.

Dié dienste sluit in Royal Hospital, Midlands Medical, Mediclinic, Akeso, Daymed, Netcare, Nurture, Umhlanga, Cheshire Sub-acute, Hibiscus en Busamed.

Volgens Simelane-Zulu sal die instellings teen Woensdag aandui hoeveel beddens beskikbaar gestel word.

Gwarube herinner Maroela Media daaraan dat sowat 80% van Covid-19-pasiënte egter nie só siek word dat hulle in ʼn hospitaal behandel moet word nie. Sy is wel bekommerd dat diegene wat nie in staat is om tuis in kwarantyn te bly nie, soos inwoners van informele nedersettings, in hospitale in kwarantyn geplaas sal moet word. Dit sal veral ʼn probleem word indien al hoe meer mense mekaar aansteek.

Coetzee en Gwarube glo albei Suid-Afrika sal nié die mas kan opkom as die land dieselfde getalle as Italië aanteken nie.

Italië het tot op hede die meeste sterftes wêreldwyd aangemeld. Meer as 5 400 mense in Italië het reeds aan Covid-19 omgekom met byna 60 000 bevestigde gevalle wat hier aangemeld is.

Volgens Coetzee is dit ook nie onmoontlik dat Suid-Afrika hom in Italië se skoene bevind nie weens die hoë aantal pasiënte wat aan tuberkulose of MIV/vigs ly.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Coetzee verduidelik dat Suid-Afrika se tekort aan mediese voorraad en gesondheidswerkers slegs opgelos kan word deur die las van die gesondheidstelsel af te neem en die vraag na mediese voorraad te verminder. Dit kan Suid-Afrikaners doen deur te keer dat die virus versprei. “Dit gaan nie meer oor hoe ek myself teen die virus kan beskerm nie, maar ook hoe ek kan verhoed dat ek iemand anders aansteek,” verduidelik sy. Coetzee is egter van mening dat Suid-Afrikaners nie die erns van die probleem begryp nie. “Algehele isolering gáán kom. Mense wil nie hoor nie.”

Coetzee en Gwarube verduidelik dat dit ook nie net Suid-Afrika is wat ʼn tekort aan mediese voorraad beleef nie. Daar heers ook ʼn chroniese tekort aan toetstoestelle oor die hele wêreld, herinner Gwarube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Africangrey ·

N dubbelle laag katoen met linte vir vasmaak voldoen, almal wat kan naaldwerk doen moet inspring en begin, NOU, en moenie rekkies gebruik nie, die hospitale was al die maskers op 90 grade voor gebruik, kom mense, lig julle, ALMAL moet inspring, hier in nederland maak ons as gewone burgers duisende maskers. Onthou net, n dubbelle laag katoen met linte.

Lorna ·

Maar het ons gewone ou dit nie voorspel toe ramaphosa en die gesondheids minister nog in lala land gelewe het nie
Dis n groot ding die en deur te begin moet ons OP ons kniee begin

J ·

Skei oumense (bò 60) van jongmense (onder 60) sodat die jongmense NIE die ouer mense infekteer nie. Dit is die ouer mense wat ernstige komplikasies kan ontwikkel terwyl die jonges slegs ligte simptome wys.

Jonges kan sélf herstel van die virus terwyl die ouer mense intensiewe mediese sorg benodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.