Covid-19-samevatting: VF Plus-leier se uitslae bekend

Dr. Pieter Groenewald. Argieffoto: Twitter

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het negatief getoets vir die koronavirus. Groenewald is gister getoets en het die uitslag vandag ontvang.

Die toets is onder meer laat doen nadat Groenewald op 18 Maart op ʼn vergadering van politieke leiers in kontak was met eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP. Meshoe het intussen positief getoets vir die virus.

“Dr. Groenewald het op mediese aanbeveling eers sowat twee weke gewag voordat die toets gedoen is om sodoende ʼn meer akkurate en geloofwaardige toetsuitslag te kry,” sê die party in ʼn verklaring.

“Hy is dankbaar oor die negatiewe uitslag en doen opnuut ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om erns te maak met die siekte, voorgeskrewe regulasies na te kom, die afsonderingstydperk te eerbiedig en alle voorsorgmaatreëls moontlik te tref om hulself teen die virus te beskerm,” lui die verklaring.

(Foto: Vincent Thian/AP)

Tekort aan beskermende kleredrag

Dr. Sibongiseni Dhlomo, hoof van die parlementêre komitee vir gesondheid, sê hy is bekommerd oor die beweerde tekort aan beskermende kleredrag vir gesondheidswerkers in openbare hospitale. Dié kleredrag, soos gesigsmaskers, is nodig om mediese personeel te beskerm teen Covid-19.

Dit kom nadat verskeie vakbonde hul ontevredenheid oor die beweerde tekort uitgespreek het.

“Geen gesondheidswerker behoort pasiënte te sien of behandel sonder hierdie kleredrag, veral maskers, nie. Daarom kan ons nie gerugte oor die tekort aan dié kleredrag in hospitale ignoreer nie,” sê Dhlomo en vra minister Zweli Mkhize om die saak te ondersoek.

(Argieffoto: Facebook)

Sekerheidswagte wat Prasa se treinstasies moet patrolleer, het ook Donderdag geweier om verder te werk voordat hulle maskers en handskoene ontvang. “Ek is nou al lank lojaal teenoor my werkgewer, maar ek weier om my lewe en dié van my familie in gevaar te stel deur staatsbeheerde eiendom sonder die nodige kleredrag te beskerm,” sê ʼn Prasa-werknemer in ʼn verklaring deur die vervoervakbond Untu.

Covid-19 in Afrika

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het sy kommer uitgespreek oor die verspreiding van Covid-19 in Afrika. Meer as 6 000 Covid-19-gevalle is reeds op die vasteland aangemeld en die WGO is bekommerd dit kan onhanteerbare druk op ʼn brose gesondheidstelsel kan plaas.

“Die aantal gevalle in Afrika neem eksponensieel toe. Net 16 dae sedert die eerste gevalle in Afrika aangemeld is, het die getal tot 100 toegeneem. Net tien dae later is 1 000 gevalle aangemeld en nog vyf dae later het die gevalle die 3 000 kerf oorgesteek,” sê dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streekshoof vir Afrika.

Hy sê dit is belangrik vir regerings in Afrika om te verseker gemeenskappe het toegang tot basiese gesondheidsdienste en benodighede soos kos.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.