Covid-19-samevatting: 30 van Unilever toets positief

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unilever)

Unilever Suid-Afrika het bevestig 30 van sy werknemers en 12 kontrakteurs by sy fabriek in Boksburg aan die Oos-Rand het positief vir die nuwe koronavirus getoets.

Die fabriek het sy eerste bevestigde geval van Covid-19 die naweek voor Paasfees aangemeld. Dít sowat ’n week nadat die betrokke pasiënt vir die laaste keer by die fabriek was, het Shobna Persadh, direkteur van korporatiewe sake en volhoubare ondernemings, aan News24 gesê.

Unilever en die departement van gesondheid het sedertdien 680 werknemers vir Covid-19 getoets, van wie 30 werknemers en 12 kontrakteurs se toetsresultate positief teruggekom het. Hulle is reeds onder kwarantyn geplaas.

Alle moontlike kontakpersone is ook nagespeur en aanbeveel om te selfisoleer.

Volgens Persadh het Unilever Woensdag met die departement van gesondheid vergader, wat ingestem het dat die fabriek weer kan heropen. Die departement het egter nog nie dié inligting bevestig nie.

Die fabriek is reeds ontsmet, het Persadh gesê.

Anglo American geraak deur afsonderingstydperk

Argieffoto van ongeslypte diamante ter illustrasie

Anglo American het Donderdag die hele jaar se produksievoorligting vir diamante hersien. Die aanvanklike vooruitskatting van tussen 21 miljoen en 34 miljoen karaat is gewysig na tussen 25 miljoen en 27 miljoen karaat. Die diverse myngroep sê die Covid-19-pandemie het ’n negatiewe uitwerking op sy bedrywighede.

Die groep het ook die voorspelling van die platinumuitset van tussen 2,0 miljoen en 2,2 miljoen onse tot tussen 1,5 miljoen en 1,7 miljoen onse verminder. Die voorspelling van palladium is verminder tot tussen 1,0 miljoen en 1,2 miljoen onse, teenoor die 1,4 miljoen onse wat vroeër voorspel is.

Mynmaatskappye is tot stilstand gebring toe die algehele landwye afsondering aanvanklik ingestel is. Afsonderingsregulasies is intussen verslap en myne word nou weer toegelaat om hul bedrywighede gedeeltelik voort te sit.

Mark Cutifani, uitvoerende hoof van Anglo American, het in die maatskappy se produksieverslag vir die eerste kwartaal gesê die maatskappy het deels weens die afsonderingsregulasies 4% minder produksie teen die einde van dié kwartaal aangeteken, vergeleke met die vorige jaar.

Volgens Cutifani het Anglo American nou ’n aantal kostebesparingsmaatreëls ingestel om uitgawes te verminder.

Katte toets positief vir Covid-19

Argieffoto

Twee huiskatte in New York het positief getoets vir die nuwe koronavirus. Die twee diere is die eerste troeteldiere in die VSA om die virus op te doen.

Volgens die Amerikaanse ministerie van landbou en die sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) het die katte die virus moontlik opgedoen by mense in hul huishoudings of in hul woonbuurte. Die troeteldiere het ligte asemhalingsprobleme ervaar, maar sal na verwagting herstel.

Amerikaanse owerhede sê hoewel sommige diere by mense kan aansteek, is daar geen aanduiding daarvan dat troeteldiere Covid-19 aan mense kan oordra nie. “Ons wil nie hê mense moet paniekerig raak nie. Ons wil ook nie hê mense moet bang wees vir troeteldiere nie,” het dr. Casey Barton Behravesh, ’n CDC-amptenaar wat aan mense-dieregesondheidsverbindings werk, gesê.

Maroela Media het vroeër berig ’n tier in ’n dieretuin in New York het vroeër vandeesmaand positief getoets vir die nuwe koronavirus. Die vier jaar oue Maleise tier genaamd Nadia is vermoedelik die eerste dier in die VSA en die eerste tier ter wêreld om Covid-19 op te doen.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Genis ·

Nee Maroela haal asb die kat ding af, mense gaan nou diere weggooi…

Megan Swart ·

Dagsê Genis
Dankie vir jou boodskap. Die berig stel dit baie duidelik dat Amerikaanse owerhede sê hoewel sommige diere by mense kan aansteek, is daar geen aanduiding daarvan dat troeteldiere Covid-19 aan mense kan oordra nie.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Die Wolf ·

Jammer om dit te se, daar is ongelukkig mense wat nie die vermoe het om die berig ten volle te begryp nie en gaan nou weer onnodig simpel optree.

Jan ·

Ek glo dit nie….hoekom is die katte in die eerste plek getoets…wil jy my se al die katre is amerika is dan getoets al is die mense nie getoets nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.