Covid-19-samevatting: Covid-19-pasiënt sterf tydens hartoperasie

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die jongste sterfte weens Covid-19 in Limpopo was ’n bejaarde man wat gedurende ’n hartoperasie oorlede is. Die departement van gesondheid het Woensdagaand aangekondig dat nog ’n persoon in Limpopo oorlede is, wat die dodetal weens dié siekte in Limpopo op drie te staan bring.

Thilivhali Muavha, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, het Donderdag in ’n verklaring gesê 41 pasiënte in Limpopo het reeds positief getoets vir Covid-19, van wie 28 reeds van die virus herstel het. Nog tien pasiënte is tans in isolasie.

Volgens Muavha is die provinsie se jongste sterfte weens Covid-19 by die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane aangemeld. Die 76-jarige man het ’n onderliggende hartkwaal gehad en is gedurende ’n operasie aan sy hart oorlede. “Hy het ook positief getoets vir Covid-19 en daarom word sy dood as Covid-19-verwant gemeld,” het Muavha gesê.

Daar is tans geen Covid-19-pasiënte in Limpopo wat vir dié virus in ’n hospitaal behandel word nie.

‘Geen sekerheid’ dat virus uit Wuhan-laboratorium kom

Mike Pompeo praat Woensdag gedurende ‘n mediakonferensie. (Kevin Lamarque, AP)

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, het nou gesê daar is geen sekerheid dat die nuwe koronavirus in ʼn laboratorium in Wuhan, China, gekweek is nie. Dít nadat hy oor die naweek gesê het dat daar ʼn “beduidende hoeveelheid bewyse” is dat die virus uit ʼn laboratorium in Wuhan kom.

Pompeo hou egter steeds vol dat die virus in ’n laboratorium gekweek is ten spyte van ander internasionale ontleders wat aanvoer dat die virus by ’n mark in Wuhan uitgebreek het.

Volgens beoordelings onder Amerikaanse bondgenote is dit “hoogs onwaarskynlik” dat die virus in ’n laboratorium ontstaan ​​het. Die Amerikaanse intelligensiegemeenskap sê nou hulle ondersoek albei moontlikhede.

“Ons het nie sekerheid nie,” het Pompeo Woensdag gedurende ’n mediakonferensie gesê. “Daar is beduidende bewyse dat dit van die laboratorium af kom. Albei stellings kan waar wees,” het die minister gesê.

Altesaam 1 263 224 bevestigde gevalle Covid-19 is tans in die VSA aangemeld. Altesaam 74 809 mense in dié land het reeds weens die virus gesterf, terwyl 213 109 tot dusver reeds herstel het.

Dit vergeleke met die 82 885 bevestigde gevalle Covid-19 wat tot op hede in China aangemeld is. Die land se dodetal staan tans op 4 633 met 77 957 pasiënte wat reeds herstel het.

Sterftesyfer in Duitsland steek 7 000-kerf verby

Angela Merkel, die Duitse kanselier. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Meer as 7 000 mense in Duitsland het nou weens die nuwe koronavirus omgekom. Die land se dodetal staan tans op 7 275.

Altesaam 168 162 bevestigde gevalle is tot op hede in Duitsland aangemeld, terwyl 139 900 pasiënte reeds van Covid-19 herstel het.

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het Woensdag gesê Duitsland het dit deur die eerste fase van die pandemie gemaak en dat die beperkinge wat ingestel is om die verspreiding van die virus in dié land hok te slaan, nou geleidelik opgehef sal word.

Altesaam 3 836 601 bevestigde gevalle Covid-19 is in dié stadium in 212 lande aangemeld. Die virus het reeds die lewens van 265 366 pasiënte reg oor dié lande geëis.

Bykomende bronne: BBC, CNN, Worldometer

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leeuwyfie ·

Hoe word dit dan as ‘n covid19 dood opgeskryf? Dis ‘n hartoperasie wat verkeerd geloop het, nie waar nie? Hy is nie dood aan covid19 nie, hy is dood met covid19. Hoeveel ander gevalle is dit so? Hoe erg is die siekte dan?

Kosie ·

Presies Leeuwyfie, jy slaan die spyker op die kop. Ek weet nou reeds van 2 sulke gevalle, en so gaan die leuens verder voort en ons verloor ons inkomstes en werk oor die leuens.

ElizeK ·

Ek is nou toegang by twee malls geweier omdat ek n “face shield visor” opgehad het en nie n lap masker nie.
Ek het n lap masker probeer, maar omdat ek emfiseem het versmoor ek met die ding oor my mond en neus.
Met die visor haal ek baie beter asem.
Ek sou dink dit verleen ook meer beskerming as n lap masker want dit bedek selfs jou oë.
Nou ja, wat weet ek as n senior burger dan tog ook.

Tjom ·

Elke afsterwe sal nou covid forseer word om inperking te glowaardig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.