Covid-19-samevatting: Vavi uit hospitaal ontslaan

Zwelinzima Vavi van die vakbondfederasie Saftu Foto: Werner Beukes, SAPA

Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse federasie van vakbonde (Saftu), is uit die hospitaal ontslaan nadat hy positief vir Covid-19 getoets het en die naweek weens voorsorgmaatreëls opgeneem is. Vavi sterk nou tuis onder isolasie aan.

Maroela Media het vroeër berig Vavi het met sy longe en bors gesukkel voordat hy vermoedelik Sondagaand in ʼn hospitaal opgeneem is. Vavi en sy sewejarige seun het verlede week positief getoets. Dokters is egter nie bekommerd oor die kind nie.

Vavi het Dinsdagaand op Twitter bevestig sy vrou en die egpaar se ander sewejarige seun toon tans geen simptome van die virus nie. Die seuns is ʼn tweeling.

Namibië kondig nasionale biddag aan

Hage Geingob, president van Namibië, het ʼn beroep op die land se burgers gedoen om Woensdag te bid teen die verspreiding van Covid-19 in Namibië.

Biskop Sageus /Keib van die Evangelies-Lutherse Kerk sou die nasionale gebed vanuit die Staatshuis lei, terwyl verskeie ander kerke hul klokke omstreeks 12:00 sou lui.

“Alle Namibiërs wat wil deelneem, moet in geloof verenig, hulself verootmoedig en hul stemme ophef om te bid vir die beskerming en welsyn van ons land,” het Geingob gesê.

ʼn Gletser in Antarktika. Foto: Mark Brandon

Talle toets positief op skip in Antarktika

Bykans 60% van die 217 mense aan boord van ʼn Antarktika-skip wat tans aan die kus van Uruguay vasgemeer is, het positief vir die nuwe koronavirus getoets. Altesaam 128 van die 217 mense het Covid-19 opgedoen.

Ses mense op die vaartuig genaamd Greg Mortimer is reeds na hospitale in die hoofstad van Uruguay, Montevideo, geneem. Hulle is tans in ʼn stabiele toestand, het die skip se Australiese operateur, Aurora Expeditions, Woensdag bevestig.

Volgens Aurora Expeditions toon al die pasiënte wat positief getoets het in dié stadium geen simptome van die virus nie.

Die meeste mense aan boord van die Greg Mortimer is van Australië en Nieu-Seeland. Diegene wat nie positief getoets het nie, sal binnekort huis toe gevlieg word, waar hulle in kwarantyn geplaas sal word. Diegene wat wel positief getoets het, sal eers huiswaarts kan weer wanneer hul toetsuitslae negatief terugkom.

‘n Gesondheidswerker omhels ‘n kollega wat vanuit Wuhan gaan terugkeer huis toe nadat die afsondering gelig is. (Foto: Ng Han Guan, AP)

Afsondering in Wuhan gelig

Die algehele landwye afsondering in Wuhan in China is Woensdag ná 76 dae gelig. Wuhan se sowat 11 miljoen inwoners is reeds in Januarie in afsondering geplaas, nadat die nuwe koronavirus in Desember in dié stad uitgebreek het.

Die stad se openbare vervoer word weer vanaf Woensdag bedryf, met grense wat ná sowat 11 weke weer oopgestel is. Wuhan se spoorwegowerheid verwag dat meer as 55 000 passasiers die stad vandag per trein sal verlaat.

Sekere regulasies geld egter steeds aangesien verskeie Covid-19-gevalle in dié stadium nog aangemeld word. China het die afgelope paar weke egter geen plaaslike oordrag aangemeld nie.

Altesaam 81 802 bevestigde gevalle is sedert Desember in China aangemeld. Meer as 3 300 pasiënte het in dié tyd weens die virus omgekom. Meer as 50 000 van dié gevalle en meer as 2 500 van dié sterftes is in Wuhan aangemeld.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

En die twee dokters in modimole ? Kan hulle ook tuis aansterk ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.