Covid-19-samevatting: Werknemer by Zuid-Afrikaans-hospitaal toets positief

Die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Pretoria . (Foto: Facebook)

’n Werknemer by die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Pretoria het positief getoets vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

Die hospitaal het Dinsdag in ’n verklaring gesê die betrokke werknemer het sy of haar toetsuitslae Sondag ontvang. Die werknemer is intussen in selfisolasie maar nie ernstig siek nie, lui die verklaring.

Alle personeel by die hospitaal wat moontlik in kontak met die betrokke werknemer kon kom, is ook reeds in selfisolasie geplaas terwyl die hospitaal ontsmet word.

“Die hospitaal sal oop bly om gesondheidsdienste aan die publiek te lewer. Die Zuid-Afrikaans-hospitaal is verbind tot die gesondheid en veiligheid van ons pasiënte,” lui die verklaring.

Diabetes en Covid-19

Foto: Pixabay, Tesa Photography

Diabetes Suid-Afrika het intussen mense met diabetes versoek om na hulself om te sien te midde van die Covid-19 pandemie aangesien hulle meer geneig is tot infeksie sou hul bloedglukosevlakke nie goed beheer word nie.

“Hoewel ons nog inligting inwin om meer te wete te kom oor die risiko’s wat Covid-19 inhou vir mense wat met diabetes leef, dui die aanvanklike bevindings wêreldwyd daarop dat vordering tot ernstige siektes meer waarskynlik is by mense met diabetes,” het Margot McCumisky, bestuurder van Diabetes SA, gesê.

Data van die Internasionale Diabetesfederasie toon dat sowat 7% van Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 21 en 79 jaar diabetes het.

“Mense wat met diabetes leef en hul bloedglukosevlakke goed bestuur, herstel baie vinniger van ʼn infeksie en is minder geneig om komplikasies te ontwikkel,” het McCumisky gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

houopkruip ·

Volle vertroue in ZA Hosp.
Een van die beste (indien nie DIE beste) hospitale in SA.
Jammer dit moes hulle oorkom maar ek is vol vertroue dat hulle dit ten volle sal oorkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.