Covid-19-skema verleng om kleinsake te help

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Die leningswaarborgskema wat pres. Cyril Ramaphosa op 21 April 2020 aangekondig het as deel van die R500 miljard-stimuluspakket om klein ondernemings te help wat weens die Covid-19-pandemie finansieel gesukkel het, word met drie maande verleng.

Die Nasionale Tesourie het in ʼn gesamentlike verklaring met die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) gesê die leningskema is verlede jaar op 12 Mei 2020 in werking gestel.

Teen 27 Maart 2021 het banke altesaam 14 827 lenings goedgekeur ter waarde van R18,16 miljard (van die beoogde R100 miljard wat uitgeleen kon word).

Altesaam 1 787 leningsaansoeke is sedert die begin van 2021 tot en met 27 Maart 2021 ingedien. Altesaam 511 van dié aansoeke is reeds goedgekeur, maar slegs 97 aansoekers het die lening opgeneem.

Die tydperk wat die geld beskikbaar was aan banke om uit te leen, het op 11 April 2021 vir meeste banke wat deelgeneem het, tot ʼn einde gekom.

“Ná verdere konsultasie het die tesourie, die Reserwebank en Basa ingestem om die sperdatum met drie maande te verleng tot 11 Julie 2021 wat ook ʼn ordelike beëindiging van die skema vir alle deelnemende banke sal verseker.”

Aldus die verklaring was die skema nie so doeltreffend soos aanvanklik beoog is nie, omdat talle ondernemings huiwerig was om meer skuld (nog lenings) aan te gaan weens onsekerheid oor die lengte en omvang van die ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie.

“Bykomend tot die leningskema het banke ook beduidend meer ondersteuning aan kleinsake-kliënte verskaf deur hul eie balansstate. Minstens R33 miljard se betaalvakansies is tussen April en November 2020 toegestaan. Dié ondersteuning het die aanvraag na die leningskema verminder,” lui die verklaring. “Banke het ook lenings en kredietgeriewe ter waarde van miljarde rand geherstruktureer om hul kliënte te help.”

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het ook verdere ondersteuning aan ondernemings en individue gebied deur regulasies te wysig sodat premieverligting verskaf kon word aan polishouers.

Die FSCA het ook die raad van trustees van aftreefondse en werkgewers in finansiële nood aangeraai om toepaslike verligting te bied wat betref pensioenfondsbydraes.

“Die nasionale tesourie monitor steeds die impak van die Covid-19-pandemie op die ekonomie en werksgeleenthede en is bewus van die uitdagings wat klein en groot ondernemings beleef – veral in dié bedrywe wat die swaarste deur die pandemie getref is. Bestaande ondersteuningsmaatreëls van die Reserwebank en die FSCA, soos uiteengesit in die begrotingshersiening van 2021, sal voortduur – onderworpe aan sekere voorwaardes en reguleringsmandate.”

Die nasionale tesourie werk saam met belanghebbendes om nog gepaste ondersteuning te ondersoek, insluitend voorstelle wat betref finansiële instellings wat nie banke is nie en ontwikkelingsfinansieringsinstellings.

Verdere navrae oor leningsaansoeke kan gerig word aan individuele banke wat aan die skema deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Hahaha…daar is reeds duisende klein besighede bankrot en alles agv een ding: julle regulasies wat net aanhou voortsleep. Nou bietjie laat maat, as julle pampoene iets wil doen skap AL die regulasie onmiddelik en vervolg die wat dit ingestel, afgedwing en ondersteun het persoonlik.

Fedup ·

Please correct me if i’m wrong.
Small business owners had to either let go people, reduce salaries or close down.
Now, exactly who and what will be helped?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.