Covid-19: Stad Tshwane loop deur

(Foto: DA/Twitter)

Stad Tshwane het gesê meer as 15 van sy geboue is die afgelope twee weke tydelik gesluit ná personeellede positief vir Covid-19 getoets het. Van dié munisipale geboue is in die proses weer heropen en van die personeellede het ook reeds van die virus herstel.

Die Tshwane-metropolisie-afdeling (TMPD) het Woensdag ook aangekondig dat ʼn vierde beampte positief vir die virus getoets het.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die jongste slagoffer, ʼn vrouekonstabel, het haar toetsuitslag Dinsdag gekry nadat ʼn kollega ook positief vir Covid-19 getoets het. Dié vrou is in die hospitaal opgeneem.

Die geraakte beamptes werk in die Mercedes-Benz-gebou in die Pretoriase middestad wat ook die metropolisie se spesialiseenhede huisves. Die metropolisie se oproepsentrum is in dieselfde gebou geleë.

Mahamba het gesê die gebou sal tot minstens Vrydag gesluit wees vir ontsmetting.

“Dit volg ná drie ander lede van die metropolisie verlede week positief vir die virus getoets het. Dit sluit in twee vrouebeamptes en een senior mansbeampte,” sê Mahamba.

Twee weke gelede het die Stad, onder beheer van hoofadministrateur Mpho Nawa, ʼn intensiewe Covid-19-veldtog begin, met die oog op gebiede wat as brandpunte beskou word waar massatoetse van die inwoners gedoen is. Die veldtog het twee weke gelede in die Bloed Street-winkelsentrum in die Pretoriase middestad begin en is verlede week in die Sunnypark-sentrum in Sunnyside voortgesit.

“Die mense van Tshwane het goed saamgewerk sedert die instel van die afsonderingstydperk in ʼn gesamentlike poging om die virus te bekamp,” het Nawa gesê.

Nawa doen ʼn beroep op alle inwoners om versigtig te wees en die nodige voorsorgmaatreëls toe te pas. “Ons wil alle inwoners vra om voortdurend ʼn gesigmasker te dra, om by die nodige sosiale afstand te hou en gereeld hande te was,” sê Nawa.

Nawa sê die Stad het water aan alle dele van die stad voorsien om te verseker dat al die inwoners behoorlike higiëne handhaaf om die verspreiding van die virus te bekamp.

Maroela Media het vroeër berig Gauteng is die nuwe episentrum van die koronavirus in Suid-Afrika met dié provinsie wat tans meer aktiewe gevalle van Covid-19 as die Wes-Kaap het. Gauteng het teen Woensdagaand meer as 20 000 (20 153) aktiewe gevalle van die virus gehad. Dít vergeleke met die Wes-Kaap se 14 837 aktiewe gevalle van Covid-19.

Gauteng het tot op hede 28 746 bevestigde gevalle van Covid-19, met 5 856 pasiënte wat reeds herstel het. Dié provinsie se dodetal staan op 149.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Massa toetse gaan massa positiewe uitslae wys . Die vraag is steeds , hoeveel mense le in die strate dood ? Geen!

johanf ·

Dit raak tyd om mense wat sonder maskers te arresteer, met ń gepaardgaande vonnis. Ek sit nou juis en kyk (my bure) na 9 werkers, ń man en sy vrou, almal sonder maskers…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.