Suid-Afrika het Sondag die eenmiljoenkerf van bevestigde Covid-19-gevalle verbygesteek.
Die land het nou reeds ʼn bevestigde 1 004 413 gevalle van die nuwe koronavirus, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Sondagaand gesê.
Altesaam 9 502 nuwe gevalle is aangemeld.
Tot dusver het 844 874 mense reeds van die virussiekte herstel – ʼn koers van 84,1%.
Mkhize het ook 214 nuwe Covid-19-verwante sterftes bevestig. Hiervan was 123 in die Oos-Kaap, 17 in Gauteng, 13 in KwaZulu-Natal, vyf in die Noord-Kaap en 56 in die Wes-Kaap. Dit bring die land se sterftesyfer op 26 735 te staan.
Volgens Mkhize is meer as 6,4 miljoen Covid-19-toetse reeds gedoen en 29 494 toetse is sedert die vorige verslag gedoen. Altesaam 54% van toetse is in die staatsektor gedoen.
Algehele sterftes | Reeds herstel | Aktiewe gevalle | |
Oos-Kaap | 6 925 | 152 963 | 6 961 |
Vrystaat | 2 152 | 54 457 | 5 162 |
Gauteng | 5 334 | 245 919 | 23 019 |
KwaZulu-Natal | 3 971 | 132 972 | 46 710 |
Limpopo | 543 | 19 385 | 2 777 |
Mpumalanga | 638 | 32 181 | 2 101 |
Noordwes | 577 | 34 376 | 3 587 |
Noord-Kaap | 377 | 22 079 | 2 414 |
Wes-Kaap | 6 218 | 150 542 | 40 073 |
26 735 | 844 874 | 132 804 |
Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagmiddag met belanghebbendes en rolspelers in die stryd teen die Covid-19-pandemie vergader en alle aanduidings is dat die huidige stand van sake tot hernieude strenger inperking vir die land gaan lei.
ʼn Aankondiging oor enige verskerping van maatreëls moet egter nog gedoen word.