Covid-19: Suid-Afrikaners toenemend honger, gespanne

(Foto: Nick Fewings)

Tot 75% van Suid-Afrikaners is bereid om hul menseregte prys te gee om die verspreiding van die nuwe koronavirus te stuit, maar al hoe meer mense dui aan dat hulle toenemend honger ly, asook gereeld gespanne en bang voel.

Luidens ʼn studie van die Universiteit van Johannesburg wat tussen 13 April en 11 Mei saam met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) gedoen is, glo 22% van mense die afsonderingsregulasies is nié te streng nie, terwyl 42% glo dit is gepas.

Die studie is gedoen om mense se menings oor die ekonomiese, maatskaplike en politieke uitwerking van die koronavirus op hul alledaagse lewe te bepaal, maar is onderneem voordat Suid-Afrika Maandag na vlak 3 van die afsonderingsregulasies oorgeskakel het. Meer as 12 000 mense het aan die studie deelgeneem.

Tot 82% van deelnemers glo dat mense die koronavirus nie ernstig genoeg opneem nie en sowat die helfte van respondente glo die ergste is nog op pad. Net sowat 18% van mense glo sake gaan begin verbeter.

Die navorsers het bevind Suid-Afrikaners is toenemend bekommerd oor hul geldsake en die uitwerking wat die Covid-19-pandemie en gepaardgaande afsonderingsregulasies daarop het.

Sowat 87% van mense is uiters bekommerd oor die uitwerking van die pandemie op die land se finansiële situasie, terwyl 85% ook uiters bekommerd oor hul eie finansiële welstand is. Tot 35% van mense het aangedui dat hulle selfs voor die afsonderingstydperk werkloos was – Suid-Afrika se werkloosheidskoers stem hiermee ooreen – en 13% van respondente het gesê hulle is sedertdien afgelê.

Teen 11 Mei het net 3% van mense aangedui dat hulle van die huis af kon werk en net 4% van mense sê hulle kon nie werk nie en dat hul werkgewer ʼn eis namens hulle by die regering se tydelike verligtingsfonds (Covid-19-TERS) ingedien het.

Maroela Media het vroeër berig volgens die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het hy teen 21 Mei voordele van sowat R14 miljard deur 195 000 werkgewers aan 2,5 miljoen werkers betaal.

(Foto: Christel Cornelissen)

Die navorsers sê 60% van mense het aangedui dat hulle tans sukkel om hul finansiële verpligtinge na te kom en tot 38% van mense gaan slaap honger.

Mense het ook aangedui dat hulle bang (45%), gespanne (60%), depressief (33%), eensaam (29%) en gefrustreerd of geïrriteerd (35%) voel.

Diegene wat aan die studie deelgeneem het, is oënskynlik nie veel gepla deur die verbod op sigarette en drank nie. Altesaam 19% van mense het gesê hulle sal die opheffing van die verbod op die verkoop van sigarette steun en net 11% het aangedui dat hulle die verbod op die verkoop van drank sal steun. Laasgenoemde verbod is Maandag opgehef.

Diegene wat aan die peiling deelgeneem het, was eerder ten gunste daarvan dat kospakkies uitgedeel word aan almal wat dit benodig (73%), gratis selfoondata uitgedeel word (50%) en WVF-voordele aan stukwerkers en ander werkers in die informele bedryf betaal word.

Net 18% het gesê hulle sal ʼn voorstel steun dat “ryk mense” swaarder belas word.

Meer as die helfte van mense het aangedui hulle dink pres. Cyril Ramaphosa kwyt hom goed van sy taak en ondanks klagtes van wreedheid teen die polisie en weermag wat ontplooi is om die afsonderingsregulasies af te dwing, dink amper 30% van mense wetstoepassers doen goeie werk.

Altesaam 90% mense het gesê hulle het nog geen direkte teistering, konflik of geweld deur lede van die polisie en weermag ondervind nie. Die meeste mense (77%) is tot dusver tydens die afsondering nie eens deur die polisie of weermag voorgekeer nie.

Oor die studie:

Die aanlyn studie is op die datavrye Moya Messenger-app gedoen wat tans deur vier miljoen mense in Suid-Afrika gebruik word. Enigiemand met ʼn selfoon kon die peiling ontvang en daarop reageer, selfs al het hulle geen beskikbare data nie.

Die toepassing word grootliks deur swart en bruin mense jonger as 40 jaar oud gebruik. Die navorsers het ʼn skakel na die peiling ook op ander mediaplatforms beskikbaar gestel om die menings van minderheidsgroepe wat onderverteenwoordig op Moya Messenger is, te vra.

Dit is in drie fases (13–18 April, 18–27 April en 27 April–11 Mei) gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Barbara ·

Die mense is bekommerd oor hul eie finansies, maar kyk net hoe besig was die drank winkels Maandag. As jy geld het vir drank het jy geld vir kos, klere en skuld ook dis immers wat eerste kom.

PieterP ·

Laay die kompetisie kommissie bietjie ondersoek instel na die belaglikke toename in pryse in al wat winkel is! Tussen 5 en 10 Rand duurder vir menige items dit terwyl die vervoerkostes drasties laer was. Almal is besig met uitbuiting!!! Supply and demand se dinges. Van kruideniers tot hardeware. Almal skelm as jy sou wou weet

Johann ·

Daar kom ‘n tyd waar mense net heeltemal gaan ingee en oorgee ( die sogenaamde ‘wanhoopsposisie’ gaan inneem ) – die situasie waarvoor hierdie korrupte regering werk. As mense uit moedeloosheid net opgee kan hulle die res van hulle diaboliese planne uitvoer. Die land is gestroop – nou gaan hulle die pensioene vat – hoe laag kan jy daal??! Ek lek enige van hulle om dit met enige denkbare redenasie te regverdig! Maar hou nou aan om met ‘n dun grassie in ‘n leeu se ‘oor‘ te krap – dit kan hopenlik die ‘padda’ noop om uit die ‘pot’ te spring! Mens kan nie help om met ‘n haat vervul te raak wat jou innerlik wil verteer nie – dit geld ook vir meeste van die hele bevolking wat so gaan voel, as jou pensioengeld skielik verdwyn en jy letterlik niks het om van te lewe nie. DIT KAN MOS NIE SOO AANGAAN NIE!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.