Covid-19: Verpleegsters vertel vanuit waakeenheid

Verna Collins en Judith Parenzee (Foto: Facebook/ Heroes of Grootte Schuur)

“Ons neem voortdurend nuwe pasiënte op. Dit hou net aan en aan …”

Só skryf twee verpleegsters wat tans in die waakeenheid vir Covid-19-pasiënte by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad werk, in ’n inskrywing op sosiale media.

Verna Collins en Judith Parenzee vertel in dié inskrywing dat daar voorheen slegs ses hospitaalbeddens in die betrokke waakeenheid was. In dié stadium is daar drie keer soveel hospitaalbeddens wat ’n aanduiding is van hul werklas te midde van die Covid-19-pandemie.

Tot dusver het meer as 53 000 mense in die Wes-Kaap positief getoets vir Covid-19, verreweg die meeste in die land.

“Ons werk 12 uur lank. Ons word soggens 05:00 wakker, kom 06:30 hier aan en gaan saans 19:30 huis toe. Ons werk in​​ normale omstandighede Maandae en Dinsdae waarna ons Woensdae en Donderdae af is om weer die naweek te werk. Maar nou is daar net géén personeel nie. So, nou vra hulle dat ons ook op een van ons af dae werk.

“Ons is almal ouers, ons het almal gesinne vir wie ons moet sorg. Hierdie plek steel baie by jou. Ons is emosioneel gedreineer,” verduidelik Collins en Parenzee.

“Die ding wat ek nie kan hanteer nie, is dat die families nie betrokke by die pasiënte kan wees nie – veral as hulle op hul einde is. Hoe kommunikeer jy dít?” lui die inskrywing.

Collins en Parenzee vertel dat Covid-19-pasiënte se families glad nie by hulle in die waakeenheid toegelaat word nie en dat die meeste pasiënte deur middel van video-oproepe met hul geliefdes kommunikeer.

“As dit goed gaan met die pasiënt is dit goed, want dan kan die familielede ten minste vordering sien, maar wat as hulle dood is? Hoe bel jy dan die gesin? Die gesin wil hul familielid sien. Jy kan ook vir die gesin sê dat die pasiënt geventileer is of dat die pasiënt onder verdowing is, maar om fisiek ’n foto te ontvang en al die buise te sien … hulle herken nie eens die persoon wat daar lê nie. Dít is die slegste deel,” skryf die twee.

Albei erken ook dat daar eenvoudig nie tyd is om ’n pasiënt te leer ken nie. “Dit is soos ’n masjien. Jy werk van bed tot bed en dan gaan jy terug na die begin. Dit wat ons as verpleegkundiges as normaal beskou het en die kontak wat ons met pasiënte gehad het, is nie meer daar nie, want jy sal nie deur die dag se werk kom nie,” lui die inskrywing.

Volgens Collins en Parenzee kan die pasiënte boonop nie met hulle kommunikeer nie, aangesien die meeste verdoof word. Dit word gedoen om hul longe te beskerm, word daar in die inskrywing verduidelik.

Collins en Parenzee verwag ook nie dat die swaar werklas gou iets van die verlede gaan wees nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willem ·

Ons waardeer julle verpleeg personeel en dokters baie. Weet dit harde werk maar die meeste mense sien dit raak. Sterkte vir julle

katerinadiekat ·

Ai ek voel jammer vir die dames, ek kan my indink dat dit uitmergelend is. Respek en dank aan hierdie toegewyde engele. Big big hugs to you both, ladies!

Beatrix ·

Dit is verskriklik. Ons dink aan die mense wat moet vasvat in die voorste linies in die tydperk. Covid trap onherstelbare spore in party mense se lewens. Wens net almal wil die erns van die situasie besef en saamwerk. Te veel mense is nog ‘ignorant’ en ‘self entitled’. Eintlik die grootste pandemie van ons tyd….

antieke antie ·

sterkte aan elke mediese persoon vir die opofferings om die siekies te verpleeg.

Dals ·

Baie dankie vir julle diens. Duisende mense is afhanklik van julle. Dit is ongelooflike moeilike tye maar dit sal weer beter gaan. Staan sterk en hou so aan .

Ek bid vir julle in hierdie moeilike tyd.

Sarel ·

Te mon Kridiet word vir hierdie betoep asook vir die Welsynswerkers gegee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.