Covid-19: Vertraging in toetsuitslae kwel

Foto: (Chinatopix Via AP)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdagoggend gesê pasiënte ervaar ’n vertraging in resultate op hul Covid-19-toetse as gevolg van ’n logistieke probleem wanneer monsters na en van laboratoriums vervoer moet word. Sommige pasiënte moes reeds so lank as tien dae wag om te hoor of hulle Covid-19 het.

Die vraag onstaan nou of die departement van gesondheid se statistieke oor die aantal bevestigde gevalle in Suid-Afrika akkuraat kan wees indien daar ʼn agterstand in resultate is.

’n Vrou van KwaZulu-Natal vertel aan Maroela Media dat haar tienjarige kind al Vrydag vir Covid-19 getoets is nadat sy verlede week simptome soos koors en hoofpyn begin toon het. Teen vanoggend (Woensdag) het sy steeds nie die resultate van haar kind se toets ontvang nie.

“Die statistieke kan dan mos nie akkuraat wees as die resultate ses dae agter is nie. Waar staan ons dan regtig?” Dié vrou is een van verskeie Maroela Media-lesers wat soortgelyke vertragings by Maroela Media aangemeld het.

Volgens die vrou toon haar kind reeds beterskap en is sy dus oortuig daarvan dat die resultate negatief gaan terugkom. Haar gesin moes nietemin sedert verlede week noodgedwonge tuis in kwarantyn bly totdat die resultate bekend is. “Dit is ’n uitdaging aangesien my man se beroep van só ʼn aard is dat hy nié van die huis af kan werk nie. Hy verloor dus in dié stadium kommissie waarop die gesin maandeliks staatmaak,” verduidelik sy.

(Foto: Leon Lestrade/ANA)

Volgens Mkhize is meer as 12 000 toetse reeds gedoen. Hy meen dié getal is ’n goeie begin vir die bekamping van die virus. Die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) het aangedui dat meer 15 000 toetse reeds uitgevoer is. Volgens Mhize laat al meer mense hulself ook daagliks toets.

Die minister sê egter die departement sal nooit kan weet of almal getoets is wat getoets moes word nie. Dít omdat daar bloot te min toetstoestelle en toerusting beskikbaar is.

Mkhize sê meer toetse behoort plaaslik gedoen te kan word. Dit sal wel nou ’n tyd neem om toetstoestelle te bekom aangesien alle vlugte gestaak is. Hy verwag egter dat die departement se vermoë om pasiënte vir Covid-19 te toets reeds teen volgende week sal verbeter. ’n Toets neem sowat drie uur om uit te voer.

Mkhize sê ook dat toetse in die private sektor te duur is. Volgens Mkhize is sowat 10 000 van die toetse wat reeds gedoen is by private laboratoriums verwerk. Pasiënte kan tot R 1 400 betaal om hier getoets te word. Hy sê mense is nie bereid om weer R1 400 te betaal om te bevestig dat hulle virusvry is nadat hulle herstel het nie.

Mediese personeel by die Jinyintan-hospitaal (Foto: Chinatopix/AP)

Volgens die Maroela Media-leser waarna hierbo verwys is, dra die koste verbonde aan die toets juis by tot die gesin se finansiële verknorsing wat deur die vertraging van die resultate veroorsaak is. Volgens die vrou moes sy R 2 500 betaal om haar kind te laat toets. Dit sluit in die toetstoestel wat sowat R990 kos, ’n dokter se konsultasiefooi asook die fooi wat sy moes betaal om by die ongevalle van ’n private hospitaal behandel te word. Die gesin behoort nie aan ’n mediese fonds nie.

Volgens Mkhize behoort die private sektor nié soveel geld vir ’n toets te vra of wins daaruit te maak nie, sodat al meer mense hulself kan laat toets. Toetse kan egter steeds net op diegene uitgevoer word wat simptome toon of in kontak was met iemand wat reeds positief vir Covid-19 getoets het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

4ntj13 ·

Watse ondersteuning gee NDoH aan die privaat labs wat ons toets kapasiteit soveel verbeter het? Hoeveel van die positiewe gevalle in elke provinsie dra hulle? Kan die koste vir NHLS nie ook aan die privaat labs gesubsideer word nie? Of ten minste aan positief-getoetste pasiënte terugbetaal word nie? Of tel daardie “gunsies” net vir NICD wat te onvoorbereid was om die getalle te kon hanteer nog voordat alle provinsies al deel was van die krisis?

Anel ·

En dan sê hulle hulle is gereed vir die nasionale gesondheid sorg. Moennie dat ek lag nie. Hier bewys ‘n virussie hulle heelteaml verkeerd!

Okmardom ·

So dws dat die daaglikse statistiek wat ins sien, gladnie die werklike is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.