Covid binnekort soos griep – WGO

(Argieffoto: Unsplash)

Die Covid-19-pandemie kan vanjaar sodanig bedaar dat dié virus bloot ʼn soortgelyke bedreiging as griep vir pasiënte inhou, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Vrydag gesê.

Die WGO is vol vertroue dat hy iewers vanjaar nog ʼn einde aan die openbare gesondheidsnoodsituasie sal kan aankondig. Die uitlating volg drie jaar en vyf dae nadat die WGO Covid-19 op 12 Maart 2020 tot ʼn pandemie verklaar het.

“Ek dink ons gaan binnekort daardie punt bereik waar ons op dieselfde manier na Covid-19 kan kyk as na seisoenale griep,” het Michael Ryan, direkteur van noodgevalle van die WGO, vroeër vandag tydens ʼn mediakonferensie gesê.

“ʼn Bedreiging vir gesondheid en ʼn virus wat sal aanhou doodmaak, maar ʼn virus wat nie ons samelewing of ons hospitaalstelsels sal ontwrig nie. Ek glo dit sal vanjaar gebeur.”

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het op sy beurt gesê die wêreld is nou in ʼn baie beter posisie as te eniger tyd tydens die pandemie.

“Ek is vol vertroue dat ons vanjaar sal kan sê dat Covid-19 verby is as openbare gesondheidsnoodgeval van internasionale kommer.”

Die WGO het ʼn openbare gesondheidsnoodgeval van internasionale kommer – die hoogste vlak van alarm – destyds op 30 Januarie 2020 verklaar toe daar buite China nog minder as 100 gevalle was.

Daar is in daardie stadium ook nog geen sterftes aangemeld nie.

“Ons het destyds ʼn wêreldwye gesondheidsnoodgeval verklaar om lande aan te spoor om beslissende stappe te doen, maar nie alle lande het nie,” het Ghebreyesus vroeër vandag gesê.

“Dit is drie jaar later en daar is byna sewe miljoen sterftes weens Covid-19 aangemeld hoewel ons weet dat die werklike aantal sterftes baie hoër is.”

Die weeklikse aantal bevestigde sterftes was oor die afgelope vier weke vir die eerste keer laer as toe Covid-19 die eerste keer as ʼn pandemie beskryf is.

Ghebreyesus het egter vandag gesê meer as 5 000 sterftes per week is 5 000 te veel vir ʼn siekte wat voorkom en behandel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.