Covid-pandemie enorme terugslag vir stryd teen TB

‘n Navorser by die Universiteit Stellenbosch se afdeling molekulêre biologie en mensgenetika. (Foto: US)

Daar was verlede jaar ʼn beduidende afname in tuberkulose-gevalle (TB) – nie omdat die siekte verdwyn het nie, maar omdat soveel minder mense weens die Covid-19-pandemie daarvoor getoets is.

Prof. Gerhard Walzl, hoof van die afdeling molekulêre biologie en mensgenetika van die Universiteit Stellenbosch (US), sê aanmeldingskoerse vir TB het verlede jaar met tussen 25% en 50% gedaal.

Die Covid-19-pandemie het boonop die verwesenliking van die Verenigde Nasies (VN) se doelwit vir die uitroei van TB met ʼn geraamde vyf jaar teruggesit. Volgens navorsers van die Immunologienavorsingsgroep van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, is daar ten spyte van die reuse‑uitdagings van die pandemie steeds ʼn dringende behoefte om TB-dienste en -navorsing te prioritiseer.

Sowat 10 miljoen mense kry elke jaar TB. In 2019 het 1,4 miljoen mense daaraan gesterf – die negende grootste oorsaak van sterftes wêreldwyd. Daar is elke jaar sowat 500 000 nuwe gevalle in Suid-Afrika en bykans 60 000 mense het in 2019 daaraan gesterf.

Gedurende die Covid-19-inperkings wat verlede jaar ingestel is, is TB-dienste egter beperk, sê navorsers. Daar was ook minder toegang tot vervoer na gesondheidsfasiliteite, wat beteken minder mense is getoets of het behandeling ontvang.

TB is boonop aansteeklik en diegene wat nie weet hulle het die siekte nie, kan ander besmet.

“’n Enkele TB-geval kan 10 tot 15 mense per jaar besmet. Hierdie mense sal waarskynlik eers vir toetse gaan wanneer hulle baie siek word. Teen daardie tyd sal hulle ʼn groter bakterielading hê en meer aansteeklik wees,” sê Walzl.

“Die verhoogde oordrag sal oor ʼn jaar of wat manifesteer. Dit het dus die potensiaal om ʼn reuse-uitwerking op die doelwit van TB-uitwissing te hê.”

Prof. André Loxton, adjunkdirekteur van die Mediese Navorsingsraad (MNR) se Sentrum vir TB-navorsing, sê die Stop TB-vennootskap het verlede jaar al geraam dat die VN se doelwit om TB teen 2030 uit te roei, met jare teruggesit is.

Finansiering van navorsing bekommer

Die afsonderingsmaatreëls en die kanalisering van hulpbronne om die Covid-19-pandemie te help stuit, het ook ʼn uitwerking op TB-navorsing gehad en navorsers moes kreatiwiteit en vindingrykheid aan die dag lê om projekte aan die gang te hou.

Walzl sê die meeste van hul navorsing kan danksy internasionale subsidies gedoen word.

“Hierdie projekte het streng spertye en spesifieke resultate word vereis. Om daarvan weerhou te word om deelnemers in gesondheidsorgsentrums te sien, het ʼn ernstige rimpeleffek gehad. Die verlies van toekennings weens ʼn onvermoë om ons teikens te haal, gaan ʼn groot impak op die groep hê.”

Die meeste personeellede word byvoorbeeld danksy subsidies betaal, sê hy.

“Hulle is hoogs opgeleide individue met vaardighede wat ten duurste bekom is. Om hulle te verloor sal ʼn verwoestende uitwerking hê op ons vermoë om te funksioneer en sal jare van die bou van kapasiteit en infrastruktuur vernietig.”

Danksy onderhandelings met finansiers en ʼn uitgebreide fokus om Covid-19 ook in te sluit, kon die projekte wel voortgesit word.

Uitwerking van Covid-19 op TB

Walzl sê dit is belangrik om die uitwerking van Covid-19 op TB behoorlik te begryp.

“Vroeë navorsing het daarop gedui dat mense met latente TB swak uitkomste kan hê as hulle Covid-19 kry. Die immuunreaksie op TB en Covid-19 verskil en ons het nie geweet wat die uitwerking van Covid-19 op TB-behandelingsuitkomste sou wees nie.”

Navorsing word gedoen om TB vroeg saam met Covid-19 te diagnoseer en vrae sluit in of TB- versorgingspunttoetse, wat immuunstelsel-proteïenmerkers meet, valse positiewe resultate in die teenwoordigheid van Covid-19 lewer, asook om die impak van besmetting met Covid-19 op die uitkoms van TB-infeksie en -behandeling te verstaan.

Loxton sê hulle het ook gereageer op versoeke van finansiers om Covid-19-navorsing te onderneem en navorsers het gekyk na hoe hulle Covid-19 tot binne die TB-ruimte kon bring; hoe hulle hul kennis en ervaring kon toepas op ʼn nuwe bedreiging.

Al het Covid die TB-stryd verder na die agtergrond verskuif, het dit ook wêreldwye interafhanklikheid beklemtoon en gewys dat sommige probleme nie deur geïsoleerde kolle navorsing opgelos kan word nie.

“Daar is ʼn groter bewustheid van potensiële epidemies en die behoefte om vinniger met aangepaste, vaartbelynde reaksies te reageer. Daar is tegelyk groter skeptisisme en waninligting oor gesondheidsorg, wat ʼn impak sal hê op mense se gewilligheid om hulp vir siektes soos TB te soek,” sê Walzl.

TB word boonop steeds as ʼn probleem van die ontwikkelende wêreld beskou en TB-navorsing kry maar ʼn breukdeel van die finansiering wat ander siektes soos MIV/vigs ontvang.

“Ons moet dit verander,” sê Loxton.

“Ons het groter projekte nodig wat vinniger beweeg om meer sensitiewe, spesifieke diagnostiese toetse, nuwe middels en meer entstofopsies te ontwikkel. Ons het politieke wil, fondse en samewerking van alle belangegroepe nodig.

“Hopelik kan die momentum wat deur Covid-19 geskep is, ook vir TB gebruik word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanCzu ·

“n Enkele TB-geval kan 10 tot 15 mense per jaar besmet.” ‘n Enkele covid19 geval kan 10 tot 15 mense binne ‘n dag besmet.

Oomniklaassevriend ·

Wees dankbaar. Indien TB dieselfde besmettingskoers as Covid sou hê, was die sterftesyfer honderde per jaar.

dr. Petronella ·

Ek stem saam: TB navorsing is lewensbelangrik. Covid, met n 95% herstelsyfer kan geensins daarmee vergelyk word nie. Miljoene mense sterf daaraan per jaar. In 2019 het +-60 000 mense in Suid-Afrika daaraan gesterf”.
Covid het 85000+ sterfgevalle in ‘n jaar en 6 mnde waaronder TB, Kanker, HIV, ens. as covid-verwant by covid sterfgevalle getel is.
Ek hoop werklik daar sal genoeg fondse vir TB navorsing wees om die belangrike werk voort te sit.

Nie Verbaas ·

Covid 19 het nie die doelwit met 5 jaar teruggesit nie. Die onbevoegde ANC regering het die doelwit laat gly soos alles waaraan hulle raak.

annie ·

Finansiering vir tering-navorsing is gering. Maar SA gaan grooot vir entstof-vir feitlik has been covid met ge-pledge-de resepte. Die ANC is werklik uit voeling wat die werklikheid.

Frank John ·

As die WHO soveel moeite met TB doen soos met Covid kon hulle al teen die tyd seker al ‘n entstof daarteen gehad het.

Francois Le Cochon ·

TB behandeling kos die staat R45,000 per persoon vir 6 maande behandeling. Iemand maak hier wins!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.