Crimen injuria-verhoor van polisiehoë begin uiteindelik

Sandra Malebe-Thema. Foto: Facebook

’n Saak teen ’n senior-offisier van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat nou al vir sewe jaar sloer, het uiteindelik in die Thembalethu-streekhof in die Wes-Kaap begin.

Genl.maj. Sandra Malebe-Thema word aangekla van sewe klagtes van crimen injuria nadat sy na bewering verskeie wit polisiebeamptes by die Oudtshoorn-polisieopleidingskollege verneder en hulle menswaardigheid aangetas het. Malebe-Thema het skuld ontken toe die saak op Dinsdag, 7 November begin het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag op namens Riana Stander (voorheen Viviers). Stander is een van die klaers in hierdie saak en het Dinsdag getuig oor die voorvalle wat in November 2016 plaasgevind het. Stander het sedertdien die polisiediens verlaat as kaptein met 27 jaar se ervaring.

Sy het getuig dat personeel van die kollege almal in ’n saal moes bymekaar kom waar Malebe-Thema en ander bestuurders hulle ingewag het. Malebe-Thema het volgens Stander al die instrukteurs gevra om op te staan waarna sy gesê het dat sy nie hou van wat sy sien nie aangesien die prentjie “te wit” is. Malebe-Thema het na bewering gesê dat Stander en die ander nie transformasie wil ondersteun nie en toe bygevoeg “julle is te wit”. Stander het aan die hof gesê dat hierdie stelling die indruk geskep het dat sy en die ander instrukteurs rassisties was. Malebe-Thema het verder valslik gesuggereer dat die instrukteurs poste beklee wat beter vergoeding ontvang terwyl swart personeel poste beklee wat laer vergoed word.

Stander het verder getuig dat sy en die ander personeel later dieselfde dag opdrag gegee is om terug te keer na die saal waar hulle op die verhoog voor 450 polisiestudente moes staan. Volgens Stander het Malebe-Thema haar en die ander personeel voor die juigende studente berispe oor hulle kleredrag. In ’n stadium het Malebe-Thema na bewering Stander se voorkoms gekritiseer en vir haar gesê, “kyk hoe lyk jy, jy is vet, hoe kan jy vir jouself kyk”.

Stander het getuig dat sy begin huil het en dat sy verkleineer gevoel het voor die studente omdat sy beoordeel was op haar voorkoms en nie haar vermoë as instrukteur nie. Twee verdere klaagsters, kaptein Ronel Blignaut, wat 30 jaar diens in die SAPD het, en voormalige instrukteur Tanya Kennedy, het Stander se getuienis bevestig. Kennedy, ’n 37-jarige SAPD-veteraan, het getuig hoe sy aan post-traumatiese stresversteuring ly as gevolg van die openbare vernedering wat sy moes verduur aan die hand van Malebe-Thema. Getuienis is tot Donderdag, 9 November, aangehoor.

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat dit teleurstellend is dat die saak so lank moes neem om aangehoor te word. “Dit was eers nadat die privaatvervolgingseenheid ingetree het dat die saak op die rol geplaas is en, ietwat teësinnig, tot ’n vlak gebring is waar die saak uiteindelik vervolg kon word. Ongeag of jy ’n konstabel of ’n generaal is, almal moet gelyk wees voor die reg. Malebe-Thema is nie ’n uitsondering nie, so ons is verheug dat hierdie saak uiteindelik op die rol geplaas is en dat sy tot verantwoording gebring kan word.”

“Hierdie toegewyde polisievroue moes ontsaglike vernedering verduur na bewering aan die hand van Malebe-Thema. Al draai die wiele van geregtigheid hopeloos te stadig sal ons aanhou om hierdie saak te moniteer ten einde te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Bateman.

Die saak is uitgestel tot 25 Junie 2024.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Henry ·

Ek hoop sy word hard gestraf. Sulke mense soos sy hoort nie in ons land nie

Danie ·

Ek hoop ook so.Maar die ding gaan beskerm word.Daar baie skelm maniere om uit so n saak te kom.Praat van ondervinding.

Jannie van Niekerk ·

En waarskynlik Generaal geword weens regstelende aksie en nie bevoegdheid nie

Wondermaarnet ·

Ek wonder of haar kwalifikasies ooit nagegaan is toe die bevorderings plaasgevind het.

Jaco ·

Jip. Inderdaad. Nog nie eendag die binnekant van ‘n patrolliemotor gesien nie. Ook nooit opleiding in een van die SAPD kolleges ontvang nie.

Jaco ·

Begin na so ‘n lang tyd, net om uitgestel te word tot Junie volgende jaar…….. regtig.

Papsak ·

Regtig begin ondersoeke nou eers uiters swak moes al lankal begin het en moes al almal toegesluit gewees het hulle hoort nie on die land nie en ook nie in die mag nie dit. Is regtig swak

Euodia ·

Mens wil eintlik meer woorde gebruik, maar al wat kan ‘n mens kan sê as…….regtig!!!

Euodia ·

Sy praat oor daardie persoon se ‘lyf’ maar daar is duisende oorgewig SAPD lede man’s en vroue met bondels gewig waarmee hulle beswaarlik kan beweeg. Doen dringend iets daaraan !!!!!

TO ·

Dis omdat daar geen fisiese oefeninge vir hulle meer bestaan. Net eetsessies

latie ·

kla haar aan moes niks bang te wees nie en kan lekker geld kry daarvoor sy moes terug constable toe en dat by die hekke gaan werk in nag diens

Wondermaarnet ·

Hierdie arrogante vrou moet nie eers teruggaan na konstabel nie. Sy moet summier net gaan en aangekla word en boet vir haar smoel wat sy nie kon hou nie.

Elsa ·

Ek het ook al onnodig deurgeloop onder die betrokke Generaal. En dit terwyl sy glad nie in lyn was met die SAPD se dragskode nie. Praat van dubbel standaarde. Maak asb ‘n voorbeeld van haar want ons wat nog in die diens is lei genoeg onder onbevoegde bevelvoerders soos sy.

TO ·

Mooi man, nog ‘n stuiwer in die armbeurs. Jy moet ook sommer jou klag nou lê

Danie ·

Weet wat jy se.Praat jy dan sal jy voel.Een na die ander tugstappe tot jy oorgee of bedank.Die klomp sal jou lewe hel maak.Dis hoe hulle van ons ontslae raak.

Wondermaarnet ·

Stel weer uit sodat die saak dan al 8 jaar sloer. Hoe het hierdie vrou by haar rang uitgekom? Gewerk en geleer daarvoor? Ek het my bedenkinge.

SjN ·

Manie, ek glo nie hul tipe ken daai prosedures, terme en optredes nie.

Ronel ·

Sewe (7) klagtes van Crimen Injuria!
En di saak begin sewe (7) jaar na di voorval?
Op di 7de November 2023.
Now that is what I call Divine Intervention.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.