Curlewis aanbeveel vir paneel wat moet besluit oor Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: STEFAN HEUNIS/AFP)

Die VF Plus gaan voorstel dat die strafregkundige dr. Llewellyn Curlewis dien op ʼn onafhanklike paneel wat moet besluit of genoeg bewyse bestaan om pres. Cyril Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Indien die bewyse gevind word, kan die proses in die Nasionale Vergadering ingevolge Artikel 89 van die Grondwet gevolg word om die president van sy amp te onthef, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

“Die VF Plus se besluit om dr. Curlewis te nomineer, berus op sy bewese ervaring en kundigheid van Suid-Afrika se strafreg. Hy is bekend as ’n objektiewe persoon sonder politieke bande wie se besluit oor die aangeleentheid slegs op meriete en die strafreg sal berus.”

Groenewald sê dit sluit aan by die VF Plus, wat as deel van ’n forum van politieke opposisieleiers, dit eens is dat komitees in die parlement gevestig moet word om die ANC-regering verantwoordbaar te hou.

“Wat president Ramaphosa aanbetref, het ek in ’n toespraak in die parlement aangaande die Phala Phala-aangeleentheid aan hom gesê hy moet oop kaarte daaroor speel met die mense van Suid-Afrika. Die president het verkies om dit nie te doen nie. Die gevolg is nou dat ’n proses moontlik gaan plaasvind waar hy dit wel sal moet doen.”

Hy meen president Ramaphosa, wat eerder bereid was om voor die ANC se interne integriteitskomitee te verskyn, moes so ’n proses voorsien het.

“Dit is jammer dat hy eerder bereid was om die kans te waag om daardeur te gaan as om die publiek in sy vertroue te neem. Die VF Plus stem saam met ander opposisieleiers daaroor dat die uitvoerende gesag asook die president verantwoordbaar is aan die parlement en steun daarom die proses om hom oor die Phala Phala-miljoene tot verantwoording te roep.”

Verskeie opposisiepartye het vroeër onderneem om in solidariteit teen pres. Cyril Ramaphosa te staan sodat hy tot verantwoording geroep kan word vir die “ernstige aanklagte” teen hom met betrekking tot die Phala Phala-sage. Ramaphosa word daarvan beskuldig dat hy ʼn inbraak in 2020 op sy wildsplaas Phala Phala, waar diewe na bewering $4 miljoen gesteel het, probeer geheim hou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Uitstekende voorstel.
Miskien moet daar onafhanklike komitees met tande wees,, bestaande uit relevante ervare spesialiste, wat monitor of die parlement sy oorsigrol behoorlik uitvoer. Die parlementslede is mos nie direk verantwoordbaar aan die kiesers nie maar wel direk aan hul onderskeie partye. Geen wonder SA spartel en ploeter voort in die dryfsand van gierigheid,, eiebelang, ondoeltreffendheid, oneffektiwiteit en onervarendheid.

Christine ·

Nou wonder ek net as Ramaphosa skuldig bevind word, wie binne die ANC gaan hom opvolg? Ten minste is hy ‘n skatryk sakeman met privaatsektor ondervinding, maar wat gaan ons in sy plek kry?

Sobymykoolkop ·

” skatryk sakeman met privaatsektor ondervinding ” gelykstaande aan grootste tenderpreneur en BEE bevoordeelde.

Kirst ·

En dis presies waarom ek hom nog nooit vertrou het nie. Waarom sal ‘n skatryk miljarder homself in die politiek begeef en ‘n posisie met soveel druk aanvaar? Hy het nie die salaris nodig nie, so hy is daar om sy eie belange te beskerm.
Sedert hy president geraak het, het hy nog bitter min vir die land gedoen in elk geval. Al wat hy predik is eenheid in die ANC. Nes sy voorganger is die party vir hom belangriker as die land.

Manie ·

Laat ek soos volg verduidelik: Sy rykdom is sedert 1994 bekom toe hy uit die politiek gebly het en onder die dekmantel van BEE op die direksies van verskeie groot SA maatskappye gedien het en aandele ten bedrae van miljoene rande GRATIS ontvang het. Die magdom geld het hom finansiëel daartoe in staat gestel om die besigheidswêreld te kon betree. Sy rydom se ontstaan is dus by BEE.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ramaphosa bestuur die land met ‘n BEE hoed. Totaal gedoem.

Harley Davidson ·

Hoekom moet ‘n paneel besluit as dit ek was het die polisie my reeds gearesteer en aangekla .

Papsak ·

Ag hy gaan niks oor kom nie want al sy mense loop nog vry rond maar as dit wit was was hy onmiddelik toe gesluit

christo ·

Dr. Llewellyn Curlewis is uitstekend gekwalifiseer vir die taak, maar gaan dit enige doel dien? Dis ‘n kriminele saak, en elke Suid-Afrikaner weet dit, maar gaan Ramaphosa gearresteer word? Nee, want die ‘ Animal Farm ‘ storie is hier van toepassing.
Ek dink die ANC wag om van Ramaphosa ontslae te raak met die volgende ANC konferensie se verkiesing vir ‘n nuwe leier. Geregtigheid gaan definitief nie geskied nie.
Vir Jan Alleman is dit net nog ‘n bewys dat die SA regstelsel gefaal het.

Swerwer ·

Mag hierdie ondersoek tog nou afgehandel word en daar weer ‘n nuwe onderwerp oor toutrekkery geplaas kan word.

Marcello ·

Uitstekend !!! Beste keuse, om regverdigheid te laat skiet.

Kan nie vir ‘n beter persoon vra as: dr. Llewellyn Curlewis

JohanR ·

Onafhanklike paneel???? En daar val ek alweer van my stoel af van die lag. DAAR IS NIE SOE DING SOOS ‘N onafhanklike paneel in SA nie. Ek vra ook soos ander hier is die nie ‘n polisie saak, en dan ‘n hofe saak?

annie ·

Indien Zuma en meelopers betrokke was, sit ons dalk binnekort met meer Zzzz’e as somerbrommers. Dit wil lyk asof die Zoeloes ‘n aanslag gaan maak op landsbeheer en wie van hulle sal die hoofman wees? Cyril se vyande lag in hul mou want die opposisie staan nou saam teen CR. Daai wildsplaas is nou die prez se ondergang. Watter soort buffel kos iewers op aarde soveel dollars?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.