Curro maak ‘oordeelsfout’, diskrimineer nie – departement

Die foto wat sosialemediagebruikers warm onder die kraag het. (Foto: Curro)

Die beroepsdagfoto’s wat Curro gekies het om op sosiale media te plaas en waar ’n swart laerskoolleerder as ’n kassier in een van dié foto’s werk, was ’n “oordeelsfout”, het die departement van basiese onderwys gesê.

Die departement het ná ʼn voorlopige ondersoek bevind dat leerders van die betrokke Curro-skool in die Wes-Kaap vir ʼn uitstappie by ʼn aktiwiteitsentrum was waar elkeen die geleentheid gehad het om drie tot vier beroepsrolle te ervaar en verskillende beroepspesifieke toerusting te gebruik.

Verskeie foto’s is op die dag geneem, hoewel net ʼn paar uiteindelik op sosiale media gedeel is. In dié foto’s word twee wit meisies as veeartse uitgebeeld en ʼn swart meisie as ʼn kassier.

Maroela Media het vroeër berig dat die private onderswysgroep ná die plasing fel gekritiseer en van diskriminasie en rassisme deur lede van die publiek beskuldig is.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, het ook vinnig gereageer en op ʼn ondersoek na die skool se waardestelsel aangedring.

“Die oordeelsfout was om selektiewe foto’s te plaas wat sommige leerders in ander beroepsrolle uitgesluit het, waarteen lede van die publiek luidkeels geprotesteer het,” het die departement oor sy bevindings gesê.

Volgens die departement het die skool fotobewyse van verskillende kinders in verskillende beroepsrolle, wat vir ongeveer ’n week intern versprei is voordat dit op sosiale media gedeel is. Daar was gedurende dié week geen besware oor die foto’s geopper nie, hoewel die foto’s wat uiteindelik op sosiale media beland het, nou as ’n oordeelsfout beskryf word.

“Die ma van die leerder wat as ʼn kassier op die foto’s uitgebeeld is, is bewus van die saak en het haar ondersteuning vir die skool uitgespreek. Sy het die skool ook toestemming gegee om oor die voorval te praat,” het die departement gesê.

“Gevolglik werk Curro op vier kernwaardes: kindervriendelikheid, Christelike etos, kreatiwiteit en positiewe dissipline.

“In gevalle waar daar oortredings van die groep se kernwaardes is, word skuldige partye aanspreeklik gehou. In die ondersoek het Curro sy benadering van zero-toleransie teenoor diskriminasie van enige aard, veral rassediskriminasie, benadruk. ’n Voorbeeld hiervan is die afdanking van die skoolhoof by ʼn Curro-skool waar swart onderwysers ape genoem is.”

Curro het ook ʼn etiek-en-sosialetransformasiekomitee gestig. Hierdie komitee koördineer programme en veldtogte vir transformasie, insluiting en sosiale geregtigheid op alle vlakke in die skoolgroep, aldus die departement.

Curro doen ook jaarliks ​​opnames onder personeel, ouers en leerders oor sy kampusse heen om onder meer te bepaal of alle belanghebbendes ingesluit voel.

Hoewel die meeste uitslae positief is, is daar soms gevalle van nie-insluiting, waar Curro dan onmiddellik ondersoek instel en ingryp.

“Volgens die adjunk- uitvoerende beampte [van Curro] het die jongste voorval die vasberadenheid versterk om die aanbied van programme oor diversiteit en nierassigheid in Curro te verskerp, tesame met die toepaslike gebruik van sosiale media,” het Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.

“Ons is tevrede dat Curro sosiale kohesie ernstig opneem. Hul voetspoor in Gauteng se onderwysstelsel is beduidend, daarom sal ons altyd ingryp in sake wat rassediskriminasie by skole behels,” het hy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Hannes ·

By implikasie sê die “Departement”, hulle kyk neer op ‘n kassier?

Misky ·

Die storie is so uitverband geruk en almal wil weer onnodig op die rasse perd spring.

Pawiljoen Rot ·

Volwassenes wat lei aan ‘n minderwaardigheidskompleks tree erger as kinders op.

Delia ·

Ag hemel Curro, hou op om so te verduidelik. Julle het niks verkeerd gedoen. En Dept van Onderwys, bou asb skole en hou op om julle met twak besig te hou.

Aai ·

Cornel ek stem sekerlik het geen onderwyser hulle op sekere plekke gesit hulle het dit geniet en gespeel.

ES ·

Want mense spring mos vinnig to gevolgtrekkings sonder om eers die feite te hoor. Dis te maklik om deesdae “rassisme” te skree vir enigiets.

koos10 ·

Die skool in in die Wes Kaap. Wat de hel het dit met die LUR in Gauteng uit te waai. Plaas hy konsentreer op sy eie probleme in Gauteng, wat 1000 keer erger is as die uitverband gerukte fotos.

Lynette ·

Sjoe ek wens mense wil ophou om rassisme te soek waar daar niks was nie. Die kinders was besig om te speel. Hulle het tog self gekies watter beroep hulle wil volg?

Catherina ·

Arme onderwyser. Nou moet jy elke beweging v d leerders dophou! Actually ridiculous. I myself am an ex teacher…. children play with whom they want and when they want. These articles drive one insane!!!!

Marthinus Johannes ·

Hoekom alewig verskoning maak as sekere mense hul monde groot maak omdat hulle in alles rassisme sien. Julle het niks verkeerd gedoen nie. Gaan kyk in AL die winkels . Lyk vir my die regering moet AL die winkels eienaars skraap vir rassisme want Al die kassiere is swart. En dit mense beteken dat die die wet op indiensneming n rassistiese wet is (80/20) en so ook BEE want dit het DIE PROBLEEM veroorsaak. In die werksplek is dit veroorloof want dit maak die verlede reg maar op n foto is dit rassisme. ????????

Otto ·

Iets wat uitbeeld wat die realiteit is in 99,99% van kettingwinkels, moes nou soveel konsternasie veroorsaak en mag ons tog aanbeweeg van sulke kinderagtige reaksie.

Anton ·

Ek verstaan politikus was een van die opsies maar nie een kind wou die rol van n krimineel speel nie.

Jacobus ·

Hou op verskoning maak Curro. Julle rekord is uitmuntend. Terloops my moeder was vir dekades ‘n winkelassistent – werk wat sy met onderskeiding gedoen het. Die sg probleem is die ANC se rasbeheptheid!.

Grens ·

Al wat dit vir my se die een het ‘n werk en die ander een dalk nie.

Pieter francois ·

My oorlede ma was haar hele lewe lank n kasier by Ok checkers Spar dit het nie van haar n slegte mens gemaak nie. In teen deel sy het n eerlike verdien ste gemaak waarmee sy kos op die tafel gesit het

Debbie ·

Mense is te vinnig om apartheid, diskriminasie en wat nog ook uit te bring vir elke geringe dingetjie. Kom oor dit. Dis al 30 jaar en almal sit vas op dit.

JN ·

Ag siestog…die minderwaardigheids kompleks darem Ai…
Veregaande pateties verby…
Hul is kinders hul speel.
Die fout wat “Curro” maak is om verskoning te vra, daardeer se hul eintlik hul het dit aspris gedoen om n ras groep te verneder? Nonsens man..
Die lot sal tot Jesus kom soos hul sê altyd rasse spanning fout soek om moelikheid te begin!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.