DA eis LUR se kop ná debakel met skorsings

Die speaker van die Tshwane-metroraad, Katlego Mathebe. (Foto: Tshwane-metroraad)

Die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in Gauteng het ná beraadslaging besluit om die skorsing van die voormalige speaker van die Johannesburgse metroraad, Vasco da Gama, asook die speaker van die Tshwane-metroraad, Katlego Mathebe, op te skort.

Lebogang Maile het die twee, al twee DA-lede, verlede week vir onderskeidelik drie en ses maande sonder betaling geskors vir hul beweerde oortredings van die etiese gedragskode vir raadslede.

Hy het dié besluit Maandag omgekeer.

Maile, ʼn ANC-lid, het nie verder uitgebrei oor die meriete van sy besluit nie. Sy woordvoerder, Castro Ngobese, het gesê die LUR sal Dinsdag meer besonderhede daaroor by ʼn mediakonferensie bekend maak.

Mike Moriarty, die DA se provinsiale voorsitter in Gauteng, het intussen teruggekap en sê Maile misbuik sy mag gereeld. Volgens hom het Maile ook nie eens ʼn basiese begrip van wat sy oorsigrol in plaaslike regeringsake behels nie.

Die voormalige speaker van die Johannesburgse metroraad, Vasco da Gama. (Foto: Twitter)

Die DA sê hy gaan nou ʼn mosie in die Gautengse wetgewer indien waarin hy Gautengse premier David Makhura vra om Maile uit sy pos te verwyder.

Moriarty het gesê dit is ook nie genoeg dat Mathebe en Da Gama nou gelyk gegee is nie.

“Maile moet die gevolge dra. In dié verband win raadslede Mathebe en Da Gama regsadvies in om Maile te vervolg omdat hy hulle goeie naam skade berokken het.”

Moriarty meen Maile se regspan het hom sonder twyfel geadviseer dat hy die saak sou verloor as die DA voortgaan met regstappe oor die LUR se omstrede besluit. “Hy sou ontmasker word as dat hy sy mag misbruik het en dat hy ʼn grondwetlike afvallige is,” het Moriarty gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

bekommerd ·

weet enigeen in die “top strukture” wat hulle doel daar is, ons betaal deur ons nekke aan salarisse vir onbevoegde “mense”

Feite ·

Die ANC oorreageer opsetlik met die doel om skade aan te rig of om opposisiepartye en die se mense skade te berokken, omrede hulle weet dat hulle bo die wet verhewe is en nooit persoonlik aanspreeklik gehou word nie, veral nie nou dat die LUR die skorsing opgehef het. Die skade is egter reeds gedoen al was dit minimaal in hierdie geval!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.