DA hou voet by stuk oor De Lille

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, kort voordat die uitspraak gelewer is. Foto: Chantall Presence/ANA

Patricia de Lille se vreugde oor haar oorwinning Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof kan moontlik van korte duur wees aangesien die DA reeds aangekondig het dat hy weereens ʼn mosie van wantroue teen die Kaapstadse burgemeester gaan instel.

Die hof het Woensdag in De Lille se guns beslis deur te bevind dat die DA sy eie grondwet en reëls oortree het toe hy De Lille van haar lidmaatskap onthef het. Die DA het staatgemaak op ʼn klousule in die party se grondwet wat dit stel dat enige lid wat in die openbaar sy of haar voorneme aankondig om die party te verlaat, se lidmaatskap vanselfsprekend beëindig word.

Die hof het egter dié besluit onwettig en onregmatig verklaar en dit ter syde gestel.

Natasha Mazzone, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, het ná die uitspraak gesê die party sal die hofuitspraak bestudeer en verdere regsopsies, waaronder die moontlikheid van ʼn appèlaansoek, oorweeg.

Mazzone het beklemtoon dat die hof slegs na tegniese en prosedurele kwessies gekyk het en nie uitspraak gelewer het oor die meriete van die saak nie. “Die feit bly dat die Stad Kaapstad-koukus wat deur De Lille gelei is, gesê het lede het vertroue in haar leierskap verloor.

“Die koukus het dit gestel dat haar leierskapstyl verdelend en outokraties was en dit moeilik gemaak het vir raadslede om hul pligte na te kom, asook die mense van Kaapstad te bedien en dienslewering te handhaaf.”

Mazzone het gesê leierskap gaan daaroor “om die mense wat jy lei, saam met jou te neem”. Dit is daarom onmoontlik vir iemand om ʼn koukus te lei wanneer 75% van dié mense nie meer vertroue in hul leier het nie.

Daar is volgens haar steeds talle vrae oor beweerde oortredings deur De Lille wat die burgemeester nou nog nie beantwoord het nie. “Sy het eerder probeer om die publiek om elke hoek en draai te mislei en te verwar,” het sy gesê.

“Die DA verstaan hoe ʼn deurmekaar tyd dit vir die mense van Kaapstad is. Geen politieke party hou daarvan om ʼn baie openbare en morsige bakleiery met een sy burgemeesters te hê nie. Maar ons het geen ander keuse as om die hoogste standaard van leierskap van ons uitvoerende leiers te verwag nie. In teenstelling met ons mededingers, het ons die politieke wil om die moeilike goed te doen sodat ons getrou aan ons waardes bly. Ons sal nie van stryk gebring word nie.”

De Lille het ná afloop van die hofuitspraak aan African News Agency gesê sy voel die hofuitspraak het haar reg bewys. Dit is nie net ʼn oorwinning vir haar nie, maar ook vir die inwoners van Kaapstad.

“Nou kan ek teruggaan – meer as ooit vol energie om die armes, die benadeeldes en die weerloses in ons stad te dien,” het De Lille gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
johan brits

Dankie maar needankie ek sal nooit vir die DA stem nie.

Dries

En ek was onder di indruk dat net di ANC in n warboel is…

MC

As antie Pat ook nie die DA in die nuus hou nie, sal ‘n mens hulle nie meer sien nie, want ek weet nie eers of Moesie nog in die land is nie, mens hoor en sien niks van hulle nie, gewoonlik baklei hulle orals en kom nerens , dis alles net ‘n sirkus.

Raad op!!

Hoekom nie net die saak nou daar laat nie?? Fokus liewer op die belangrike kwessies waarmee Suid Afrikaners elke dag konfronteer word. Dis hierdie tipe interne werksfetes en uitsprake deur lede wat die DA net skade aandoen en laat wit en bruin stemme verloor. As ‘n jongboer van Ceres sal dit geen sin maak om vir ‘n ander party te stem as die DA nie, aangesien die ANC munisipaliteite soos ‘n seer duim uitstaan tussen die ander DA dorpe in die provinsie, maar ‘n verdeelde DA voorspel niks goed vir volgende jaar se verkiesing nie. Sort julle nonsens uit en… Lees meer »

Martie F

DA verloor al hoe meer stemme!