DA-leierskap: Steenhuisen, Zille kry opposisie

John Steenhuisen (links) en Ivan Meyer (Foto: DA)

Die leiersverkiesing tydens die DA se federale kongres in Mei gaan nie eenrigtingverkeer wees nie, met sowel die tussentydse DA-leier, John Steenhuisen, as die tussentydse voorsitter van die party se federale dagbestuur, Helen Zille, wat waarskynlik deur senior partylede teengestaan word.

Die ongewone situasie van ʼn tussentydse leier, ʼn tussentydse federale voorsitter (dr. Ivan Meyer) en ʼn tussentydse federale dagbestuurvoorsitter het in Oktober verlede jaar ontstaan toe eers James Selfe en toe Mmusi Maimane en Athol Trollip uit hul leierskapposte bedank het.

Steenhuisen, Meyer en Zille se tussentydse ampstyd duur dus net tot die federale kongres, wanneer DA-afgevaardigdes en openbare verteenwoordigers van reg oor die land oor beleid, partybestuur en leiersverkiesings sal moet besluit.

Zille gaan moontlik teengestaan word deur die DA-voorsitter in Gauteng, Mike Moriarty. Hy het dekades lange diens in DA-leiersposisies en is die party se verteenwoordiger op die invloedryke veelparty-skakelingskomitee van die Verkiesingskommissie. Ander kandidate teen Zille kan ook later na vore tree.

Moriarty het Maandagaand by navraag mediaberigte ontken dat hy reeds ‘n finale besluit geneem het om Zille te opponeer. Hy oorweeg dit baie sterk, maar sal op ‘n datum nader aan die kongres ‘n finale besluit neem.

Helen Zille (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

Steenhuisen gaan beslis vir die posisie van partyleier teengestaan word deur die Wes-Kaapse DA-leier, Bonginkosi Madikizela. Daar is tans baie sterk aanduidings dat die Gautengse DA-leier, John Moodey, ook vir die landwye DA-leierskap kan staan.

Moodey het die naweek gesê hy is genader om ʼn kandidaat te wees en hy oorweeg dit sterk.

Betroubare bronne naby aan die voormalige DA-jeugleier, Mbali Ntuli, wat tans die party se hoof verkiesingsorganiseerder in KwaZulu-Natal en ʼn lid van die provinsiale wetgewer is, het aan Maroela Media gesê die kanse is uitstekend dat Ntuli vir die leierskap sal staan.

Onder Ntuli se leiding was KwaZulu-Natal in verlede jaar se algemene verkiesing die enigste provinsie waar die DA betekenisvol gegroei het.

In hierdie stadium is daar nog nie aanduidings dat Meyer se posisie deur ʼn sterk en bekende kandidaat teengestaan gaan word nie.

Volgens die politieke ontleder Melanie Verwoerd is dit nie onverwags of ongewoon dat Zille en Steenhuisen teengestaan sal word nie.

“Dit wys dat die DA ambisieuse politici in hul midde het – en wys my die politikus wat nie ambisieus is nie. Die vraag is wie gaan wen, en watter invloed dit gaan hê op die DA se vervulling van die kardinaal belangrike rol as opposisie wat ons demokrasie so nodig het?

“Die uitslag, en die bestuur van die proses, gaan baie belangrik wees vir die DA se toekoms. Watter boodskap gaan dit stuur as Steenhuisen en Zille wen?

“Eerstens is daar ʼn rasdinamiek. Dit sal beteken dat al die saakmakende verkose leiersposisies deur wit mense gevul word, met geen swart persoon in die landswye top-leierskap nie. Hoe sal die meerderheid van die land se kiesers op sulke wit dominasie reageer?

“Tweedens sal ʼn oorwinning vir Steenhuisen en Zille die DA in praktyk noop om te besin of die party nog ʼn regerende meerderheidsparty wil word wat die ANC ontsetel, en of die DA ʼn belangeparty vir minderhede wil wees.”

Sy meen daar is ook ʼn ideologiese dimensie. “ʼn Oorwinning vir Steenhuisen en Zille sal beteken die party beweeg weg van die ideologiese veranderinge van die afgelope paar jaar en terug na Zille se ideologie,” het Verwoerd gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oujongvrou ·

Zille is die doodsklok van die DA. Baie mense is nou in die duister oor waar om volgende te stem. Koebaai swart stemme, en koebaai baie ander ook. So nou sal dit die EFF en ANC wees wat die top leiers gaan wees..Helen, jy moes by die huis gebly het en brei opgeneem het. Nou gaan jy opgeteken word as die mens wat DA laat sink het sonder dat daar eers borrels op die oppervlak was. Sies vir jou.

henndrik ·

Ek reken dit gaan geen verskil aan die DA maak nie, hulle het hulle eie gat gegrawe

quartus ·

Ek het my stem met die laaste verkiesing vir die laaste keer aan hulle geleen…nee wat..vf+ is hier vir ons belange

Magda ·

Stem was ook n DA lid – maar defnitief nie meer nie – VF sal hulle fyn dophou voor daar weer gestem moet word.

Pnina ·

Die DA is die afgelope vyf plus jaar al die definisie van kortsigtigheid. Zille was te lank leier. Sy moes vroeër al deur ‘n anderskleurige vervang gewees het. Ek like haar kwaai, maar in politiek moet jy die spel speel om te wen. Maimane was bietjie lig in die broek. Die fiasko met De Lille was… ‘n fiasko! Om nou wéér ‘n blanke leier te hê is politieke selfdood. SA het juis nodig dat die opposisie mense van kleur by die ANC weglok, maar soos die DA politiek speel, het nie-blanke mense nie ander opsies nie. Hoe dom! Wat ‘n jammerte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.