DA se ‘alternatiewe begroting’ op dié vier bene gegrond

Die DA stel sy alternatiewe begroting bekend. (Foto: X)

Die DA meen groot hervormings is nodig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie om te herstel.

“Markgerigte hervorming begin deur die struikelblokke vir groei wat deur die regering opgelê is, te verwyder. ’n Regering wat doeltreffend is om die publiek te dien, beperk regulering en fokus op die lewering van noodsaaklike dienste.

“Dít is wat ’n dinamiese, ondernemende ekonomie sal skep,” sê Dion George, die DA se skaduminister vir finansies.

Die opposisieparty het daarom Woensdag ’n alternatiewe begroting in aanloop tot minister Enoch Godongwana se begrotingsrede bekend gemaak.

Die alternatiewe begroting is gegrond op vier kernbeleidsprioriteite: Die vestiging van ʼn grondslag vir volhoubare ekonomiese groei wat werk skep; die herlewing van die elektrisiteitsektor om voortdurende kragonderbrekings te takel; die bereiking van fiskale stabiliteit deur beheerde staatsuitgawes en skuldvermindering; en steun aan kwesbare Suid-Afrikaners deur die beskerming van maatskaplike toelae.

Ekonomiese groei wat werk skep

Om veerkragtigheid te vestig en ekonomiese groei te stimuleer, stel die DA se alternatiewe begroting innoverende oplossings voor om buitelandse kapitaal te lok, binnelandse besparings aan te moedig, staatsbeheerde entiteite te laat herleef, verbrokkelende infrastruktuur reg te stel, arbeidsmarkdeelname te verbeter sowel as die uitbreiding van die kleinsake‑ sowel as grootsakesektor.

​Ligte wat aanbly

Deur die implementering van die DA se energiesektorhervormings sal die lewering van volhoubare kragvoorsiening versnel word, sê George.

Die party doen dus opnuut ’n beroep vir die ontbondeling van Eskom.

Die DA vra dat die energiesektor vir onafhanklike kragprodusente oopgestel word.

“Deur die energiesektor oop te maak, sal innovasie en vrywillige optrede die ligte aanhou en die wiele van die ekonomie laat beweeg na die groeikoers wat nodig is om dalende ekonomiese deelname te pak.”

Die DA stel sy alternatiewe begroting bekend. (Foto: X)

Fiskale stabiliteit

Die DA se alternatiewe begroting berus ook op ’n raamwerk van fiskale omsigtigheid wat die bereiking van ’n primêre begrotingsurplus prioritiseer.

“Ons fokus lê terselfdertyd die grondslag vir ekonomiese uitbreiding en werkskepping,” verduidelik George.

“Die DA se ekonomiese beleid‑suite, wanneer dit geïmplementeer word, sal die stabilisering van nasionale skuld versnel en fiskale konsolidasie bewerkstellig. Dit kan slegs bereik word deur robuuste ekonomiese groei te kataliseer wat die verwagtinge onder die huidige administrasie oortref.”

Beskerming van die kwesbares 

George wys dan daarop dat Suid-Afrika se ekonomiese klimaat ’n buitensporige las op lae-inkomste‑ en gemarginaliseerde gemeenskappe plaas. “Hul finansiële swaarkry word vererger deur wêreldwye ekonomiese wisselvalligheid en binnelandse beleid wat ekonomiese deelname belemmer terwyl die lewenskoste hoër word en huishoudings honger laat ly.”

George sê die DA se geteikende besteding en besparings, asook die implementering van die DA se beleidsraamwerk wat daarop gemik is om armer huishoudings op te hef, sal verhogings in maatskaplike toelaes beskerm.

Die DA poog verder om die sogenaamde Covid-19-toelaag in ’n werksoekerstoelaag te omskep.

Die opposisieparty se alternatiewe begroting sit verder verskeie bekostigbare voorstelle vir belastingverligting uiteen. “Gegewe die huidige lewenskostekrisis, moet brandstofbelasting en ‑heffings verminder word, en ’n uitgebreide nulkoers-BTW-voedselmandjie moet nou oorweeg word, en nie uitgestel word nie,” sê George.

“Gegewe die haglike toedrag van sake, is dit noodsaaklik dat daar onmiddellik en doelgerig opgetree word. Die mislukte ANC-regering is onwillig en kan nie optree nie.

“Ons kan Suid-Afrika se ekonomie red deur hierdie gebroke regering te verwyder. Suid-Afrika verdien ’n regering wat sy onbeperkte potensiaal kan ontsluit,” sê George.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die DA se einde is om die draai. Té veel egos en arrogante leiers.

Andre ·

…dis mooi hoe die DA hulleself besig hou, so voor die verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.