DA sê ondersoek oor tronkvideo’s moet na parlement

James Selfe. (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die DA het die ondersoek na twee video’s, wat glo wys hoe gevangenes van die Westville-gevangenis in Durban openlik dwelms gebruik en wapens by bewaarders kry, verwelkom.

“Ons vertrou dat die betrokke amptenare geskors is hangende die uitkoms van die ondersoek,” het DA-woordvoerder James Selfe Sondag gesê.

Maroela Media het vroeër berig die minister van korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het beveel dat ʼn ondersoek na die video’s so gou moontlik gedoen en afgehandel word.

Selfe het gesê sodra die verslag klaar is, moet dit aan die parlementêre portefeuljekomitee oor korrektiewe dienste voorgelê word, sodat dit behoorlik bespreek kan word. Dit is ook onwaarskynlik dat dít ʼn geïsoleerde voorval is.

Die DA sê korrupsie het geen plek in die samelewing nie, tog is dit volop in die hele tronkstelsel. Bendebedrywighede in die tronke is ook welbekend. Bendelede is goed georganiseer en koop amptenare om, wat weer die dissipline in tronke ondermyn.

“Tot die oorsaak van die probleem nie uitgewis is nie, kan ons nie eens hoop om die simptome van korrupsie op te los nie,” het Selfe gesê.

Die DA sê die minister kan nie verwag dat stelselprobleme by die departement van korrektiewe dienste gaan verdwyn net omdat hy in die pos aangestel is nie. Die party sê Lamola kan begin deur te verseker daar is streng toegangsbeheer en deursoekings by tronke – nie net vir gevangenes nie, maar ook vir amptenare.

Oudpres. Thabo Mbeki het in 2001 ʼn regterlike kommissie van ondersoek, gelei deur regter Thabane Jali, aangestel. Die kommissie moes bewerings van korrupsie, nepotisme en wanbestuur in die departement ondersoek. Die finale – en omvattende – verslag is in 2006 uitgereik en verskeie amptenare is voor stok gekry. Sedertdien het min egter nog gebeur om te verseker die tronkstelsel is korrupsievry, het Selfe gesê.

Die probleme in die stelsel is geen geheim nie en dit is ook nie moeilik om te bepaal wat gedoen moet word om te verseker tronke is plekke vir rehabilitasie, en nie misdadigheid nie, het Selfe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JP ·

Ek het ‘n geweldige probleem met die alewige ondersoeke, verslae ens, daar word verder niks daadwerlik gedoen nie, ‘n rondblaffery sonder einde en niemand byt ooit weer nie

bella ·

Ekt ook video van tronk mense i hospitaal drugs deel… toe my man in hospitaal gele her

Strandloper ·

Regtig…ek het regtig gedink hule gebruik ook want dis al wat sin maak!

Trinity ·

As die amptenare meer se het as die gevangenes kan hulle dalk hulle werk doen…

sweis ·

Geagte DA en DA aanhangers waneer word die diskriminerende wette teen minderhede verwys na die parlement of is julle minderheid kiesers tevrede dat daar teen hulle kinders gediskrimineer word dmv wetgewing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.